David Stirling, ’n natuurlike leier

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre

 

Stirling was een van daardie mense wat gefloreer het in oorlogstye, nadat hy onsuksesvol was terwyl daar vrede was. In sy kort lewe het hy al verskeie beroepe uitprobeer – kunstenaar, argitek, cowboy en bergklimmer – en hy was in nie een van hulle suksesvol nie. Bevoorreg deur geboorte en opvoeding, intelligent en vindingryk, kon hy enigiets doen, maar in die vroeë gedeelte van sy lewe het hy min van waarde reggekry. Die oorlog was sy redding.

Die Stirling-familie was een van die oudste en mees vooraanstaande in Skotland – ’n aristokratiese clan van groot onderskeiding, lang militêre tradisies en aansienlike eksentrisiteit. David Stirling se ma was die dogter van Lord Lovat, die hoof van die Fraser Clan met bloedlyne wat strek tot by Charles ll. Sy pa, generaal Archibald Stirling, is in die Eerste Wêreldoorlog vergas. Hy het as ’n LV gedien en toe by Keir gaan aftree. Dié 15,000 akker Perthshire-landgoed was gedurende die voorafgaande vyf eeue in besit van die familie. Die generaal het sy uitgestrekte grondgebied en weerbarstige familie bestuur soos ’n goedhartige opperhoof wat ’n slagveld van ’n afgeleë koppie af besigtig het. David se formidabele moeder, Margaret, het die vuriger teenwoordigheid gehad: Haar kinders het baie ontsag en respek vir haar getoon. Keir House, waar David in 1915 gebore is, was ’n groot gebou maar yskoud, selfs in die middel van die somer. Dit was vol jagtrofeë, lawaai en kwajongstreke. Die Stirling-ouers het goeie maniere by hulle ses kinders ingehamer, maar hulle verder tot ’n groot mate in vrede gelaat om met hulle lewens aan te gaan. Die vier Stirling-seuns, van wie David die tweede was, het grootgeword deur bokke te bekruip, hase te jag, rusie te maak en om te wedywer. Die spel waarvan hulle die meeste gehou het, was ’n vorm van broederlike tweegevegte waarby windbukse gebruik is: Die twee broers het potskote na mekaar se boude geneem, en na elke skoot is daar een tree nader aan mekaar beweeg.

Ten spyte van die aristokraties-spartaanse begin in die lewe, was David Stirling nie ’n geharde kind nie. Op die ouderdom van agt is hy weggestuur na Ampleforth, ’n katolieke kosskool. Daar het hy tifuskoord opgedoen en is vir ’n lang periode huis toe gestuur om gesond te word. ’n Spraakgebrek is uiteindelik met chirurgie reggemaak. Hy het nie van sport gehou nie, en het sy bes probeer om dit te vermy. Hy het teen ’n verbasend tempo gegroei: Teen die ouderdom van sewentien, was hy amper ses voet ses duim lank, ’n lompe langeraat, eiesinnig, roekeloos en buitengewoon hoflik. Hoofsaaklik op grond van sy afkoms, het hy ’n plek by Cambridge Universiteit verkry, waar hy op ’n groot skaal homself wangedra het en meer tyd by die Newmarket-renbaan deurgebring het as wat hy aan sy studies gewy het. “As daar ’n ernstige kant aan my lewe was, het dit my totaal ontglip,” het hy later erken. As hy ooit ’n boek oopgemaak het, was dié gebeurtenis nie aangeteken nie. Na ’n jaar is hy deur die meester van sy kollege meegedeel dat hy geskors is. ’n Lys van drie en twintig misdrywe wat skorsing regverdig, is voorgelees, en hy is uitgenooi om drie te kies wat hy reken sy ma “die minste sou onstel”.

~

Die David Stirling wat in die herfs van 1939 by die Gaurds Depot in Pirbright opgedaag het, was ’n vreemde mengelmoes van komponente. Ambisieus maar ongefokus; deurtrek van die tradisies van soldate, maar allergies vir militêre dissipline. ’n Uitbundige uiterlike het ’n man wat geneig was vir periodieke depressies, weerspreek. Sy besondere goeie maniere en sosiale gemaklikheid het oomblikke van innerlike onrus verdoesel. Stirling was ’n romantikus met ’n ingebore talent vir vriendskap, maar min begeerte of behoefte vir fisieke intimiteit.

~

Hy het baie vriendinne gehad, en volgens sy biograaf, was hy “nie onaangetrek tot die teenoorgestelde geslag nie”. Nogtans het dit gelyk of hy net tussen mans ontspan het, “in wye oop ruimtes”. Soos baie vrolike mense, was hy ietwat eensaam. ’n Krygshaftige monnik wat na aksie en die geselskap van soldate gehunker het, maar wanneer die geveg verby was, het hy afgesonderheid omarm.

Stirling was ook besiel met diepliggende selfvertroue, die soort wat die resultaat is van goeie afkoms en grenslose geleenthede. Hy was salig onbewus van konvensie, en het reëls beskou as ergernisse wat geïgnoreer, verbreek, of andersins omseil kon word. Hy het ’n hoflike respek aan sy sosiale minderes betoon, en het geheel en al geen ontsag vir rang gehad nie. Hy was merkwaardig beskeie en ’n gespoggery en grootpratery het hom afgestoot: aanstellerigheid en pretensieusheid was vir hom die ernstigste beledigings. Sy styl was vaag en vergeetagtig, maar sy vermoë om te konsentreer was fenomenaal. Ten spyte daarvan dat hy liggaamlik lomp was en ’n wisselvallige akademiese rekord gehad het, het hy ’n hardnekkige geloof in sy eie intellektuele en fisiese vermoë gehad. Stirling het presies gedoen wat hy wou, en nie omgegee of ander persone gedink het dat sy doelwitte verstandig of selfs moontlik was of nie. Die SAS het gedeeltelik ontstaan omdat sy stigter nie “nee” vir ’n antwoord wou aanvaar nie – of dit gekom het van diegene in outoriteit of van persone onder sy bevel het nie saak gemaak nie.

~

Wanneer hy weggeglip het van die Guards Depot by Pirbright, het hy dikwels Londen toe gegaan vir ’n aand van drank, dobbel en biljart by White’s Klub. En net so dikwels is hy uitgevang en in die barakke ingehok. As ’n rekruut was Stirling ’n nagmerrie: voorbarig, traag en baie keer half aan die slaap as gevolg van sy gefuifery die vorige nag. “Hy was geheel en al onverantwoordelik,” het Willie (later burggraaf) Whitelaw, ’n medekwekeling by Pirbrightonthou. “Hy kon dit net nie verdra dat ons besig was om opgelei te word volgens die beginsels van die vorige groot konflik nie. Sy reaksie was eenvoudig net om alles te ignoreer.”

Dit was in die kroeg by White’s Klub, een van die mees eksklusiewe hereklubs in Londen, waar Stirling vir die eerste keer geleer het van ’n soort van oorlogvoering wat vir hom meer na avontuur en opwinding geklink het: ’n Kranige nuwe kommando-eenheid wat bedoel was om vyandelike doelwitte met maksimum trefkrag by te kom. Stirling se neef, Lord Lovat, was een van die eerste vrywilligers wat by die kommando’s aangesluit het.

~

Stirling het dadelik vrywillig aangesluit. Gou het hy homself bevind waar hy aangestryk het deur die wildernis van die weste van Skotland. Dit was die bekende omgewing van sy seunsjare en vêr van die paradegrond wat hy nie kon verdra nie. Die kommando’s het weke lank in die moerasse en varings van die eiland van Arran geoefen: afstandsmarse, ongewapende stryd, uithouvermoë, veldkuns, navigasie en oorlewingstaktieke. Selfs op hierdie vroeë stadium het sommige van die vrywilligers agtergekom dat hierdie lang, jong offisier ietwat anders was. Stirling was ’n natuurlike leier, met ’n onderbeklemtoonde maar onbuigsame geloof in sy eie besluite, en wat op ’n beleefde wyse daarop aangedring het om self alles en nog meer te doen as dit wat hy van sy manskappe gevra het.


Next

Previous