’n Bietjie ongelukkig

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History 
deur Ben MacIntyre

 

Luitenant John Steele Lewes was ’n toonbeeld van militêre deugsaamheid, ’n man wat onbuigsaam en hardvogtig op homself was, en ’n streng leier. Gebore in Indië, met ’n Britse pa en ’n Australiese moeder, was hy die kaptein van die Oxford Universiteit se Bootklub. Hy het by Christ Church gegradueer, en dit het gelyk of hy bestemd was om ’n loopbaan in politiek, of die hoogste range in die weermag, na te volg. Nadat hy by die Welsh Guards aangesluit het, is hy as die regimentsopleidingoffisier aangestel, en is by die Sandown-renbaan ingekwartier.

Jock Lewis was amper te goed om waar te wees. “Wees iets besonders,” het sy pa aan hom gesê, en Lewes was van plan om daardie raad uit te voer. Hy was atleties, ryk, patrioties, en aantreklik, met glinsterende blou oë, en ’n onberispelik versorgde Douglas-Fairbanks-junior snor.

Lewes was ’n genadelose werkslaaf en ietwat verwaand, en, na aanleiding van sy biograaf, het hy ’n diepliggende “minagting vir dekadensie” gehad. Hy het geen sin van humor gehad nie, en “sy strengheid kon eenvoudig net te veel wees vir ander sterflinge”. “Jy sou nie op Jock afkom waar hy gou ’n drankie in Kaïro gemaak het, of iets op ’n weddenskap by ’n renbaan gewaag het nie,” het Stirling opgemerk. Hy, Stirling, was gewoonlik met die een of ander van dié twee doenig.

Die twee offisiere het egter ’n intense begeerte vir aksie gedeel, en hulle het geglo dat die kommando’s nie behoorlik gebruik is nie. Lewes, ’n ster in wording in die Layforce eenheid, het reeds sy waagmoed en vernuf in verskeie operasies gedemonstreer. Dit het ’n suksesvolle aanval met gemotorriseerde kanonneerbote op ’n vyandelike lugbasis, naby Gazala aan die Libiese kus, ingesluit. Lewes was beïndruk deur die Duitsers se gebruik van valskermsoldate in hulle verowering van Kreta. Hy het gedink dat ’n valskermmag bewys mag word as ’n nuttige toevoeging, tot toekomstige geallieerde kommando-krygsverrigtinge. Hy het steun begin verwerf, by senior offisiere, om toegelaat te word om sy eie, uitgesoekte span te vorm, en hy het huis toe geskryf dat hy “dit waarna hy verlang het”, gegee is – “’n span manne, en algehele vryheid om hulle op te lei, en te gebruik na my goeddunke”. Stirling was beïndruk deur Lewes se kalm handelswyse, en uitstaande professionalisme, en ervaring. Na gelang van een weergawe van die storie, het hy snuf in die neus gekry van wat Lewes in die mou gevoer het, en hy het hom doelbewus in die offisiersmenasie genader. Deur ander is gesê dat die gesprek totaal per ongeluk was. Wat ookal, Stirling en Lewes se idees het saamgesmelt.

Daar was egter ’n ander, geheime deel aan Jock Lewes, wat Stirling dalk in die bek sou geruk het, as hy daarvan sou geweet het: Lewes het ’n flirtasie met die Nazi’s gehad.

Tydens ’n fietstoer in 1935, Duitsland toe, was Lewes diep beïndruk deur die organisasie en krag van die ontluikende Derde Reich. “Engeland is geen demokrasie nie, en Duitsland vêr van ’n totalitêre staat”, het hy aan sy ouers geskryf. “Verbyster” deur Nasionale Sosialisme, het hy Duitsland in die volgende paar jaar verskeie kere besoek, en ná elke besoek, het hy dieper beïndruk, teruggekeer huis toe: Hy het met die Duitse hoë sosiale kringe gemeng. In 1938 het hy ’n bal, waar Hitler en Goebbels eregaste was, bygewoon, en verder ook verlief geraak op ’n jong Duitse meisie, Senta Adriano, ’n entoesiastiese lid van die Naziparty. Hy het gedroom oor Senta se  “openhartigheid en eerlikheid”, haar “goue hare, groen oë en goed gespasieerde, delikate fyn wenkbroue – nie gepluk”. Geplukte wenkbroue sou ’n teken van ligsinnigheid wees.

Toe het Kristallnacht aangebreek, die nag van die gebreekte glas, toe die Nazi’s boosaardig tekere gegaan het, deur in Duitsland en Oostenryk die Joodse winkels, besighede, en sinagoges te beskadig, en te plunder. Jock Lewes kon polities naïef gewees het, maar hy was geen gek nie: Die gebeurtenisse van November 1938 het in hom ’n hewige en pynlike verandering van insigte, tot gevolg gehad. Skielik, met klinkklare helderheid, het hy die ware aard van die regime, waarna hy polities en emosioneel gehunker het, verstaan.

“Ek het geworstel om my vertroue in Duitse-opregtheid te behou, maar slegs ’n fanatikus kon die getuienis wat hulle verkies het om voor ons te ontbloot, weerstaan,” het hy geskryf. “Ek sweer ek sal nie lewe om die dag te sien wanneer Brittanje die vlag, van waarin hy glo, stryk voor hierdie totalitaristiese aggressie nie.” Hy het sy verlowing met Adriano verbreek, en amper oornag ’n verwoede teenstander van Naziïsme geword. “Ek sal gewilliglik die wapen teen Duitsland optel,” het hy geskryf. Hy het gevoel hy was deur beide die Nazi’s en die fassistiese vrou, wat hy liefgehad het, bedrieg. “Hy het die leuen persoonlik ervaar”, en hy was reg om wraak te neem.

Lewes se vasberadenheid en meedoënloosheid, sy volkome toewyding aan die taak om Duitsland te beveg, was die reaksie van ’n man wat deur ’n trouelose minares veronreg was, iemand wat ’n vreeslike fout begaan het, en dit was nodig vir hom om daarvoor te vergoed.

Dit was alreeds besig om aand te word, toe Lewes en vier ander manne in ’n ouerige tweedekkervliegtuig geklim het, om die wêreld se eerste valskermsprong in die woestyn uit te voer: Vir Stirling was dit ’n plesiertog; vir Lewes, die volgende stadium in sy krygstog van wraak teen Nazi-Duitsland. Die Vickers Valentia, geleen aan die Royal Air Force, was gebruik om pos af te lewer – dit was amper komies ongeskik vir valskermspring. Die valskerms wat deur Lewes gegaps is, was ontwerp met statiese drade aan ’n staalkabel vasgeheg en voor en agter geklem: Wanneer die valskermspringer die vliegtuig verlaat, word die opgevoude valskerm deur die lyn getrek, totdat dit ten volle uitgestrek is, en op daardie punt knak die koppeldraad, en die valskermdraagdoek word met lug gevul. Daar was geen valskerminstrukteurs in die Midde-Ooste nie, maar ’n vriendelike RAF-offisier het hulle dié raad gegee: “Duik uit asof in water”. Die span het geoefen deur van die vliegtuig se vlerke af te spring, ’n val van omtrent tien voet. Om die ding te toets, het Lewes ’n pop-valskermspringer van tentpale en sandsakke  gemaak, en op ’n hoogte van agthonderd voet, uitgegooi. “Die valskerm het mooi oopgemaak, maar die tentpale het met die landing gebreek.”

Lewes en Stirling het saamgestem, dat hulle gereed was om te gaan: Hulle sou eenvoudig die valskermlyne aan die pote van die sitplekke vasmaak, die deur oopmaak, en duik. Die loods het van die klein vliegtuigveldjie, vyftig myl suid van Bagush af, opgestyg, een keer gesirkel, en toe die opdrag gegee om te spring: Lewes en sy handlanger het eerste gegaan, gevolg deur ’n vrywilliger genaamd D’Arcy, en toe Stirling. D’Arcy het later geskryf: “Ek was verras om luitenant Stirling verby my in die lug te sien gaan”. Maar nie die helfte so verras as luitenant Stirling self nie. Sy valskerm het in die stertvin vasgehaak, en was lelik geskeur. Toe hy besef het dat hy besiger was om te val, as om ’n valskermsprong uit te voer, het hy sy oë toegemaak, en homself gestaal vir die impak.

Stirling het nie weer sy bewussyn herwin, totdat hy, half verlam, in ’n bed in die Skotse Militêre Hospitaal wakker geword het nie. “Ek was ’n bietjie ongelukkig,” het hy met weergalmende onderbeklemtoning gesê.

Lewes, heel voorspelbaar, het “’n perfekte landing gemaak”, en dit het hom so geroer, dat hy ’n gedig oor die romantiek van valskermspring geskryf het.
 

                                    Green for Go! Now! God, how slow it is!
                                    The air doesn’t rush and earth doesn’t rise
                                    Till you swoop into harnass and know it is
                                    Over, look up and love the white canopy
                                    Steadfast above you, an angel in panoply
                                    Guarding the skies.
 

Stirling het nie so gevoel nie. Sy eerste ervaring van ’n valskermsprong was baie onaangenaam. As gevolg van die besering aan sy ruggraat, sou hy vir die res van sy lewe aan rugpyn en migraine ly. Die val het hom amper sy lewe gekos, maar dit het hom ’n baie goeie idee gegee.

Dit was agt weke voor Stirling weer kon loop. En gedurende daardie tyd, het hy elke landkaart van die kus, en die binneland, wat hy in sy hande kon kry, bymekaargemaak, en aantekeninge van vliegvelde, paaie, spoorlyne, en vyandelike posisies langs die kus gemaak. Toe Lewes hom in die hospitaal besoek het, het Stirling sy planne uiteengesit: “Ek glo dit sal moontlik wees, eintlik nie te moeilik nie, om op ’n klein skaal manne te kry om uitgesoekte Duitse posisies, vanuit die woestyn, te infiltreer. Ek dink ons kan dan ’n taamlike dramatiese effek op hulle doeltreffendheid en moraal verkry, deur die vliegtuie, aanloopbane en brandstofopslagplekke, te saboteer.

Met tipiese ruimhartigheid, het Stirling later vir Lewes geprys vir baie van die dinkwerk agter die plan. Tog was Lewes op daardie stadium skepties. Hoe sou dit vir die valskermspringers moontlik wees om genoegsame plofstof te dra, om werklik skade aan te rig? Wie sou aan so ’n operasie magtiging verleen? En hoe sou die aanvallers ná ’n aanval oor honderde myle van sand wegkom? “Het jy oor opleiding om in woestynsand te loop, gedink?” het hy gevra. Lewes se bedenkinge mag minder te doene gehad het met die haalbaarheid van die plan, as met die twyfel oor Stirling se karakter, ’n man met ’n losbandige reputasie, en baie ander karaktertrekke wat Lewes teen die bors gestuit het. Hy kon ook gevoel het dat Stirling met sy eie planne inmeng. Lewes het teruggekeer na die beleërde Tobruk. Hulle het saamgestem om die konsep van valskermstrooptogte weer ’n keer te bespreek, wanneer hy teruggekom het: “As jy daarin slaag om iets met die idee te bereik, praat weer met my,” het Lewes gesê, toe hy opgestaan het om te vertrek. “Ek het nie veel hoop nie.”


Next

Previous