Die Long Range Desert Group – Seerowery op die ope woestyn

Posted on March 31, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre

 

Dit mag gedurende die tweehondred-myl reis terug na Jaghbub-oase, die Agste Weermag se voorste basis, gewees het dat David Stirling skielik inspirasie gekry het. Riley het beweer dat, op die aand toe hulle die woestyn-rendezvous bereik het en saam met Jock Lewes onder ’n dekseil gelê het, die idee by Stirling opgekom het. Seekings hou vol dat Stirling se eureka-oomblik gekom het terwyl hulle die horison vir afgedwaaldes gefynkam het. Die moontlikste bron van inspirasie was David Lloyd Owen, ’n hoogs intelligente offisier wat later die bevelvoerder van die Long Range Desert Group sou word. Maar in retrospek is die buitengewoondste aspek van hierdie idee die feit dat dit so verstommend voor die hand liggend was: as die LRDG die SAS sonder ’n probleem uit die woestyn kon kry, kon die verkenningseenheid hulle sekerlik ook na binne vervoer, en sό die gevaar en onsekerheid daarvan om in die donker by ’n vliegtuig uit te spring, uitskakel. Presies waarom hierdie skitterende goeie idee nie voorheen by iemand opgekom het nie, is een van die blywende raaisels van die SAS-storie.

Die Long Range Desert Group was die geesteskind van Ralph Alger Bagnold, soldaat, verkenner, wetenskaplike, argeoloog, sedimentoloog, geomorfoloog en die wêreld se grootste lewende deskundige op sand. Bagnold was die broer van Enid Bagnold, die skrywer van die roman National Velvet. Sy eie, minder gewilde, maar nie minder waardevolle bydrae tot die wêreldletterkunde nie, was The Physics of Blown Sand, wat aanvanklik in 1941 gepubliseer is en wat deesdae NASA se voortgesette navorsing oor sandduine op Mars nog steeds beïnvloed. Bagnold was ’n veteraan van die Somme en Ypres, ’n pionier in woestynnavorsing, nuuskierig en onverganklik. In 1930 het hy in ’n Model-A Ford in die wyd uitgestrekte groot woestyn tussen Kaïro en Ain Dalla eindeloos rondgery op soek na die mitiese stad van Zerzura. In 1932 was hy die eerste persoon wat die Libiese Woestyn van oos na wes oorkruis het. Hy het meer as 3,000 myl bestuur en is daarna ’n medalje van die Royal Geography Society toegeken. Toe het hy deur die Mourdi-laagte van Noord-Tsjad en terug na Libië gery. Hy het uitgewerk dat ’n verminderde banddruk en wyer bande die spoed oor die woestynterrein vermeerder het. Hy het ’n kondensator ontwerp wat aan ’n kar se verkoeler gekoppel kon word om te verhoed dat dit oorkook, asook staalgeute om voertuie wat in sagte sand vasgeval het, los te kry. Hy het “Bagnold se sonkompas” ontwerp, wat nie soos die tradisionele magnetiese kompas was nie, en wat nie deur deposito’s van woestynystererts beinvloed was nie en wat verder ook nie geraak was deur, in Bagnold se woorde, “veranderings in die posisies van magneties onsekere onderdele in die voertuie” nie.

Hy was so lank deur die woestynwind toegetakel, dat sy neus ’n permanente rooskleurige tint gehad het. “Nooit in ons vredetydse reise kon ons ons voorstel dat oorlog ooit die enorme leë verlatenheid van die binneste woestyn sou bereik nie, ommuur deur niks anders nie as afstand, gebrek aan water en ontoeganklike seë van sandduine”, het Bagnold geskryf. “Ons sou nooit kon droom het dat enige van die spesiale toerusting en tegnieke wat ons ontwikkel het vir langafstandreise en navigasie, ooit vir ernstige gebruik aangewend sou word nie.” Maar dit is natuurlik wat gebeur het. Nege maande ná die uitbreek van die oorlog, is toestemming aan majoor Bagnold gegee om ’n mobiele woestynverkenningsmag te vorm en as bevelvoerder op te tree. Hulle taak was om agter die Italiaanse linies te opereer: Die Long Range Patrol, later die Long Range Desert Group, is in Julie 1940 in Egipte gebore, om “seerowery op die ope woestyn” te beoefen.

Die Libiese woestyn beslaan heel meer as ’n miljoen vierkante myl van die aarde se oppervlakte, ’n area omtrent die grootte van Indië. Dit strek ’n duisend myl suid van die Middellandse see, en een-duisend-twee-honderd myl vanaf die Nylvallei tot by die berge van Tunisië en Algerië. Dit is een van die onherbergsaamste plekke op aarde en, in terme van die mensdom, een van die leegste. Die grootste deel van die oorlog in Noord-Afrika het tot op daardie stadium op ’n smal kusstrook plaasgevind, langs ’n enkel geplaveide pad digby die Middellandse see. Slegs ’n paar antieke handelspaadjies het die binneland deurkruis. Gedurende die dag kon die temperatuur sestig grade celcius bereik, en gedurende die nag tot onder vriespunt val. Die enigste water kon net in ’n paar klein oases gevind word. Dit was ’n moeilike plek om in te lewe en ’n baie maklike plek om in te sterf, maar dit het die geleentheid verskaf om oorlog op die onkonvensioneelste en ongemaklikste soort van manier te voer. In teorie was hierdie magtige woestyn ’n gebied wat aan die vyand behoort het, maar Bagnold het inderwaarheid uitgewerk dat die Italianers en Duitsers “net genoeg motortransport gehad het vir ’n radius van aksie vir ’n niksbeduidende honderd myl”. Wat oorgebly het, was Bagnold s’n. Ver van die gedagte dat die woestyn ’n onbegaanbare, vyandige wildernis was, kon die manne, met die regte opleiding en toerusting, dit oorsteek, herhaaldelik deurkruis, navigeer, verken, weggekruip, en vir ’n onbepaalde tyd in oorleef. Vir die oningewydes kom die landskap as onherbergsaam en eentonig voor, maar die skynbare plat uitgestrektheid versteek tallose laagtes, rotsagtige stroke, kranse en eskarpemente, sowel as die verraderlike seë van sagte sand. Daar was plekke wat gebruik kon word om te navigeer, as mens hulle kon raaksien.

Die algemene doel van die LRDG was om te verken, om strooptogte uit te voer, om te bepaal wat en waar die vyand aan die doen was, en om af en toe aan te val. Aanvanklik het Bagnold Nieu-Seelandse boere gewerf. Hulle was geharde buitelugmanne wat daaraan gewoond was om oor langdurige periodes in strawwe terreine te werk. Stadigaan soos die eenheid groter geword het, het vrywilligers van die Rhodesiese en Britse regimente aangesluit. Ná weke in die woestyn het die sandboekaniers onmiskenbaar roofagtig begin lyk, sportiewe Arabiese hooftooisels gedra, sandale in plaas van stewels, en bosse baarde gekweek. Toegerus met omgeboude, liggewig en swaargewapende voertuie, het die LRDG diep die woestyn ingegaan en geheime sendings agter die linies uitgevoer. Hulle het onopgemerk oor groot landstreke beweeg en die kuns van woestynkamoeflering en ontwyking vervolmaak. Die LRDG-eenhede het bedrewe daarin geword om ongesiens tot by die kuspad te glip en die bewegings van die vyandelike troepe dop te hou. Hierdie pad-dophou-maneuvers het van die belangrikste geheime militêre inligting van die oorlog verskaf. Die vyand se magte het nooit op dieselfde manier by die uitdagings van die woestyn aangepas nie. Toe Stirling die LRDG vir die eerste keer ontmoet het, was hulle die heersers van die terrein: “Dit het gelyk asof daar van die woestyn niks was wat hulle nie geweet het nie”.

Die operasionele hoofkwartier en voorste basis van die LRDG, was die Siwa-oase in Egipte, omtrent dertig myl van die Libiese grens af. Dit was onder bevel van kolonel Guy Prendergast, nog ’n woestynverkenner wat voor die oorlog saam met Bagnold rondgereis het. Terwyl hy in Siwa op ’n vliegtuig gewag het om hom terug Kaïro toe te vat, het Stirling vir Prendergast gevra of die LRDG bereid sou wees om as ’n transportdiens vir die SAS na en van die kusteikens te dien. Prendergast het gesê dat dit heeltemal moontlik was, solank die taak nie met die eenheid se primêre verkenningsrol sou inmeng nie. En so het een van die lonendste vennootskappe in oorlogsgeskiedenis ontstaan. Dit het die vegters van die SAS en die deskundige woestynnavigators van die LRDG byeengebring.

Met diepe bewondering het dit gebeur dat die SAS na die LRDG verwys het as die “Libiese Taxi-diens”. Die harige, geharde, ervare manne van die LRDG was taxi-bestuurders soos geen ander nie.

 


Next

Previous