Teen die tyd wat ek gaan sit het, het ek gevoel asof ek die beskuldigde was

Posted on March 15, 2018 by Cape Rebel

Uit Koljander, koljander, so deur die Bosch
deur Annatjie Melck

 

Toe kom die wonderlike jare van studentwees. Dis net een maal in ’n leeftyd dat ’n mens werklik so ongebonde en sonder verantwoordelikheid kan wees. Die enigste kontrak wat vervul moet word, is die verantwoordelikheid teenoor die persoon of persone wat jou die geleentheid gun om te studeer.

Dit was die goue dae van lag, en weer eens van sing, soos ek en Griet gedans en gesing het daar op die ashoop by Doornkuil. Maar hierdie keer met ’n ander ritme, ander speletjies en nuwe vriende. My pa het my laat belowe dat ek elke Sondagaand vir hom ’n brief sou skryf om te vertel wat gedurende die weekgebeur het. Hy het ook vir my vyf pond belowe aan die einde van my eerste jaar as ek myself nie aan een kêrel verbind het nie maar – soos hy dit gestel het – in die bondel gebly het.

In my botanieklas het ek vir die eerste maal vir Ronnie gesien; ons het saam klasgeloop. Ronnie was Engelssprekend en kon baie min Afrikaans praat. Ek weer kon glad nie Engels praat nie. So onthou ek byvoorbeeld dat ek en van my koshuismaats graag op ’n Saterdag die trein Kaap toe gevat het om te gaan inkopies doen. Ons het ons baie mooi aangetrek, die handskoene moes by die skoene en die handsak pas, en soms selfs met ’n hoed ook op. Ons het geweet daar was straatfotograwe in Adderleystraat en as ons dalk afgeneem sou word, was dit ’n groot kompliment. Ons het niks meer gekoop as tolletjies garing of ’n knoop of miskien ’n handskoen nie, maar dit was wonderlik om in die groot, pragtige winkels soos Garlicks, Stuttafords en Cleghorns te kon ingaan en ons aan al die mooi goed te verwonder. Wanneer ons iets wou koop en in Afrikaans daarvoor gevra het, het die Engelse verkoopdames ons streng aangekyk en gesê: “Speak in English, please.” Keer op keer moes ek omdraai sonder aankope, want ek kon nie in Engels koop nie.

Hierdie stories het ek vir my pa vertel in my Sondagaandbriewe aan hom. Wanneer ek dan vakansies by die huis was, het hy my aangemoedig om, nadat ek my graad op Stellenbosch gekry het, na Rhodes-universiteit te gaan om Engels te leer praat. My pa was reeds in my derde jaar baie siek en het gesterf die dag toe ek met my finale ekasmen begin het. Ek het my belofte gehou en wel na Rhodes gegaan waar ek ’n onderwysdiploma behaal het.

Ek dink die finale aansporing was toe Ronnie my na sy ouers se huis in Constantia nooi en ek daar aankom en al wat ek die hele aand gesê het, was: “I’m fine thank you” in antwoord op hulle beleefde “How do you do?” toe Ronnie my aan hulle voorstel. Die ergste van daardie aand was dat daar ’n gróót foto van Jan Smuts in hulle eetkamer gehang het! Dit het ek alles vir my pa geskryf. Dit was nogal erg, want my pa was ’n Ossewa-Brandwag-man.

Voor ons ons oë kon uitvee, was ons studentjare verby. En toe wag die grootmenslewe vir ons. Ons het nie daardie tyd besef dat die volgende fase in ons lewe nie kaalhand aangepak moes word nie.

~

My en Ronnie se paadjies het meer en meer begin saamloop ná ons eerste jaar op universiteit. Ons het mekaar verstaan en daar was ’n sterk energie tussen ons. Ons het ’n groot en interessante vriendekring gehad en ons het die studentjare met al die pret wat daarmee gepaard gegaan het, terdeë geniet. Ons het die jeugspel ten volle gespeel, maar altyd met verantwoordelikheid.

Nadat ek my graad gekry het, het ek my belofte aan my pa gehou en vir een jaar na die Rhodes-universiteit gegaan om te leer Engels praat. Ek en Ronnie het saam begin droom oor ons toekoms. Ons het besluit dat ons gaan saamloop en dat ons eendag ’n mooi huis gaan bou met kinders en baie vriende. Ons sou saam kos maak.

Ronnie was ’n wynman in murg en been. Die kombinasie het gewerk. Ons huis was oop, ons huis was vriendelik, ons huis het geruik na kos wat kook, en daar was altyd mooi musiek en baie vriende wat ons gasvryheid geniet het, maar nooit misbruik het nie. Ons kinders het in hierdie omstandighede en omgewing grootgeword en ons het hulle aangemoedig om hulle vriende – net soos ons – huis toe te bring. Hulle kon self besluit of hulle vriende sou inpas or nie.

Dit was die goue jare van geluk met interessante vriende, gaste, wynmense, sakemense en baie kos maak.

Die Fynproewersgilde wat op Stellenbosch begin is deur vyf vroue (waarvan ek een was) was ’n opdrag van die KWV. Ons moes die kos- en wynkultuur van die Stellenbosse wynstreek uitbou en bevorder. My en Ronnie se koskokery het meer omvattend geword en tesame met ons vele oorsese besoeke en blootstelling aan ander koskulture, het ons ’n sterk band met mekaar gebou.

Ons het verskillende tafels gehad: ’n kombuistafel, ’n kuiertafel en ’n eetkamertafel. Die een was lekkerder as die ander. Daar het so baie interessante mense om daardie tafels gesit dat ek soms wens ek het ’n besoekersboek gehou, maar ons was nie “besoekersboekmense” nie.

Almal was ewe welkom, en ewe spesiaal.


Next

Previous