Gewilde Belasting

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

 

Uit “The Budget”
In Jurie Steyn’s Post Office
deur Herman Charles Bosman

 

“Nogtans kon jy nie in die dae van die Republieke ’n burger kry wat so ’n ding sou doen nie,” het oupa Bekker voortgegaan terwyl hy sy kop geskud het. “Selfs nie in die Republiek van Goosen nie. En selfs nie nadat die Republiek van Goosen se minister van finansies al die staatsinkomste in ’n betreurenswaardige pokerspel by die Mafeking-hotel, waaraan hy uitgenooi is om deel te neem, verloor het nie. En daar was daardie jaar nogal ’n groot oorskot ook, wat die minister van finansies regdeur die pokerspel in ’n binnesak weggebêre het, en wat hy ook nog kon onthou wat hy aan hom gehad het toe hy by die kroeg ingegaan het. Hoewel hy nooit kon onthou wat daarna van die oorskot geword het nie. Natuurlik het die minister van finansies nooit weer teruggegaan Goosen toe nie. Hy het by Mafeking aangebly. Toe ek hom weer gesien het, het hy aangebied om mense se bagasie van die Zeederbergse koetsstasie na die hotel te help dra.”

Oupa Bekker het hom gereed gemaak om nog baie meer te sê toe Jurie Steyn hom in die rede geval het, en daarop aangedring het om te weet wat dit alles met sy poskantoor te doen het.

“Ek het gesê dat, selfs as dinge in die ou dae baie sleg gegaan het, jy nooit ’n posmeester in die son sou sien hardloop het met ’n spleetstok nie,” het oupa Bekker verduidelik en bygevoeg, “soos ’n Mchopi nie.”

Jurie Steyn se vrou wou geen onaangenaamheid hê nie. Sy het dus gekom en op die riempiesbank langs oupa Bekker gaan sit en op ’n vriendelike soort van manier aan hom verduidelik waaroor die hele bespreking gegaan het.

“Jy sien, Oupa,” het Jurie Bekker se vrou uiteindelik gesê nadat sy stilgebly het om haar asem terug te kry, “dis presies wat ons besig was om te sê. Ons het gesê, in die ou dae voordat daar ordentlike poskantore was, was die gebruik by mense om briewe met Mchopi-boodskappers te stuur.”

“Maar dis wat ek ook gesê het,” het oupa Bekker volgehou. “Ek sê, waarom gaan Jurie nie liewer in sy muilkar nie?”

Daarna het Jurie Steyn se vrou maar opgegee. Veral toe Jurie Steyn oorgeloop het na waar oupa Bekker gesit het.

“Jy weet, Oupa,” het Jurie Steyn gesê, terwyl hy baie saggies gepraat het, “jy was vir baie jare ’n ouderling, en ons almal in die Groot Marico respekteer jou daarvoor. Ons respekteer ook jou grys hare. Maar jy moenie daardie respek prysgee deur … deur te praat oor dinge wat jy nie verstaan nie.”

Oupa Bekker het sy greep op sy tambotiehoutkierie verstewig.

“Jurie Steyn, as jy nou só met my in die republikynse dae gepraat het,” het die ou man in ’n gebroke stem gesê, “byvoorbeeld in die Republiek van Stellaland …”

“Jy en jou republieke, Oupa,” het Jurie Steyn gesê terwyl hy die argument laat vaar en omgedraai het toonbank toe. “Goosen, Stellaland, Lydenburg – ek neem aan jy was ook in die Republiek van Orighstad?”

Oupa Bekker het daarna toe baie stroef op die riempiesbank gesit.

“In die Republiek van Orighstad,” het hy verklaar – en in sy oë het daar vir ’n oomblik die lig van ’n grootse verlede geglinster – “in die Republiek van Orighstad het ek die eer gehad om die minister van finansies te wees.”

“Eer,” het Jurie Steyn sarkasties herhaal, maar hy het nie hard genoeg gepraat vir oupa Bekker om te kon hoor nie. “Ek wonder hoe hy die geld in die staat se skatkis verloor het. Seker slangetjies-en-leertjies gespeel, neem ek aan.”

~

Nogtans was daar dié van ons wat heel geïnteresseerd in oupa Bekker se stelling was. Johnny Coen het sy stoel toe nog nader aan oupa Bekker geskuif. Selfs al was Orighstad toe slegs ’n klein Republiekie, en een wat nie vir lank bestaan het nie, was daar tog iets in die klank van die woorde “minister van finansies” wat nie anders kon nie as om die gevoel van ontsag in ons op te wakker.

“Ek hoop jy het die staatsinkomste op ’n deeglike manier in die reserwebank gedeponeer,” het At Naudé gesê terwyl hy vir ons geknipoog het, maar ons was nogtans tog beïndruk.

“In daardie dae was daar nie ’n reserwebank nie,” het oupa Bekker gesê, “en in die Republiek van Orighstad ook nie enige ánder soort van bank nie. Nee, ek het die nasionale skatkis in ’n kous onder my matras gebêre. Dit was natuurlik die veiligste plek.”

Johnny Coen het toe die volgende vraag gestel.

“Wat was die moeilikste aspek om minister van finansies te wees, Oupa?” het hy gevra. “Ek veronderstel dit was om die begroting te laat klop?”

“Geld was die moeilikste ding,” het oupa Bekker al sugtende gesê.

“Dit is nog steeds,” het Chris Welman hom in die rede geval. “Jy hoef ook nie ’n minister van finansies te gewees het om dit te weet nie.”

“Maar, natuurlik was dit nie so sleg soos vandag nie,” het oupa Bekker aangegaan. “Ek bedoel, om minister van finansies te wees. Byvoorbeeld, ons hoef nie bekommerd te gewees het om geld vir onderwys en opvoeding te vind nie, want daar was natuurlik net nie so iets nie.”

Jurie Steyn het op ’n veelseggende soort van manier gekug, maar oupa Bekker het hom geïgnoreer.

“Ek dink nie,” het hy voortgegaan, “dat ons in die Orighstadse republiek vir onderwys sou opgekom het nie. Ons het geweet ons was beter af daarsonder.

“En dan was daar ook nie die nodigheid om geld uit te gegee het op spoorweë en hawens nie, want daar was ook nie so iets nie.

“Of hospitale nie. Ons het in daardie dae ’n gesonde lewe gelei, behalwe miskien vir die leeus. En as ’n leeu jou doodgemaak het, was daar nie veel van jou oor wat hospitaal toe geneem kon word nie.

“Natuurlik moes ons in daardie dae ’n hele klomp geld op verdediging uitgee. Buskruit en lood, en olie om die veertjies van ons ou sannas te kry om mooi glad te werk. Jy sien, ons het enige dag moeilikheid van Paul Kruger en die Doppers verwag.

“Maar dit was moeilik vir my om te weet hoe om ’n gewilde begroting uit te werk, veral omdat daar slegs sewentien belastingbetalers in die hele Republiek was. Ek het daaraan gedink om selfs belasting op die president se staatskoets te hef. Daardie voorstel was baie gewild onder die die groep belastingbetalers, maar jy het geen idee hoe dit die president omgekrap het nie.

“Daarna het ek allerhande soorte belastings gehef, wat vir niemand nodig was om te betaal nie. Natuurlik het hierdie belastings nie veel, wat geld betref, ingebring nie. Nogtans was hulle baie gewild. En ek kan nog steeds onthou hoe gewild my begroting daardie jaar was toe ek opium baie swaar belas het. Ek het êrens van ’n opiumbelasting gehoor. Natuurlik spreek dit vanself, dat ek nie verwag het dat dié belasting ’n pennie sou inbring nie. Maar ek het geweet hoe bly die burgers van die Republiek van Orighstad sou wees, iedereen van hulle, om te dink dat daar belasting was wat hulle vrygespring het.”

Oupa Bekker was nog steeds besig om te praat oor die maatreëls wat hy getref het om inflasie gedurende die vroeë dae van die Republiek van Orighstad, te bekamp, toe die lorrie van Bekkersdal af in ’n stofwolk daar aangekom het.

Oupa Bekker het toe weggestap, want hy het nóg korrespondensie nóg ’n melkkan verwag.


Next

Previous