Die duisternis in

Posted on March 31, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre

 

Op ’n Novemberaand in 1941, het vyf Bristol Bombay-transportvliegtuie op die aanloopbaan van Bagush-lughawe aan die Egiptiese kus aangerol, en toe in die duisternis van die Middelandse dynserigheid die lug ingeklim. Elke vliegtuig het elf Britse valskermspringers gedra: Omtrent vyf en vyftig soldate – amper die volledige krag van die nuwe, eksperimentele en intensiewe geheime gevegseenheid, “L Detachment” van die “Special Air Service”. Die SAS.

Terwyl die vliegtuie in ’n noord-westelike rigting voortgedreun het, het die wind in sterkte toegeneem en die elektriese wenk van ’n naderende storm aangedra. Soos die son agter die woestynhorison weggesink het, het die temperatuur binne-in vinnig gedaal. Skielik was dit bitterkoud.

Die beginner-SAS was op sy eerste sending. Kodegenaamd “Operation Squatter”, die plan was as volg: Om in die nag met ’n valskerm in die Libiese woestyn agter die vyandelike linies te land, om die vyf lughawens te voet te infiltreer, bomme op soveel as moontlik van die Duitse en Italiaanse vliegtuie as wat hulle kon vind, te plant, en terwyl die bomme ontplof, suidwaarts terug te keer na ’n rendezvous-punt diep in die woestyn, waar hulle opgetel en na veiligheid teruggebring sou word.

Party van die vasgegespede manne wat in die vinnig toenemende donkerte op 18,000 voet gesit en bewe het, was gewone soldate, maar daar was ook ander: Onder hulle was ’n hotelportier, ’n roomysmaker, ’n Skotse aristokraat en ’n Ierse internasionale rugbyspeler. Party van hulle was van nature begaafde soldate, vreesloos en kalm, en ’n paar was deur ’n soort van krygshaftige waansin aangeraak. Die meeste was stil en angsbevange, maar vasberade om dit nie te wys nie. Daar was niemand wat aanspraak daarop kon maak dat hy deeglik voorbereid was oor wat gedoen moes word nie, om die eenvoudige rede dat nog niemand tevore ’n nagtelike valskermaanval in die woestyn van Noord-Afrika aangedurf het nie. Maar ’n eienaardige kameraadskap het reeds begin posvat, ’n vreemde esprit de corps saamgestel uit gelyke dele van meedoënloosheid, deurtraptheid, mededinging en gemeenskaplike vasberadenheid. Voor hulle opgestyg het, was die manne in kennis gestel dat enigeen wat met sy grondvat ernstig beseer sou word, daar agtergelaat sou word. Daar is geen blyke daarvan dat enigeen van hulle dit snaaks gevind het nie.

Teen die tyd wat die kaperjollende Bombays nader aan die Libiese kus gekom het, het die wind stormsterkte bereik. Dit was twee ure na die opstyging. Stormaangedrewe sand en stortende reën het die geflikker van ligfakkels op die grond heeltemal verdonker. Dit was deur die RAF twaalf myl die binneland in gelê om die vliegtuie na die springstrook te lei. Die loodse kon nie eers die vorm van die kuslyn uitmaak nie. Duitse soekligte het die aankomende vliegtuie opgepik en lugafweervuur het rondom hulle met verblindende flitse begin ontplof. ’n Koeël het deur die vloer van een van die vliegtuie geklief en die reserwebrandstoftenk met duime gemis. Een van die sersante het ’n grap gemaak wat niemand kon hoor nie, hoewel almal maar gegrinnik het.

Die loodse het aangedui dat die valskermspringers moes regmaak om te spring – hoewel hulle inderwaarheid toe blind gevlieg het en navigasie maar net raaiwerk was. Die valskermhouers wat plofstowwe, handmasjiengewere, ammunisie, kos, water, landkaarte, komberse en mediese voorrade bevat het, is eerste uitgegooi.

En toe, een na die ander, het die manne hulself in die siedende duisternis uitgewerp.

~

Twee ure voor opstygtyd, het die RAF ’n maal, wat gedurende oorlogstye ’n banket was, voorgesit. Daar was soveel kos as wat die manne van L Detachment kon eet, en ’n bottel bier vir elkeen. Dit was selfs deur RAF-offisiere bedien. Hierdie ete “goed genoeg vir ’n koning” was bedoel as ’n huldeblyk aan die vertrekkende valskermspringers, maar sommiges het iets melankolies saam met die opgesmukte totsiensgeleentheid gevoel: “Ons is behandel soos manne oppad galg toe.” ’n Klein flikkering van angs, soos die stygende woestynwind, het deur die RAF-menasietent by Bagush-lughawe gewaai toe die manne hul maal genuttig het, en met goeie rede: “Operasion Squatter” moes nooit plaasgevind het nie.

Die weervoorspelling was verskriklik. Winde van ten minste 30 knope is voorspel, tweemaal die maksimum spoed vir ’n veilige valskermsprong, met swaar reën. Warrelende sand kon ernstige navigasieprobleme vir die loodse skep, terwyl rukwinde die valskermers, en die houers wat al die voorrade bevat het, ver van hul koers af kon waai. Sigbaarheid op hierdie donkermaannag sou in elk geval beperk wees, maar te midde van ’n woestynstorm sou hergroepering uiters uitdagend wees. Deur brigadier Galloway van die Algemene Staf is daar aangeraai om die operasie te staak, maar die finale besluit is aan Stirling oorgelaat. Hy het sy offisiere geraadpleeg. Daar was geen moontlikheid om dit uit te stel nie, aangesien die belangrikste Engelse weermagoffensief die volgende dag sou plaasvind, wat ookal die weer. Die valskermoperasie sou όf voortgaan όf gekanselleer word. Die manne het aangesluit, want hulle was gefrustreerd deur die nimmereindigende vertragings wat Layforce verpes het. Die effek op moraal as gevolg van nog ’n kansellasie, kon ongeneeslik gewees het. Stirling was bevrees dat sy vyande by die Midde-Ooste se hoofkwartier dit as ’n geleentheid sou beskou om sy eenheid heeltemal te ontbind. Hy sou later die besluit formuleer as een waarop die algehele toekoms van die eenheid afhanklik sou wees, hoewel hy op daardie geleentheid nie so seker daarvan kon gewees het nie. Agter in sy kop moes hy geweet het dat sy eie status as leier erg daaronder skade sou ly as hy tou opgooi. “Toe ek die SAS begin het, het ek gesweer dat, as ons sou onderneem om ’n projek op ’n spesifieke tyd aan te pak, ons dit onvoorwaardelik sou doen,” het hy aan sy biograaf vertel. “Dit het vir my gelyk of ons die risiko moes neem.” Jock Lewes en Paddy Mayne het saamgestem. Die besluit was gewild by die manne. Stirling se keuse is aangespoor deur oortuiging, waagmoed en hoop. Dit was ’n dapper besluit, maar dit was die verkeerde een.

~

David Stirling het die woestynsand met soveel geweld getref, dat hy sy bewussyn verloor het. Net ’n paar minute vroeër het die loods van die vliegtuig, wat hy nie doeltreffend in die storm kon navigeer nie, gevra of hy die valskermsprong moes aborteer. “Nee, definitief nee,” het Stirling gesê. Toe het hy gespring. Toe hy sy bewussyn herwin het, het hy agtergekom dat hy deur sy valskerm in die 40 myl per uur wind voortgesleep is “soos ’n vlieër”, en hard oor die skerp klipgruis en rotse gegesel en gesleep is. Ná ’n gestoei het hy daarin geslaag om die knip op die valskerm te draai om los te kom, en die draagdoek het in die storm weggeflapper. Stirling het in die donker al waggelend op sy voete gekom, oortrek van skeurwonde en bloed wat van hom afgestroom het, maar verder ongedeerd.

~

Die volgende oggend, voor die res van die kamp wakker geword het, was David Lloyd Owen van die Long Range Desert Group besig om vir homself tee te maak, toe ’n lang figuur uit die oggend mistigheid opgedoem het. “My naam is Stirling,” het die man gesê. “Het jy enige van my kêrels dalk gesien? Lloyd Owen het natuurlik nie, want al die ander kêrels in Stirling se span was gevange geneem. Onder sersant Yates het hulle ’n verkeerde draai gevat en in ’n Italiaanse patrollie vasgeloop. Stirling en sersant Tait het daarin geslaag om die eskarpement by die kus te bereik, waar hulle die kuspad raakgeloop het, maar nie die lughawe nie. Daarna het hulle omgedraai en vyftig myl terug deur die reën gestrompel na die rendezvous. Hulle was die enigste lede van hulle groepie wat daarin geslaag het om terug te kom.

Stirling het vir twee dae langer by die woestyn-rendezvous gebly, en die horison noukeurig bespied met die hoop dat ander afgedwaaldes uiteindelik te voorskyn sou kom. Niemand het nie.

~

Stirling het vertel dat hy die kuspad bereik het en die see gesien het. Die feit dat hy dit vanuit die woestyn benader het, het bewys dat “gegewe die regte omstandighede, dit waaraan ek gedink het, moontlik was”. Onder verskriklike omstandighede het die manne bewonderenswaardig gedoen. “Die hele afdeling het besonder goed opgetree,” het Paddy Mayne geskryf, “en hoewel hulle verskillende soorte wonde opgedoen het en gekneus was soos hulle geval het, en nat en koud was, het hulle opgewek gebly.” Cooper was filosofies: “OK, ons het ’n pak slae gekry. Dit was ’n fiasko, maar die weer het dit alles veroorsaak. Die plan was oor die algemeen goed.” Seekings het soos gewoonlik ’n onbuigsame houding ingeneem: “Jy kan nie net rondsit en dink aan die ongevalle nie. Ons het aangesluit om ’n oorlog te veg. Ons het geweet waaroor dit gegaan het.” Maar agter die bravado, was Seekings onthuts.

Die hartverskeurende waarheid was nie te verbloem nie: “Operation Squatter” was deur en deur ’n ramp. Van die vyf en vyftig manne wat op 16 November met valskerms in die stormwind geland het, het net een en twintig teruggekeer. Die res was dood of beseer, vermis of gevange geneem. L Detachment het die meeste van sy krag verloor sonder om ’n skoot af te vuur, en die vyand aangeval sonder om ’n enkele bom te laat ontplof. Hulle is verslaan, nie deur die krag van wapens nie, maar deur die wind en reën. Die sending het niks bygedra om “Operation Crusader” te ondersteun nie. Wat nog erger was, die mislukte operasie het die vyand gewaarsku dat die Britte besig was met sabotasie agter hulle linies. Bonington se span op wie eers geskiet is en toe gevange geneem is, se bevele was om net hulle name, rang en serienommers aan hulle Duitse gevangenemers bekend te maak. Maar iemand het die aap uit die mou gelaat.

~

Die manne was uiters gedemolariseerd. Almal het ’n intieme vriend verloor. Jock Cheyne wat in die woestyn agtergelaat was met ’n gebreekte rug, was ’n besonderse maat van Pat Riley. Jim Almonds het pynlike skuld ervaar toe hy gehoor het van Bonington se eenheid. “Ek moes op daardie vliegtuig gewees het,” het hy later gedink. “Die voorwaardes van die noodlot is onverstaanbaar.” Hoewel hy nooit daaroor gepraat het nie, het die verlies van Eoin McGonigal vir Paddy Mayne platgeslaan. “Eoin McGonigal was die een persoon wat van Paddy gehou het voor hy ’n held geword het,” het iemand wat hulle albei geken het, gesê. Een van Mayne se lewensbeskrywers het verder gesê: “As daar ooit ’n ware liefde in sy (Mayne se) lewe was, was dit sy vriend Eoin McGonigal.” Iets in Mayne het saam met sy vriend gesterf.

Wat veronderstel was om ’n triomfantelike eerste sending te gewees het, het Stirling toegegee, was ’n “algehele mislukking”. Hy was bevrees dat die afstelling van die operasie die toekoms van die SAS in gevaar sou stel, maar deur daarmee voort te gaan, het hy dit amper vernietig. “Dit was tragies … soveel talent in dié wat ons verloor het,” het hy daarna gepeins. Dit het gelyk of die verkleinde “detachment” ontbind sou word.

Maar soos dikwels, lê daar in die rampspoed, die saad van heil.


Next

Previous