Die apokriewe element in die kartografie van Afrika

Posted on December 04, 2018 by Cape Rebel


Uit “Lost City”

In A Bekkersdal Marathon 
deur Herman Charles Bosman

“Vroeër was dit nie so in die Kalahari nie,” het Chris Welman gesê, en daarmee kommentaar gelewer op At Naudé se aankondiging oor wat hy op die draadloos gehoor het. “Jy kon vir myle aaneen reis, en dit sou net woestyn wees. Al waarop jy miskien sou afkom, kon ’n paar Boesman-families wees, en hulle sou besig wees om oor die horison te verdwyn. Dan, dae later, kon jy dalk weer ’n paar Boesman-families teenkom. En húlle sou ook besig wees om oor die horison te verdwyn.

“En jy sou nie weet of dit dieselfde klompie Boesman-families was nie. Of dieselfde horison. En jy sou ook nie juis omgee nie. Ek bedoel, in die Kalihari-woestyn sou jy nie omgee nie. Miskien is dit anders in ander woestyne. Ek praat net oor die Kalahari.”

Ja, al waaroor jy in die Kalahari bekommerd sou wees, het Jurie Steyn gesê, was waarméé die klompie Boesman-families oor die horison verdwyn het. Want jy mog nie altyd vinnig genoeg kon bepaal wat uit jou kamp weggeraak het nie.

“Maar na aanleiding van wat At Naudé ons vertel het,” het Chris Welman verder aangegaan, “lyk dit asof jy deesdae in die Kalahari geen vrede en stilte meer kan geniet nie. Of êrens om heen te gaan nie. Van Molepolele af verderaan, lyk dit asof daar net een ekspedisie ná die ander is, en elkeen van hulle op soek na ’n verlore stad.

Dit was nie moeilik om te verstaan hoe ’n stad in die eerste plek verlore geraak het nie, het Jurie Steyn opgemerk. “Dit moes gewees het dat die mense wat die stad gebou het, nie genoeg omtrent Boesman-families geweet het nie. Nogtans kan ek op een of ander manier dit nie heeltemal glo nie. Nie ’n hele stad nie, sowaar. Op ’n manier kan ek my dit nie voorstel dat Boesmans met alles anderkant die horison kan verdwyn nie. Vereers, dit sou vir hulle van geen waarde wees nie. Nou ja, as dit nie soseer ’n kwessie was dat ’n hele stad weggeraak het nie, maar eerder dat ’n paar dinge uit die stad verdwyn het – wel, dan kon ek daardie ekspedisies aanraai waar om te gaan soek.”

Maar At Naudé het gesê dat ons miskien een of twee van die minder belangrike besonderhede van die nuus wat hy aan ons oorgedra het, verkeerd verstaan het. Daar was nie heeltemal soveel ekspedisies daar buite in die Kalahari op soek na ’n verlore stad nie, soos dit gelyk het Chris Welman gedink het. Verder was dit nie ’n stad wat verlore was op die manier wat Jurie Steyn gedink het nie. Die stad was net soveel jare gelede gebou dat mense daarvan vergeet het. Moet hom nou nie vra hoe so ’n ding kon gebeur het nie, het At Naudé gesê. Hy kon nie dink hoe so iets moontlik kon wees nie.

“Ek bedoel, laat ons nou selfs nie eers ’n stad neem nie …” het At Naudé begin om te verduidelik.

“Nee, laat ’n paar Boesman-families dit vat,” het Jurie Steyn onmiddellik gesê, “met die wasgoed en alles wat aan die wasgoedlyn gehang het.”

“Selfs nie eers ’n stad nie,” het At Naudé voortgegaan en heel gevat Jurie Steyn se tweede poging daardie middag om wat hy, Jurie Steyn, gedink het snaaks was, te ignoreer, “maar as ons miskien aan ’n redelike klein dorpie dink, sê maar soos Bekkersdal … Dis nie dat ek nie daarmee sou saamstem dat ons, natuurlik, ’n wyer watervoor in Bekkersdal se hoofstraat het as wat hulle in Zeerust het, maar dis net dat daar minder mense in die hoofstraat van Bekkersdal is as wat in Zeerust die geval sou wees, as julle verstaan wat ek bedoel ... Nou ja, kan jy jouself voorstel dat enige iemand in Bekkersdal sou vergeet waar hulle die plek gebou het? Op stuk van sake kan enige iemand vir homself sien hoe dwaas dit klink. Dit is asof dominee Welthagen, net voor Nagmaal, skielik vergeet waar die kerk is. Of David Policansky wat nie kan onthou waar sy winkel is nie, net ná hy alles vir Nuwejaar opgetooi het.”

Ons het natuurlik toegegee dat At Naudé dáár reg was. In die geval van dominee Welthagen, mag ons miskien nie te seker van wees nie. Want dit was bekend dat in sommige opsigte die dominee nogal heel verstrooid kon wees. Maar met David Policansky was At Naudé in die kol. Veral ná daardie groot spieëlruit wat David Policansky laat insit het. Dit was nie juis denkbaar dat hy dit sou vergeet nie. Nie met wat hy moontlik nog daarop geskuld het nie, het ons gesê. Jy is nie juis toegelaat om enigiets waarop jy skuld, te vergeet nie.

“Julle kan dus sien hoe ekstra verspot dit sou wees met ’n stad,” het At Naudé afgesluit. “Om te dink dat mense sou gaan en ’n stad bou en dit dan net laat wegraak.”

Daarna het jong Vermaak, die skoolmeester, gesê dat hy deur die geskiedenis van baie eeue gelede te wete gekom het dat mense geglo het dat daar ’n vreemde stad met die naam Monomotapa in daardie wêreld was, en dat talle ekspedisies in die verlede uitgestuur is om daarvoor te gaan soek. Dit was selfs op kaarte van lank gelede aangeteken, het die skoolmeester gesê. Maar as jy vandag daardie benaming op ’n kaart van Afrika kon sien, het hy gesê, nou ja, dan sou jy weet dat dit nie juis ’n baie byderwetse kaart van Afrika is nie, het die skoolmeester bygevoeg.

Bes moontlik sou die dorp Vanderbijl Park nie op so ’n kaart aangedui gewees het nie, het jong Vermaak al laggende gesê. Of selfs die dorp Odendaalsrust. Daar was veronderstel om ’n klomp goud en diamante in daardie stad met die vreemde naam te gewees het, het die skoolmeester bygevoeg.

Nou ja, met sulke opmerkings het jong Vermaak ’n onderwerp ter sprake gebring waarmee ons nie heeltemal onbekend was nie. Vroeër, voor vandag, het meer as een van ons ’n kaart in sy hand gehou wat so duidelik soos daglig, met ’n kruis aangedui, die presiese plek gewys het waar die verborge begraafde skat gevind sou kon word. Maar al wat ons waarskynlik daar sou opgegrawe het, sou ’n ou konfytblikkie wees. Die apokriewe element in die kartografie van Afrika was iets wat ons almal al ervaring van gehad het.

“Al wat ek kan sê,” het Gysbert van Tonder op hierdie stadium opgemerk, “is dat ek nie veel van ’n verlore stad weet nie. Maar dit lyk vir my dat daar meer as een verlore ekspedisie gaan wees. Afhangende daarvan hoe ver die ekspedisies in die woestyn anderkant Kang-Kang sal gaan.”

’n Hele paar van ons was verras toe Gysbert van Tonder dit gesê het. Verras maar ook beïndruk. Ons het geweet dat Gysbert van Tonder gedurende sy lewe nogal baie diep die Kalahari ingedring het, en krale en koperdrade vir beeste verruil het. Dit was natuurlik voor die stamme in daardie geweste uitgevind het dat hulle sulke goed nie meer nodig gehad het nie, want hulle kon hulle klere klaargemaak by die Indiër se winkel in Ramoutsa gaan koop. In elk geval, ons kon onsself nie voorstel dat hy só ver die woestyn ingevaar het nie.

Ná ’n rukkie van stilte het Jurie Steyn gevra: “Maar is daar …is daar waarlik, regtig ’n plek met so ’n naam?”

Gysbert van Tonder het geglimlag.

“Ja, op die landkaart is daar. Op die landkaart in my jongste seun se skoolatlas kan jy daardie naam vir jouself lees, lewensgroot. En in die middel van die Kalahari. Wel, dáár ís iets waarna een van daardie ekspedisies voor kan gaan soek. En miskien is dit hulle verlore stad. Dit is ten minste verlore genoeg. Want jy sal dit verseker nie kon onderskei van enige ander plek in die Kalahari in die middel vanwaar jy gestaan het, terwyl jy ’n paar Boesman-families dopgehou wat oor die horison verdwyn het nie.

En Jurie Steyn het toe gesê dat hy gereken het dat as dit die verlore stad was waarna ’n ekspedisie sou gesoek het, enige plek in die Kalahari goed genoeg daarvoor sou wees. Want wanneer die ekspedisie teruggekom het uit die Kalahari sonder dat hulle iets gekry het, sou dit aan die hele wêreld wys presies hoe verlore die stad werlik was, was Jurie Steyn se mening. As dit die doel van ’n Kalahari ekspedisie was, sou daar niks met daardie ekspedisie verkeerd kon gaan nie. In der waarheid, hoe minder so ’n ekspedisie sou vind, hoe beter dit sou wees. Want dit sou wys dat die stad spoorloos verlore gegaan het, het Jurie Steyn bygevoeg.


Next

Previous