Onsigbare Man

Posted on December 04, 2018 by Cape Rebel


Uit “The Terror of the Malopo”
In A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman

 

Op ’n middag, lank gelede, het oupa Bekker saam met Japie Uys naby Renosterpoort uitgekamp, toe ’n vreemdeling, wat lank en donker was, uit die bos uit na hulle toe aangery gekom het. Dit was hoe hy vir Hubrecht Willemse ontmoet het, het oupa Bekker aan ons gesê.

“Ek het nie die man geken wat daar, waar ek en Japie Uys gerus het, afgeklim het nie,” het oupa Bekker verduidelik. “Maar ek het sy perd herken. Dit was een van Koos Liebenberg se bekroonde hingste. Ek het ook die saal geken. Dit het aan Gert Pretorius behoort. En die pak klere wat die vreemdeling aangehad het, was Krisjan Steyn se swart kerkklere.”

Oupa Bekker het gesê dat hy die pak klere uitgeken het aan die heelgemaakte plek op die broek se een knie waar Krisjan Steyn een nagmaal op die sypaadjie voor die Zeerustse kroeg geval het. Hoekom Krisjan Steyn geval het, was omdat hy nie die halfdosyn trappies voor die kroeg opgemerk het nie, oor dit so warm was.

“Die vreemdeling het homself as Hubrecht Willemse voorgestel,” het oupa Bekker bygevoeg, “en hy het gesê dat hy ’n bietjie daar in die buurt rond was. Wel, hy kon ’n bietjie baie gesê het, het ek gedink, te oordeel aan sy pak klere en die perd, om nie eers Gert Pretorius se saal te noem nie.

“Ek en Japie Uys het na mekaar gekyk. En ek was bly dat ek nie Japie was nie. Want Japie Uys het ’n paar nuwe winkelstewels gedra wat omtrent net die vreemdeling se grootte was.”

Oupa Bekker het gesê dat Hubrecht Willemse langs hom en Japie Krige op ’n afgebreekte boomstomp kom sit het. Hubrecht Willemse het sy hoed afgehaal en homself daarmee koel gewaai.

“Ek het nie geweet wie se hoed dit was nie,” het oupa Bekker gesê, “hoewel dit so oud en uit fatsoen uit gelyk het dat ek nie verbaas sou gewees het nie as dit Hubrecht Willemse se eie hoed was.

“Maar dit was toe ons gesien het hoe kort Hubrecht Willemse se hare gesny was, dat Japie Uys baie vinnig om verskoning begin vra het vir die ongemaklike boomstomp waarop Hubrecht Willemse moes sit. Daar was ’n baie beter stomp waarvan hy geweet het, net ’n entjie met die pad af, het Japie Uys gesê, en hy was reeds besig om op pad daarheen in ’n klomp withaakbome te verdwyn, toe Hubrecht Willemse hom taamlik skerp teruggeroep het.

“Nee, los dit,” het Hubrecht Willemse gesê toe Japie Uys ewe verleë teruggekom het. “Julle gaan reg hier bly, altwee van julle.”

Oupa Bekker het gesê, hoewel dit ’n warm middag was terwyl hy daar langs Hubrecht Willemse op die afgebreekte stomp gesit het, hy nogtans gevoel het dat hy aan die bewe was. Hy homself het nie veel anders as ’n uitgeholde boomstomp gevoel nie, het oupa Bekker gesê.

Skielik was daar toe ’n kraakgeluid. Die rysmiere was binne in die boomstomp aan die werk, en met die gewig van drie mans daarop, het die hout op een plek meegegee. Nogtans het oupa Bekker en Japie Uys opgespring.

“Toe ons weer gaan sit het,” het oupa Bekker voortgegaan, “het Hubrecht Willemse aan ons gesê: ‘Julle weet, ek is ’n ontsnapte bandiet.’ Net só, het hy dit gesê. Natuurlik het daardie inligting nie vir Japie en myself as veel van ’n verrassing gekom nie. Nietemin het ons gevoel dat die vreemdeling baie beter daaroor sou voel as ons sou voorgee dat ons verbaas was.

“Japie het toe gesê, nee, hy kon dit nie glo nie. Dit was omtrent die laaste ding wat hy hom kon voorstel, het Japie Uys vir Hubrecht Willemse verseker. En ek het aan hom gesê dat hy meer soos ’n assuransieagent gelyk het.

“Toe, toe ek iets onaangenaams, van nie so lank gelede nie, met ’n assuransieagent in daardie omgewing onthou het, het ek gesê dat hy miskien meer soos ’n senator gelyk het.”

Oupa Bekker het gesê dat sy woorde nie vir Hubrecht Willemse soveel genoeë verskaf het as wat hy gemeen het nie.

“Maar dit was Hubrecht Willemse se volgende opmerking wat my laat wonder het of hy reg in sy kop was,” het oupa Bekker aangegaan. “Ek het begin dink dat die jare wat hy agter tronkmure deurgebring het, met net ryswater en die sing van gesange, sy kop aangetas het. Ek het toe kouer as ooit tussen my skouerblaaie gevoel ten spyte van die hitte.”

Want Hubrecht Willemse het aan oupa Bekker vertel dat die rede waarom die manne van die landdroskantoor nie in staat sou wees om hom te vang nie, was omrede hy die krag gehad het om homself onsigbaar te maak.

“Soms sien hulle my glad nie,” het Hubrecht Willemse aan oupa Bekker gesê. “Op ander tye dink hulle ek is iemand anders. Ek het dit die hele pad deur hierdie omgewing opgemerk. Dis hoekom ek bly sal wees dat ek binnekort oor die grens sal wees.

“Want hierdie ding maak my bietjie bekommerd. Dis ’n krag wat ek nie voorheen gehad het nie. Dit moet iets wees wat na my toe gekom het sonder dat ek daarvan geweet het – hierdie laaste keer wat ek in die tronk was. Miskien was dit iets wat ek geëet het.”

Oupa Bekker het gesê dat hy toe so op sy enigheid gedink het, dat dit nie so ’n groot verrassing was dat die landdros se manne foute oor Hubrecht Willemse se identiteit sou maak nie.

“Wel, ek het gedink, as ek hom nie van so naby af gesien het nie,” het oupa Bekker gesê, “en net gekyk het na die perd waarop hy gery het, dan kon ek hom maklik vir Koos Liebenberg aangesien het. Of weer, as ek hom net sien stap het, met die lig nie te goed nie, en net gekyk het hoe hy aangetrek was, dan kon ek hom vir Krisjan Steyn aangesien het.

“So was dit nie ’n verrassing dat die landdros se manne, wat nie die geleentheid gehad het om die Dwarsberg se kant van die Groot Marico baie te besoek nie, miskien ’n bietjie deurmekaar kon raak in die soektog na Hubrecht Willemse. Of as hy byvoorbeeld by ’n kroeg sou inloop, met Gert Pretorius se saal onder sy arm – het ek ook gedink.”

~

Dit was die volgende dag, het oupa Bekker gesê, wat hy vir homself iets van die geheimsinnige krag wat Hubrecht Willemse gehad het, en waarvan hy gepraat het, gesien het – waardeur Hubrecht Willemse onsigbaar kon word, of hoe dit kon voorkom dat hy iemand heeltemal anders was.

’n Perderuiter het voor hulle kom stilhou, het oupa Bekker gesê, en gekom en by hulle op die boomstomp aangesluit. Teen daardie tyd het hulle die besoeker herken. Dit was die veldkornet wat deur die landdros se kantoor op die ontsnapte bandiet se spoor gestuur is.

“Ek en Japie Uys was albei baie bly om die veldkornet te sien,” het oupa Bekker gesê, “en dit was vir die veldkornet moontlik om ons ’n hele klomp goed oor Hubrecht Willemse, wat hy as ’n gevaarlike karakter beskryf het, te vertel. Maar ons het reeds daarvan geweet sonder dat dit vir die veldkornet nodig was om ons te vertel. ‘Wat hy ook al wil hê, vat hy sommer, en hy gee nie om hoe nie,’ het die veldkornet gesê. Dit het ons ook geweet.

“Die veldkornet het voortgegaan om te sê dat in die rekords van die landdroskantoor, Hubrecht Willemse bekend gestaan het as ‘die Verskrikking van die Malopo’.”

“Wat, was hy ook daar?” het Japie Uys gevra.

“Nee,” het veldkornet geantwoord, “maar dis waarheen hy nou op pad is. En as hy nie daar, in die Malopo, ’n verskriklike verskrikking gaan wees nie, dan weet ek nie. Maar dit is buite ons distrik, en hoe gouer hy daar aankom, hoe meer sal ons almal daarvan hou, dit kan ek jou vertel.”

Oupa Bekker het gesê dat hy gedink het dat dit vir die veldkornet ’n eienaardige ding was om te sê. Vergeet van verskrikking van die Malopo, het oupa Bekker gedink. Genugtig, Hubrecht Willemse was genoeg van ’n verskrikking in die Marico. Oupa Bekker het probeer om so iets aan die veldkornet oor te dra.

“Wel, as hy by die Molopo aankom, is dit hulle uitkyk,” was al wat die veldkornet kon sê.

Wanneer Hubert Willemse eers die Malopo oorgesteek het, was dit van daaraf nie juis baie ver na die Betsjoeanalandse grens toe nie. Ja, hy sou glad nie verras wees as Hubert Willemse teen daardie tyd amper uit die Transvaal was nie, het die veldkornet bygevoeg.

Op daardie manier kon jy nie by die Betsjoeanalandse grens uitkom nie, het Japie Uys gesê. Jy kon nie, nie daardie tyd van die jaar nie. Al manier was deur die Renosterpoort. En van waar hy op die stomp gesit het, het Japie Uys vir die veldkornet die rigting na die Renosterpoort uitgewys.

“Daardie skobbejak van ’n Willemse sal weer reguit hierheen moet kom, op presies dieselfde pad,” het Japie Uys opgetoë gesê. “Hy moet. Daar’s geen ander pad nie. En dis wanneer jy hom in die hande sal kry. En verder, Hubrecht Willemse sal binnekort weer hier verby moet kom.”

Presies toe het daar weer ’n kraakgeluid vanuit die uitgeholde boomstomp gekom. Hierdie keer was dit die veldkornet wat skielik opgespring het, het oupa Bekker gesê.

“En later dieselfde middag is daar aan ons bewys dat Hubrecht Willemse wel daardie spookagtige kragte gehad het waarop hy aanspraak gemaak het,” het oupa Bekker bygevoeg. “Want Hubrecht Willemse het op dieselfde pad langs teruggekom, net soos Japie Uys gesê het hy sou. En toe hy nog ver weg was, het ons vir die veldkornet in sy rigting gewys, maar die veldkornet kon hom glad nie sien nie.

“En toe, daarna, het Hubrecht Willemse so naby gekom dat die veldkornet hom net moes sien – die veldkornet het gesê dat dit nie in die minste soos Hubrecht Willemse gelyk het nie.

“Dit het meer soos ’n senator wat hy geken het, gelyk, het die veldkornet opgemerk toe Hubrecht Willemse verby was, en die klank van galoperende hoewe in die verte verdwyn het.”


Next

Previous