Die Geleentheid Waarvoor Hy Gewag Het

Posted on July 27, 2017 by Cape Rebel

Uit Patrick Leigh Fermor – An Adventure
deur Artemis Cooper


Paddy het in Julie weer teruggekeer Kaïro toe waar dinge skielik baie interessanter geraak het. Hy is beveel om na Rustum-geboue toe te gaan. Dié plek het aan elke Kaïreense taxi-bestuurder bekend gestaan as die “geheime gebou”, vanwaar geheime werksaamhede beheer is. Hier is hy opgeneem in wat later bekend sou staan as die Spesiale Ondernemingsgesag (“SOE”), hoewel dit in daardie dae agter ’n rookskerm van verskillende name geskuil het, waarvan die bekendste seker MO4 en Force 133 was. Paddy het ’n onderhoud gehad met ’n onbekende kolonel wie se taalgebruik so gesluierd en kripties was, dat hy geen idee gehad het wat daar gesê was nie, en hoe hy daarop moes reageer nie. Maar sy soldy is verhoog en daar is aan hom gesê dat hy binnekort sy opdragte sou ontvang.

Hy moes by ’n eenheid bekend as ME 102 aansluit, moontlik op die voorstel van Monty Woodhouse. Die eenheid was ’n opleidingskamp vir mense wat met die stryd wou voortgaan deur by weerstandseenhede wat regoor Europa gevorm is, aan te sluit. In September 1941 het Paddy Palestina toe gegaan om by ME 102 aan te sluit. Dit was op die been gebring in ’n ruim huis teen die hange van die Karmelgebergte met ’n uitsig oor Haifa. Hulle het die huis Narkover genoem, na aanleiding van die denkbeeldige skool deur J. B. Morton (“Beachcomber”) waar die leerlinge geleer is hoe om te vervals, te dobbel, diefstal te pleeg en brande te stig. Uit sy enigste notaboek van daardie tyd wat behoue gebly het, lyk dit of die plek die regte naam gekry het: Dit is deurspek met aantekeninge soos: “Vernietiging was iets nuuts vir almal behalwe vir die vissers en matrose, en het soos gewoonlik groot aftrek gekry”, of  “Die Molotov-petrolbomlesing en praktiese werk het goed afgegaan”. Die studente is ook geleer hoe om ’n kaart te lees, ’n verslag te skryf, hoe om ’n boot te hanteer, en hulle het ook onderrig gekry oor radiostelle en kleingewere. Hulle was afkomstig uit ’n wye kring van nasionaliteite wat Joego-Slawiërs en Koerdistaners ingesluit het.

Tussen die Kretaanse Grieke, het Paddy twee kêrels ontmoet wat van sy intiemste oorlogskamerade sou word: George Tyrakis en Manoli Paterakis het later sleutelfigure in die Kreipe-Operasie geword. Paddy was waarskynlik waardevoller as iemand wat Grieks kon praat eerder as ’n kenner van wapens. Die meeste van die studente het wapens gehanteer sedert hulle kinders was en het ’n instinktiewe aanvoeling gehad oor hoe dit aanmekaar gesit moes word, terwyl hulle instrukteur ure lank in die magasynkamer moes deurbring, waar hy met die hulp van ’n instruksieboek moes opsukkel oor hoe om wapens uitmekaar te haal en weer aanmekaar te sit.

Vir Nuwejaar 1942 het Paddy Jerusalem toe gegaan waar ’n paar vriende uit Kaïro saamgekom het. Terwyl hy op ’n motorfiets rondgejaag het, het hy van die geleentheid gebruik gemaak om al die heilige plekke om die See van Galilea te besoek. In Beirut by die Saint-Georges-Hotel het hy weer vir Costa raakgeloop, en daardie aand het Costa se energie en vaardigheid die danssaal tot stilstand gebring. Costa het verduidelik dat dit seker sy laaste geleentheid was om te dans, want hy het by die Free French aangesluit net met die doel om by die Midde-Ooste uit te kom. Hy is na die Griekse Weermag verplaas, en solank as wat hulle land van geboorte beset was, was dans verbode.

Paddy het in 1942 uit Narkover na Kaïro toe vertrek, en kort daarná het nuwe instruksies deurgekom: Binne die volgende twee weke sou hy by die handjievol SOE-offisiere wat na die besette Kreta gestuur is, aansluit. Daar sou hy met die Kretense weerstandsbeweging saamwerk: in Kreta, sonder ’n uniform, in die ope, en gedurig in gevaar. Dit was die geleentheid waarvoor hy gewag het.

~

Die Duitsers het hulle druk op die weerstand verhoog met strooptogte op bergdorpies, en die arrestasies het net nog skrikwekkender gelyk, want dit was deur ’n ontsaglike aantal soldate uitgevoer. Die kapetans het daarop gereageer toe hulle in Mei ses informante tereggestel het, maar dit het tot die oombliklike dood van veertien patriotte gelei. In Junie is die eerste van wat later ’n jaarlikse sabotasie-operasie sou word, deur die Spesiale Bootdiens onderneem. Een span het vyf vliegtuie by Kastelli vernietig terwyl ’n ander span van die “Free French” onder die kaptein Earl Jellicoe, agtien vliegtuie en ’n aantal voertuie by die Herakleion vliegveld vernietig het. Die volgende dag is vyftien gyselaars, wat die voormalige burgemeester van Herakleion en die vorige goewerneur-generaal ingesluit het, deur die Duitsers doodgeskiet.

So ’n wreedaardige magsvertoning het skok en paniek onder die Kretensers tot gevolg gehad, en daar was baie wat gewonder het of dit die moeite werd was om heldhaftig weerstand te bied. Maar die instink om die onderdrukkers die hoof te bied, was nog net so sterk soos voorheen. Met die verwagting om ’n algemene opstand te lanseer, het die kapetans by SOE aangedring om hulle meer ondersteuning te gee. Tom Dunbabin het verduidelik dat die tyd nog nie ryp was nie, maar hulle het daarop aangedring om na Egipte toe geneem te word en om daar hulle saak aan AH-Kaïro te stel. Dunbabin het ietwat teësinnig ingestem en, gedurende die nag van 23 Junie, het Bandouvas, Petrakogeorgis en hulle families, saam met Satanas, wat ernstig siek was aan kanker, op die kus naby Trypiti bymekaargekom. Daar het hulle vir die kaik Porcupine gewag. Paddy was op die roeibootjie om sy eerste diens vir die besette Kreta te verrig.

Die Porcupine het onopvallend verder uit in die see gebly, terwyl ’n verbindingsbootjie die nuwe aankomelinge na die kus toe geroei het. Saam met Paddy was daar ’n draadloosoperateur, sersant Matthew White, en Yanni Tsangarakis, ’n boodskapper vir Ralph Stockbridge wat vrywillig onderneem het om as Paddy se gids terug te keer. Hulle het elkeen ’n swaar vrag gedra toe hulle in die rowwe see aan wal gegaan het, en Paddy se stewels is uitmekaar geskeer toe hy oor die nat rotse geklouter het om by die strand uit te kom.

Die offisier in beheer van die afhaalboot het verduidelik dat hy nie sou kon omsien na al daardie mense wat gewag het op oorvaart nie, en die see was te rof om meer as een seereis terug na die Porcupine toe te onderneem. Daardie nag was dit net Satanas en sy familie wat ontruim is, en dit het die ander kapetans en hulle entourages daardie aand woedend kwaad en gegriefd agtergelaat. Dit was geweerkaats in Paddy se eerste sein, wat begin het met die woorde: “Situasie hier lelik”.


Next

Previous