Ware Geld

Posted on November 11, 2016 by Cape Rebel

Uit ‘Five-Pound Notes’ in Voorkamer Stories
deur Herman Charles Bosman

 

“Daar word in die koerant verduidelik,” het At Naudé gesê, “hoe mens die verskil tussen ’n goeie vyfpondnoot en ’n vervalste een kan sien. Daar is ’n hele klomp vervalste note in omloop, het die koerant gesê, en die polisie is op die punt om ’n arrestasie te maak.”

“Is dit regtig só sleg?” het Gysbert van Tonder gevra. “Ek het opgemerk, as die koerante so iets oor die polisie sê, beteken dit dat, tensy iemand by die aanklagkantoor inloop en beken dat hy dit gedoen het, die polisie daardie saak sal afskryf as net nog ’n onopgeloste raaisel in Afrika. Daar is net een ding wat erger is, en dit is wanneer hulle in die koerante oor ’n dregnet skryf, en dat die polisie slaggereed is en reg staan om toe te slaan. Dit beteken dat die skuldige persoon ’n hele ruk vroeër al die land uit is met ’n klomp bagasie wat hy nie saam met hom gehad het toe hy die land ingekom het nie, en met sy paspoort in die haak.”

Gysbert van Tonder se lip het smalend opgetrek terwyl hy gepraat het. Dit was hartseer om te dink dat ’n toevallige misverstand met ’n man op ’n perd op grenspatrollie, kon lei na so ’n verwronge beskouing oor die aktiwiteite van die polisiemag – wat opdragte uitvoer wat deur die staat se interne regering aan hulle toevertrou is.

“Hoe kan jy sê,” het At Naudé geduldig voortgegaan, “dat dit ’n vervalste vyfpondnoot is wat eintlik ’n baie goeie nagebootste noot is. Die enigste manier waarop jy kan vasstel dat dit vervals is, is as die drukwerk beter is as dié van die egte noot, en dat dit die woord ‘geoutoriseerde’ reggespel is.”

Die onderwyser het geïnteresseerd gelyk.

“Wel, hulle is besig om die Afrikaanse spelling so te verander,” het hy gesê, “dat, wanneer ek les gee, ek die helfte van die tyd nie weet waar ek is nie. In elk geval, ek sal bly wees om te weet wat die regte manier is om daardie woord te spel. Maar ongelukkig het ek op die oomblik nie ’n vyfpondnoot by my nie – ek skat daar is seker niemand hier wat kans sien om my een te leen nie.”

Sy toon was peinsend en ietwat pleitend. Maar hy was heeltemal reg. Niemand het op die skimp gereageer nie.

“Net tot die einde van die maand,” het die jonge Vermaak weer gesê, maar nie juis te hoopvol nie.

Na ’n tussenpose van stilte, het At Naudé gesê, selfs al sou iemand die onderwyser ’n vyfpondnoot leen – wat, na sy mening, heel onwaarskynlik gelyk het – dit nog nie sou help met die spelwyse van daardie woord nie. Want dit was die opregte banknote wat die verkeerde spelling gehad het – die ou spelwyse. Slegs die vervalste note het die korrekte, nuwe spelling gehad.

Jurie Steyn het gesê dat dit nou iets was wat hom dronkgeslaan het – dat dit ’n vervalste noot genoem is net omdat dit beter drukwerk en spelling gehad het as die opregte noot. Dit was een van daardie dinge wat sy kop laat draai het, het Jurie Steyn bygevoeg. Dis geen wonder dat ’n mens soms voel dat jy nie weet waar in die wêreld jy is nie.

“Om dit te sê net omdat dit beter as die ware noot is,” het Jurie Steyn voortgegaan, “en dat dit, om daardie rede, nie goed genoeg is nie, slaan my voete skoon onder my uit.”

So ’n situasie skep nuwe moontlikhede waarby hy, persoonlik, liewer nie wou vertoef nie, het Jurie Steyn verder gesê.

“Straks,” het Jurie Steyn gesê, “sal dit beteken dat, as ’n respektabele, netjies aangetrekte vreemdeling wat ’n duur motorkar bestuur, hier by my poskantoor aankom en my ’n banknoot gee wat vir my lyk of daar niks mee verkeerd is nie, behalwe dat dit lyk of dit behoorlik gedruk is, dan beteken dit dat ek die polisie by Nietverdiend moet laat weet. Maar as ’n Shangaan met ’n kombers om hom hier aankom, en hy kom nie eers om seëls te koop nie, maar hy soek net kleingeld vir ’n vyfpondnoot, dan weet ek dis alles reg, want daar is ’n verkeerde spelling op die banknoot en die leeu op die agterkant is op ’n paar plekke afgevryf deurdat die pyp in sy mond die eerste keer verkeerd geteken is.”

Oupa Bekker het sy kop nadenkend geskud.

“Ja-nee, daar was sekere sake in verband met ’n geldeenheid soos dit van persoon tot persoon bedryf was, wat nie altyd maklik verstaanbaar was nie.

“Dink maar nou aan die tyd toe die Stellalandse Republiek sy eie banknote uitgereik het,” het oupa Bekker gesê. “Natuurlik het die Stellalandse Republiek dit nie lank gemaak nie, en moontlik kon dit anders gewees het as hy langer voortbestaan het. Maar ek praat maar net oor hoe dit was toe ons vir die eerste keer ons eie Stellalandse Republiek-banknote gekry het, en hoeveel genoeë dit ons almal verskaf het.

“Die moeilikheid in daardie deel van die land was dat daar nooit genoeg goue muntstukke in omloop was nie. Selfs voor die Stellalandse Republiek tot stand gekom het, was daar probleme. Jy kon dit nogal maklik sien deur net op te let hoeveel mans gelapte broeke gedra het.

“En so, toe die Stellalandse Republiek begin het om sy eie banknote te druk, het dit gelyk asof alles aan die regkom was. Maar die volk se sake het nie heeltemal die verwagte koers gevolg nie. Een ding wat ek onthou was die eienaresse van die losieshuise. Wat hulle aan die einde van die maand wou hê – en dit onthou ek baie duidelik – was geld. Ek glo nie ek het ooit weer in my lewe, voor daardie tyd of daarná, presies dieselfde soort van gesnuif gehoor nie. Wat ek eintlik bedoel, is daardie soort van gesnuif wat ’n Stellalandse losieshuis-eienares aan die einde van die maand sou laat hoor as sy jou in die koevert sien rondvroetel het.

“Dan was daar die Indiese winkelier.

‘Ek was saam met my vriend, Giel Haasbroek, in die Indiese winkel, en ek sal nooit daardie kyk op die Indiër se gesig vergeet nie toe Giel Haasbroek ’n klomp Stellalandse Republiek-banknote uitgehaal het om hom te betaal. Saam met al die ander goed wat die Indiër gesê het, was dat hy ook, net soos ons almal, ’n bestaan moes maak.

“Maar daar’s niks verkeerd met hierdie note nie,” het Giel Haasbroek aan die Indiër gesê. “Kyk, hier’s die prent van die arend van die Stellalandse Republiek boaan die noot. En hier, onderaan, jy kan vir jouself die gedrukte handtekeninge van die president en die minister van finansies lees – hulle eie name is daar geteken.”

“Ek sal ook nooit vergeet hoe die Indiese winkelier toe gegril het nie. Die Indiër het gesê dat hy niks teen die arend gehad het nie. Hy was heeltemal gewillig om te erken dat dit die beste soort arend was. Daaroor sou hy nie stry nie. Dáár waar hy vandaan kom, het hulle nie arende gehad nie. En as jy hom ’n hele klomp arende op ’n ry sou wys, dink hy nie hy sou die een van die ander kon onderskei nie, nie maklik nie. Op daardie punt moes ons hom nie verkeerd verstaan nie – die Indiër het moeite gedoen om dit vir ons duidelik te maak. Dit was glad nie sy bedoeling om ons gevoelens op enige manier seer te maak nie. Hy sou op geen manier beswaar maak teen die arend nie.

“Maar wanneer dit kom by die handtekeninge van president en die minister van finansies, was dit ’n heeltemal ander storie, het die Indiër gesê. Want hy het altwee se handtekeninge in wit op swart gehad – vir ou skuld wat hy geweet het hy nooit sou kon invorder nie, het die Indiër gesê. En van die twee was die president erger as die minister van finansies, verseker. Die president het dit so ver gevoer, het die Indiër gesê, dat hy nou al vir maande lank, wanneer hy op pad werk toe was, drie blokke uit sy pad uit, om die anderkant van die plein, verby gestap het net sodat hy nie verby die Indiër se winkel hoef te gestap het nie.”

Oupa Bekker het die storie onderbreek om ’n vuurhoutjie by die onderwyser te kry. Dit het ons ’n geleentheid gegee om na te dink oor wat hy gesê het. Want party van sy woorde was vir ons vreemd. Dit het vir ons voorgekom of die tekstuur van die lewe in die vroeë dae soort van styf en strak was, en deesdae vind ons denkwyses dit moeilik om te aanvaar.

“Maar hulle het nooit regtig gewild geraak nie, daardie Stellalandse Republiek banknote,” het oupa Bekker voorts vertel. “Later het die regering die ou banknote onttrek en nuwes in omloop gebring. Maar ek dink nie dat selfs dit veel van ’n verskil gemaak het nie. Ek moet egter sê dat die nuwe banknote baie mooier gelyk het. In die eerste plek was die nuwe banknote groter. En hulle was in meer kleure as die oues gedruk. En daar was ’n nuwe soort arend aan die bokant. Dié arend het meer imponerend gelyk, op die een of ander manier. En hy het ook ’n soort van dreigende voorkoms gehad, wat jy nie kon miskyk nie. Dit was asof die Stellalandse Republiek jou gedreig het, as jy gehuiwer het om dit te aanvaar, as jy een van daardie note vir losies aangebied is.

“Maar tog het dit gelyk of daardie banknote nooit regtig veel gesirkuleer het nie. Miskien was die Indiese winkelier reg in dit wat hy gesê het. Miskien, op stuk van sake, moes hulle nie juis die arend verander het nie, maar eerder die twee handtekeninge onderaan die banknote. Miskien moes die handtekeninge so geteken gewees het dat mens dit nie kon lees nie.

“En, soos ek gesê het, die snaakse ding was dat daar niks met daardie Stellalandse Republiek banknote verkeerd was nie. Ek meen, op geen manier was hulle vervalste note nie. Hulle was geheel en al wettig. Die arend en die drukwerk was albei heeltemal reg – en dit was die elegantste arend wat jy jou kon voorstel, en die drukwerk was die netjiesste wat jy in daardie dae kon kry. En tog … dis hoe dit was.”

Ons het saam met oupa Bekker gestem dat die kwessie van geld redelik deurmekaar was, en dat dit nog altyd so was. Kort daarna het die regeringslorrie van Bekkersdal daar aangekom. Die bestuurder se assistent het na die toonbank toe gestap.

“Jurie, gee my asseblief kleingeld vir hierdie vyfpondnoot,” het hy gesê.

Dit was Jurie se beurt om snaaks te wees. Hy het groot gebruik gemaak van die situasie. Hy het die noot ’n hele paar keer omgedraai.

“Die drukwerk lyk reg,” het Jurie Steyn gesê. “En sover ek weet, is die spelling ook reg. En die leeu het nie ’n pyp in sy bek nie.

“Dink jy ek is ’n gek – om my so ’n noot soos hierdie een te gee …? Omtrent die enigste ding wat dit nie het nie, is ’n arend.”

Die lorriebestuurder se assistant was skoon stomgeslaan.

Posted in Afrikaans


Next

Previous