Mielies

Posted on August 27, 2015 by Cape Rebel


Uit Polfynties vir die proe 
deur C. Louis Leipoldt

Wat is daar heerliker, sagter en meer aptyt-lokkend as ’n jong groenmielie, behoorlik gaar, roomwit of goudgeel, met elke korrel so rond en vet asof hy op die stronk uitgebeitel is? Watter eg Afrikaanse skottel het ons wat op tafel kan wedywer met ’n Transvaalse tannie se mieliebrood? Iemand wat een van die twee, or albei, geëet het, sal die herinnering daaraan lank is sy geheue bewaar.

Moet jy jou mielie met of sonder die binneblare kook? Die Amerikaners kook dit altyd met die binneblare, wat saam met die baard verwyder word nadat die mielie gaar is. Ons manier, waaraan ek ook voorkeur gee, is om die blare af te trek, die mielie mooi van elke stukkie baard te suiwer, dit dan vir ’n paar minute in kokende water te dompel en daarna stadig te kook met ’n bietjie sout in die water.

Maria sorg dat dit nie te lank kook nie. Dit is moeilik om presies te weet waar die kook moet ophou. Te lank kook verwyder die sappigheid uit die pitte; hulle lyk dan nie meer mooi rond nie, maar amper kantig, en die een staan nie meer, soos hy behoort te doen, skouer aan skouer met sy maat nie, maar leun ’n bietjie oor, asof hy skaam is om sy plek in die ry te behou. Ek erken volmondig dat ek nog nie die kuns geleer het – wat elke ou aia skyn te besit – om mielies perfek te kook nie. Dus waardeer ek dit des te meer as ek dit op die plaas in die mielietyd teëkom, veral as dit nog van die ouderwetse “broodmielies” is.

Laat hulle in ’n vergiettes afdroog sodra hulle gaar is, sonder egter hul warmte te verloor, en bedien hulle met – nou natuurlik met niks nie. ’n Goeie groenmielie kan op sy eie pote, of pitte, staan. As daar botter op die tafel is, kan diegene wat dit op sy mielie wil smeer, daarvan gebruik maak. Maar bedien tog nie gesmelte botter in die souspotjie met jou mielies nie! Ook nie ’n gekunstelde “mieliesous” (soos ek al hier en daar teëgekom het) van botter, neutmuskaat en eierdooier nie. Die sou ’n aanstoot en ’n affrontering wees. Die smaak van ’n goed gekookte groenmielie is te delikaat en te fyn om gesny te word met enige ander smaak of geur.

En juis daarom kan jy ook geen wyn met jou mielie neem nie. Wag totdat jy behoorlik met hom afgereken het voordat jy na jou kelkie gryp.

Jy moet hom natuurlik “van die stronk af” eet. Om die pitte af te sny en met lepel of vurk te verslind – nou ja, dit is amper net so gruwelik as om hom met neutmuskaat en ’n suursous te bedien. 

17 Maart 1944

Posted in Afrikaans


Next

Previous