Van Die See Af Melkweg Toe

Posted on November 10, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General 
deur Patrick Leigh Fermor

In die middag het ek, Manoli, Andrea en Kotsiphis van die rotse en die wortels afgeklim om te sien wat die Duitsers aan die doen was. Alles was stil. Andrea het weer met die rotswand opgeklim, en ons het daar gelê en rook en gewag totdat die ander sou opdaag. Manoli was van mening dat ons, vanaf die gevangeneming, omtrent vierhonderd mense gesien het. Omdat hy Kreta geken het, het hy met ’n skewe glimlag voortgegaan, moes etlike honderde mense ’n baie goeie idee gehad het waar ons ons nou bevind het. Maar hier was ons.

Om dit te vermy dat ons soos ’n groot prosessie gelyk het, het die ander in twee groepe ondertoe gekom, en ons het almal tot skemerdonker daar op ’n rotslys in ’n diep leegte in die rotswand gewag. ’n Yskoue fontein het daar van die rotse af in ’n straaltjie afgesyfer. ’n Ou Rodakiniot het dit met rotse uit die see opgebou om so ’n klein spelonkie soos ’n kluisenaarshut te vorm, met donker skadu’s van wildevyebome en oleanders. Ons het Stathi se harde brood gedoop en saam met die ou kêrel se uie en blaarslaai en radyse, daaraan gepeusel. Ons het tot laat in die nag gesit en praat. Toe het ons die kort entjie na die grotjie toe geloop. Ons het gehoop dat ons van daar af kon vertrek. Met die mure van rots aan beide kante, en die sand en die spoelklippies, die kabbeling van die water, en die sterre, het dit vir ons almal gelyk na ’n goeie, stil plek waar ons ons avontuur kon eindig.

Terwyl ons daar rondgestaan het, en aanvanklik in fluisterstemme met mekaar gepraat het, hoewel daar niemand was om voor bang te wees nie, het Andartes in twees en dries by die rotse afgeklim om by ons aan te sluit. By hulle was die Rodakino Kapitans, Khombitis en Manoli Yanna en Andrea Kotsiphis, en skielik was daar ook Petraka met sy welige snor. Dis hoekom ons hom Beowulf gedoop het. Hy was die Kapitan van die Asi Gonia-bende en een van ons hegste vriende op die eiland. Hy het ’n kontingent van Gonianiete saam met hom gebring om by die ander mense van Andartes aan te sluit om wag te staan by ons vertrek, en ook om totsiens te sê.

Hulle het die plek toegesit soos in ’n sitkamer: daar was groepe wat tussen die rotse rondgehang het ofnet daar rondgestaan het en in gedempte tone met mekaar gepraat het, hulle gewere hangend oor die skouers.

Die generaal het rustig op ’n rots naby die water gesit ná Manoli sy hangverband weer mooi aangesit het. Ek het aan hom gesê dat dit vir hom lekker sou wees om in ’n slaapbank met lakens te wees ná al ons wisselvallige ervarings. Billy het aan hom gesê dat hy binnekort kreeftoebroodjies sou eet – die kaptein van die skip was beroemd vir hulle. Die generaal het geglimlag: “Danke Herr Major; merci mon Capitaine,” veel meer vir die gedagte as vir die vooruitsig na hierdie genietinge. Hy het ’n ellendige tyd beleef, en hy het geweet dat ons probeer het om gaaf te wees.

Seinwerk sou om 10 uur begin – nie Monkey King nie, maar S.B. (Sugar Baker), een keer elke vyf minute. Tot ons konsternasie het ons besef dat nie een van ons twee geweet het wat B in morsekode was nie, maar slegs die S soos in SOS. Billy het ’n drie kort puntjies gesein, en toe ’n soort van S of iets, met die hoop dat Brian Coleman, die kaptein, sou verstaan dat ons nie beroepsoldate was nie.

Uiteindelik het ons almal gedink dat ons die skip se motore kon hoor, en ’n golf van opgewondenheid het langs die kus afgeloop. Toe ná ’n reeks vinniger seine, het die geluid dowwer geword en geklink asof dit verdwyn het. ’n Stemming van verslaentheid het ons almal oorweldig. Sulke aaklige oomblikke het op soortgelyke tye dikwels op strande plaasgevind. Miskien was dit omdat mens se ore, ná die inspanning met die see in die agtergrond, poetse op ’n mens gebak het. Maar vandag was daar ’n grondige rede vir kommer.

Hierdie angs is skielik bygelê deur Dennis se aankoms – hy was ook veronderstel om te vertrek. Gelukkig het hy morsekode geken en het ons heel desperaat die korrekte seine uitgestuur. Uiteindelik, eers dofweg en toe stadigaan duideliker, het ons die geluid van die skip gehoor, en ’n groot sug van verligting het vanaf die waterkant opgestyg. (Dit het nou tot my deurgedring dat ons die generaal moes gevra het. Hy moes toe net so gretig gewees het soos ons om te vertrek. Het ons nie daaraan gedink nie, of was ons maar net skaam oor ons amateurstatus?)

Daar was ’n ligte misbank oor die see; en dit was nie voordat die skip redelik naby was dat ons hom gesien het nie. Ons kon die gerammel van die anker hoor toe dit laat sak is, en toe was twee bote te water gelaat, en hulle het vol donker gedaantes strand toe gevaar.  Ons het skoon vergeet van George Jellicoe se strooptogmagte. Ons kon gou sien dat die bote beman was deur figure in barette en leerbaadjies – almal bewapen met handmasjiengewere. Toe die kiele die strandklippies geraak het, het hulle in die vlak water gespring en teen volle vaart die strand opgehardloop. Ek het iemand my naam hoor skree. Hulle het gedink dat ons moontlik moes terugval, al vegtende, na die rendezvous. Ek dink dat toe hulle gesien het dat ons ongeskonde was, hulle almal ietwat teleurgesteld was, veral die bevelvoerder, wat nie Jellicoe was nie, maar wel Bob Bury, wat ek vir die afgelope drie jaar nog nie weer gesien het nie. Ek het hom aan ons groep voorgestel, en ook aan die guerrillaleiers wat om ons in ’n staat van verrukking saamgedrong het – en aan die generaal. Bob Bury het styf gebuig, hande geskud en gesê: “Sehr gefälligHerr General,” met ’n perfekte Duitse aksent.

Die oomblik het aangebreek. Bob Bury en sy kommando’s het hulle rugsakke, met al hulle voorrade en sigarette, leeggemaak en dit aan ons kamerade wat sou agterbly, oorhandig. Ons het ons skoene uitgetrek en daar gelos, soos die gewoonte was om te doen. Selfs al was hulle deurgeloop, was dit tog nuttig. Gou daarna het ons totsiens gesê aan Petraka, en die Rodakino Kapitans, en Yanni Katsias, en die guerrillas, en ten laaste aan Antoni Zoidakis. Ons het mekaar soos grysbere omhels. Ek het probeer om Antoni te oorreed om saam met ons te kom – hy het ’n oomblik lank gehuiwer en toe daarteen besluit. Ek wens hy het tog anders besluit. ’n Matroos het gesê: “Verskoon my Meneermaar ek dink ons moet aanstoot.”

Toe ons nader aan die skip gekom het, het die waaiende figure in die skaduwees langs die strand dowwer begin word en, baie vinnig, was dit moeilik om die baaitjie te onderskei van die ontsaglike massa van die berg wat uit die see opgestyg het na die Melkweg toe. Die skip het groter geword. Sy pom-poms en Bofors lugafweerkanonne het in die sterlig geblink. Toe ons langsaan ingevaar het, het matrose in hulle vlekkelose wit in die bolwerk uitgereik om die generaal met die touleer op te help. (“Dis reg, Meneer!  Wees versigtig!”) terwyl ons – ek, Billy, Manoli en George hom van onderaf bygestaan het.

’n Oomblik later het ons kaalvoet op die dek gestaan, en dit was alles verby.


Next

Previous