Ek het’n Droom Gedroom

Posted on July 21, 2016 by Cape Rebel

Uit Escape from Culloden
deur Die Chevalier de Johnstone

Omdat dit vir ons onveilig geraak het in Glen-Prossen deurdat die troepe ons onophoudelik oral probeer vastrek het, het ons eenparig besluit om Samuel die volgende oggend om drie-uur vaarwel toe te roep. Ons was van plan om terug te keer Hooglande toe en om ons verblyfplek, vereers daar tussen die rotse, te vestig. As gevolg van dié besluit, het ons daardie aand agtuur in die bed geklim sodat ons genoeg slaap kon inkry voor ons vertrek. Vir ’n hele ruk sou daar geen vooruitsig wees om onder ’n dak te kan slaap nie.

Ek het nooit die gewoonte gehad om stories van bonatuurlike ingryping te glo nie. Dis dié soort ding waarmee mens van kleintyd af mislei is. Sulke stories is gewoonlik die skeppings van oorverhitte verbeeldings, of van bygelowige ou vrouens, of van verwarde slimkoppe. Daardie nag het ek egter ’n buitengewone en onverstaanbare droom gehad. As enige ander persoon dit aan my vertel het, sou ek hom as ’n heldersiende beskou het. Die droom is egter tot in die kleinste besonderhede bewaarheid, en dat ek nog lewe is aan die omstandighede van dié droom te danke. Al was ek hoe skepties, kon ek nie die indruk wat dit op my gees gemaak het, weerstaan nie. Ek het gedroom dat, na ek die agtervolgings van my vyande afgeskud het, al my probleme en lyding tot ’n einde gekom het. Dit het so gekom dat ek in die geselskap was van lady Jane Douglas, die sister van die graaf van Douglas. Ek het alles aan haar vertel wat sedert die slag van Culloden met my gebeur het – tot in die fynste besonderhede wat in ons leër gebeur het sedert ons die aftog by Sterling geblaas het, sowel as die gevare waaraan ek persoonlik blootgestel was in my pogings om ’n valbyldood vry te spring.

Toe ek dié oggend om sesuur wakker geword het, het hierdie droom só ’n indruk op my gemoed gemaak dat ek gedink het dat ek nog die sagte stem van lady Jane Douglas in my ore kon hoor. Al my sintuie was gesus tot ’n staat van onpeilbare kalmte, terwyl ek terselfdertyd ’n gevoel van rustigheid en kalmte van gees ervaar het. Dit was vir my ’n totale vreemde gewaarwording ná my teenspoed. Met my kop wat op my hand gerus het en die kussing wat my elmboog ondersteun het, het ek al die omstandighede van my droom herroep. Ek was baie spyt dat dit slegs ’n droom was, maar het tog gewens dat ek sulke drome meer dikwels kon hê om die storms en beroeringe wat my siel so ontstel het, te wyte aan die onsekerhede wat die lot vir my inhou, te kalmeer. As mens weet dat die straf onafwendbaar is, kan jy ten minste besluit om dit met moed en berusting te trotseer. Maar watter situasie is wreder as ’n voortdurende wisseling tussen hoop en wanhoop? Dis ’n duisend keer erger as die dood vanself.

’n Uur het op die manier verbygegaan met my bewegingloos soos ’n standbeeld, toe Samuel binnegekom het en my vertel het dat my kamerade drie-uur daardie oggend reeds vertrek het, en dat hy my moes vertel waar ek hulle in die berge kon kry. Hy het verder gesê dat hy al twee keer voor hulle vertrek het, langs my bed was om my wakker te maak, maar toe hy sien hoe vas ek slaap, kon hy dit nie oor sy hart kry om my te steur nie, want hy was oortuig daarvan dat ek rus nodig gehad het voor die swarigheid wat in die berge op my gewag het. Hy het my aangeraai om dadelik op te staan aangesien dit tyd was om te vertrek – sy dogter, wat onder die indruk verkeer het dat ons almal vertrek het, sou dalk nie so op en wakker wees om die aankoms van vyandelike afdelings oor te sein nie.

Ek het ewe bedaard en ernstig aangekondig: “Samuel, ek gaan Edinburgh toe.”

Arme Samuel het my beteuterd en verbaas aangegaap en uitgeroep: “Verskoon my, my liewe meneer, maar kap jou kop nie so bietjie aan nie?”

“Daar is niks met my kop verkeerd nie,” het ek geantwoord. “Ek gaan Edinburgh toe en ek vertrek vanaand. Gaan vertel jou dogter dat ek nog steeds hier is, en dat sy soos gewoonlik moet wagstaan en my laat weet as daar gedurende die verloop van die dag troepe uit Cortachie aan die kom is.”

Samuel se vermaninge het my moeg begin gemaak. Ek het hom dus stilgemaak deur hom te vertel dat ek vir eens en altyd tot ’n besluit gekom het, en dat dit sinneloos was om verder daaroor te praat.

Posted in Afrikaans


Next

Previous