Die vloek van Transvaal

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit “News Story”
In A Bekkersdal Marathon

deur Herman Charles Bosman

 

“Met wat deesdae aangaan in die wêreld,” het At Naudé kopskuddend gesê, “weet ek nie wat gaan gebeur nie.”

Dit was duidelik dat At Naudé weer nuus oor die draadloos gehoor het, wat hom bevrees gelaat het vir die toekoms van die land. Dit het ons toe nie dadelik laat regop sit nie. Daar was nooit enige verandering nie, selfs in die soort van nuus wat hy aan ons oorgedra het. Dit was telkens oor klipgooiery in die Johannesburgse lokasies en oor hoeveel soorte bomme die Russe oor beskik, en oor hoeveel mense tronk toe gegaan het omdat hulle die Russe oor nog ander soorte bomme wat hulle kon vervaardig, vertel het. Hoewel dit nie gelyk het of die Russe enige onderrig nodig gehad het vir dié soort van ding nie.

En ons kon nooit regtig verstaan waarom At Naudé enigsins daarna geluister het nie. Trouens, ons het omtrent nooit na hom geluister nie. Ons wou liewer by Gysbert van Tonder hoor of dit waar was dat die ouderling by Pilansberg homself regtig te buite gegaan het op die manier wat Jurie Steyn se vrou, by die kombuisdeur, by ’n kraal-Mtosa gehoor het. Die Mtosa het gekom om halfpennieseëls te koop om op sy voorkop te plak vir die jaarlikse Ndlolo-dans. Dít was nou vir jou nuus. Ek bedoel eintlik oor die ouderling. En selfs om te hoor dat die Ndlolo-dans weer binnekort gehou gaan word, was ten minste iets. En as dit so sou gebeur dat dit wat oor die ouderling gesê is, nie waar was nie, wel, dit kon ook die geval wees dat ’n klomp van die goed wat At Naudé oor die draadloos gehoor het ook nie waar was nie.

“Ek weet nie wat gaan gebeur nie,” het At Naudé herhaal, “oor hoe dit deesdae met die wêreld gaan nie. Ek het nou net oor die draadloos gehoor …”

“Dis hoekom die nuus wat ons in die ou dae gekry het, beter was,” het oupa Bekker gesê. “Ek bedoel nou in die ware ou dae, toe daar geen draadloos was nie,” het oupa Bekker gesê, “en daar toe ook nie die telegraaf was nie. Die nuus wat jy toe gekry het, kon jy iets mee maak. En jy hoef nie poskantoor toe te gegaan het om dit van ’n koerant te verkry nie. Die poskantoor is die vloek van Transvaal …”

Jurie Steyn het gesê dat oupa Bekker dáár heltemal reg was. Hyself sou nooit sy werk as posmeester op Drogevlei aanvaar het nie as hy enigsins kon geraai het dat daar vier afsonderlike vorms was wat hy moes invul, en elkeen van hulle verskillend, vir ’n eenvoudige vyfsjieling-poswissel nie. Dit sou soveel slimmer en netjieser gewees het, het Jurie Steyn gesê, vir mense wat vyfsjielings êrens heen wou stuur, as hulle net ’n paar halfkrone in ’n dik rol bruinpapier kon opvou en dit op die gewone manier, net soos ’n brief, kon pos. Dit was die doel van die rooi posbus voor sy deur, het Jurie Steyn verduidelik. Die outoriteite het die uitgawes vir die nuwe posbus aangegaan juis om die publiek te help. En nog steeds kry jy mense wat vir poswissels en geldwissels inkom. Nou die dag het ’n man selfs ingekom en gevra of hy geld êrens heen kon telegafeer.

“Ek het daai man ’n stukkie bruinpapier gegee en hom gewys waar die posbus is,” het Jurie Steyn gesê. “Tot dan toe, het dit gelyk dat hy nie geweet het van die soort vooruitgang wat ons hier gemaak het nie. En so het ek hom toe gevra of ek hom nog ander voorbeelde kon wys oor hoe die Groot Marico vooruitgegaan het. Maar hy het nee gesê – die aanduidings wat ek vir hom gewys het, was heeltemal genoeg.

Jurie Steyn het gesê dat hy gedink het dat dit besonder gaaf van die man was om so op te kom vir die Marico, aangesien hy maar nog nuut in hierdie geweste was.

Omdat ons nooit geweet het hoe lank Jurie Steyn daarmee sou aanhou as hy eers oor die onderwerp van sy werk begin praat het nie, was ons bly toe Johnny Coen vir oupa Bekker gevra het om bietjie verder te verduidelik oor hoe hulle nuus in die ou dae gekry het. Ons was almal verheug behalwe At Naudé, wat probeer het om ’n aanmerking in te kry. Maar hy het nie verder gekom nie as om te sê dat, as ons bewus sou word van iets wat plaasgevind het, ons almal in ons velskoene sou bewe.

“Hoe het ons nuus gekry?” het oupa Bekker gesê, in antwoord op ’n ander vraag van Johnny Coen. “Wel, veronderstel nou maar jy staan daar op een van die lande en een van die Betsjoeanas sou na ’n stofwolkie in die poort gewys het, en jy sou daarna na die groot boom by die dam toe, oorgeloop het, daar waar die pad ’n draai maak, en die reisiger sou daar verbygekom het, met twee vosperde voor sy kapkar, en hy sou dan uit die kar geklim het en met jou hande geskud het en gesê het dat hy Du Plessis was. En sê nou maar dat jy gesê het dat jy Bekker was, en dat hy daarna gesê het dat hy nie op jou plaas kon oorbly nie, want hy moes by Tsalalaskop uitkom. Nou ja, dít was vir jou nuus. Jy kon vir dae daaroor praat. Selfs weke lank. Jy het geen idee hoe dikwels ek en my vrou dit sou kon bespreek het nie. En ons sou alles wat daar omtrent die man was om te weet, geweet het. Ons het geweet sy naam was Du Plessis.”

At Naudé het toe gesê dat hy nie veel van daardie soort nuus gedink het nie. In daardie tyd wat oupa Bekker van gepraat het, moes die mense ’n bietjie simpel in die kop gewees het as hulle dit enigsins as nuus beskou het. “Nee maggies, as jy dit vergelyk met wat die radio-omroeper net gister gesê het …”

Op daardie oomblik het Jurie Steyn se vrou uit die kombuis uit ingekom. Haar oë het geblink van opgewondenheid. En toe sy gepraat het, was dit met nie een van ons in besonder nie.

“Dit het nou net by my opgekom,” het Jurie Steyn se vrou gesê, “natuurlik, as dit wat hulle van die Pilansbergse ouderling sê waar is. Wel, dit het my nou net getref dat, toe hy opgetree het op die manier wat hulle sê – op voorwaarde dat hy homself wel so gedra het, nê – wel, miskien het die ouderling nie geweet dat iemand gekyk het nie.”

Dit was ’n moontlikheid wat tot dusver nie by ons opgekom het nie, en ons het dit breedvoerig bespreek.

Ons was nie in ’n bui vir simpelheid nie. Oupa Bekker het dit vir hom as ’n aanmoediging opgeneem om verder te gaan.

“Sê nou maar ook dat jy op ’n ander dag,” het oupa Bekker aangegaan, “op een van jou lande gestaan het, of selfs gesit het, as daar ’n lang dag se geploeëry was wat op jou gewag het, en jy nie jouself onnodig moeg wou maak nie. Jy kon maar op ’n klip in die skaduwee van ’n boom gesit het, en jy kon in jou enigheid gedink het hoe lui daardie Betsjoeanas gelyk het daar waar hulle op en af, op en af met die ploeg en die osse geloop het, en jy kon, jy weet, nogal heel lomerig geword het daar waar jy besig was om te dink hoe lui die Betsjoeanas is. As dit nie vir die osse was wat hulle aan die gang gehou het nie, sou hulle glad geen werk gedoen het nie, sou jy miskien kon dink.

“En dan, sonder dat jy dit die minste verwag het, het jy weer nuus gekry. En dié nuus het vir homself ’n klip gekry, en reg daar langs jou kom sit. Sê nou maar dis die nuwe veldkornet. En waarom niemand daardie keer enige stof in die poort gesien het nie, was omdat die veldkornet nie met die pad langs gekom het nie. En jy het met hom ’n grap maak en gesê: ‘Ek neem aan dis hoekom hulle jou ’n veldkornet noem, want jy ry nie padlangs nie – jy kom veldlangs aangery.’ En die veldkornet het dan gelag en jou ’n paar vrae gevra, en hy het jou vertel dat hulle goeie reëns by Derdepoort gehad het … Nou ja, daar was iets wat ek my vrou weke lank oor en oor kon vertel. Dít was nuus. Ek het weke lank gehad om daaroor te dink. Die besoek van die veldkornet. In die ou dae was dit ware nuus.”

Aan die manier hoe At Naudé in sy stoel kriewelrig geraak het, kon ons sien dat hy geraai het dat ons net die ou man aangepor het om te praat, ten einde te spot oor al die belangrike Europese nuus wat hy, At Naudé, gereeld aan ons oorvertel het, en waarvoor ons moeg geraak het.

Ná ’n rukkie kon At Naudé homself nie meer inhou nie.

“Hierdie kens- en bogpraatjies wat oupa Bekker kwytraak,” het At Naudé opgemerk, terwyl hy na niemand in besonder gekyk het nie, maar vir ons almal gesê het, op dieselfde manier wat Jurie Steyn se vrou gepraat het toe sy by die kombuis uitgekom het. “Ja, ek sou liewer na ’n skandaal oor die Pilansbergse ouderling wou luister. Daar is ten minste ’n soort van betekenis daaraan verbonde. Ek is natuurlik nie onvriendelik teenoor oupa Bekker nie. Ek weet dis maar net omdat hy oud is. Maar dis ook vir my duidelik dat hy geen idee het wat nuus eintlik is nie.”

~

“Sê nou maar op ’n ander dag,” het oupa Bekker voortgegaan, “dat jy glad nie op jou lande was nie, maar op jou voorstoep, besig om koffie te drink. En die kapkar met die vosperde het weer padlangs aangekom, maar hierdie keer in die teenoorgestelde rigting, poort toe. En jy kon nie veel van Du Plessis se gesig sien nie, want sy hoed was laag oor sy oë getrek. En sê maar, die veldkornet het langs hom op die kapkar gesit.

Oupa Bekker het toe vir ’n wyle stilgebly. Hy het ’n rukkie langer stilgebly terwyl hy ’n aangesteekte vuurhoutjie beskermend oor sy pyp gehou het, asof hy êrens in die veld was waar die wind gewaai het – en sterk daaraan gesuig het.

“En sê maar dat ek en my vrou jare daarna nog daaroor gepraat het,” het oupa Bekker verder vertel. “Vir jare, ná Du Plessis opgehang is, bedoel ek.”


Next

Previous