Op Heterdaad Betrap

Posted on February 18, 2016 by Cape Rebel


Uit Die groot Boere-ontsnapping 
deur Willie Steyn


Ná dié drie mislukkings besluit ons dat die noodlot teen ons inspanning is om ’n tonnel te grawe, en dat ons ’n ander manier moet bedink om te ontsnap. Maar voor ek verder gaan, laat my die kamp beskryf waarin ons ons bevind ter wille van diegene wat onbekend is met prisonierskampe.

’n Doringdraadheining van vyf voet hoog is om die hele kamp, en ’n entjie verder weg is daar ’n omheining van gegalvaniseerde yster van sewe voet hoog, met ’n ruimte van ongeveer sestien treë wat tussen die twee heinings oopgelaat is. Die oop gedeelte word “die doodsruimte” genoem, en enige krygsgevangene wat daar gesien word, loop die gevaar om onmiddellik, sonder enige waarskuwing, doodgeskiet te word. Daar bestaan ’n derde omheining behalwe die twee eersgenoemdes, om die publiek op ’n afstand te hou. Die brandwagte staan op hoë terrasse of platforms wat die hoogte van die buitenste heining is, en snags word die hele kamp verlig deur ’n elektriese lig wat alles soos daglig verlig.

Om oor die heining te klim, is prakties onmoontlik en daarom gaan ek, Tielman Roos en Piet Botha wat besonder goeie vriende is, op ’n ander manier te werk. Ná ek die kamp vir ’n paar dae sorgvuldig deurgekyk het, merk ek eendag op dat die grond binne die omheining op een plek laer is as die ysteromheining wat bo-oor loop, en dat die opening met klippe opgevul is. Dit is presies tussen die twee brandwagte in die ruimte van die dood. Om daar gesien te word, beteken net een ding – die dood sonder twyfel.

Ons besluit dat dit aan die lot oorgelaat sal word wie van ons die gevaarlike onderneming sal uitvoer om die stene of liewer, die klippe te verwyder sodat daar ’n gat kan wees waardeur ons kan kruip.

Die lot van op Roos.

Hy kruip deur die doringdraad-omheining en gelukkig vir hom, gaan hy onopgemerk oor die oop ruimte, en ná ’n ruk wat vir ons soos ’n ewigheid lyk, kruip hy terug en vertel ons dat hy die klippe sal kan verwyder, maar dat daar ook twee drade langs die opening loop. Hulle sal eers geknip moet word voor ons kan deurgaan.

Roos het sy deel gedoen en dis nou my en Botha se beurt om lootjies te trek.

Dié keer val die lot op my.

Wat nou eerste gedoen moet word, is om ’n draadtang in die hande te kry en die drade te knip. Ek ken iemand wat ’n knyptang die kamp ingesmokkel het, en gaan nou dadelik na hom toe om dit te leen, maar hy raai wat my voorneme is en weier om dit vir my te gee.

Dis egter my geluk om ’n vyl van ’n juwelier te leen en daarmee spring ek aan die werk.

Ek kruip deur die doringdraad en beweeg stadig na die ysteromheining terwyl ek die brandwagte die hele tyd in die oog hou, en begin dan om die drade deur te vyl.

Die werk vorder maar baie stadig, en ek is steeds verbaas hoe dit moontlik is dat die brandwagte my nie hoor nie, want die tweede draad wat styf gespan was, breek met so ’n harde slag dat dit duidelik op ’n afstand van vyftig treë gehoor kan word.

Ons plan is om die taak so teen agtuur se kant te voltooi en om dan te ontsnap en met die mense op straat te meng, en naby hulle te loop sodat, al sien die wagte ons, hulle nie op ons sal skiet nie weens die nabyheid van die ander mense.

Ongelukkig neem dit egter so lank om die drade met ’n stomp vyl deur te vyl dat dit reeds ná elfuur is voor ek in staat is om terug te kruip om my vriende te vertel dat die opening gereed is.

Dit is nou doodstil op die straat en geen geluid kan gehoor word nie behalwe die geluide van die brandwagte se voetstappe op die uitkyktorings hoër op. As ons nou moet gaan, sal ons ongetwyfeld gesien word. Omdat daar niemand op straat is nie, besluit ons om tot die volgende aand te wag. Die volgende dag is Sondag en die hele lange eindelose dag is ons oë gevestig op die opening wat ons gemaak het om seker te wees dat dit nie raakgesien word nie.

Eindelik breek die aand aan en weereens word dit aan die lot oorgelaat om te besluit wie die eerste kans gaan kry om te ontsnap. Dit is weer Roos, en ná ek en Botha sy hand geskud het, kruip hy deur die draad en begin om oor die gevreesde ruimte van die dood te kruip.

Ek en Botha hou wag. Die brandwagte is op hulle hoë uitkykposte met hulle gewere voortdurend in gereedheid. Jy kan jou voorstel hoe ons met opgehoue asem hulle elke beweging dophou om te sien of hulle Roos dalk opmerk. Natuurlik hou Roos ook al hulle bewegings dop.

Skielik draai een van die wagte sy kop asof hy iets gehoor het en kyk reguit in Roos se rigting. Ek en Botha wag om alarm te maak sodra die wag dalk sy geweer oplig. Dit lyk egter of die wag net diep in gedagte is, want hy wys geen teken dat hy van Roos bewus is nie. Roos sien dit ook en kruip dadelik terug na ons toe. “Het julle die brandwag gesien?” vra hy.

Niks kan hom oortuig dat die soldaat hom nie gesien het nie, en maar slegs gewag het om ’n goeie skoot op hom te kry sodra hy buite die heining aanland, soos dit reeds met twee ander gevangenes gebeur het. Ná ons ’n rukkie beraadslaag het, besluit ons om te probeer om saam te ontsnap.

Hierdie keer is ek die eerste om deur die draad te kruip en ek is net mooi halfpad toe Botha my terugtrek en sê: “Pasop, daar’s hulle.”

’n Offisier met vyf of ses manskappe kom hier op ons afgestap en so word ons op heterdaad betrap.

Hy skryf ons name neer en stap daarna die doderuimte binne om persoonlik die gat wat ons gemaak het, te inspekteer. Sy verbasing is blykbaar groot, want ons hoor hom uitroep: “Liewe hemel! Hoe het hulle dit reggekry? Dit gat is groot genoeg om ’n wa deur te laat.”

’n Ekstra wag word by die gat geplaas en ons word na ons tent teruggestuur. Dáár word ons van alle kante af deur ons medegevangenes verwyt dat ons hulle in diskrediet bring en net veroorsaak dat hulle lewens nog verder versuur sal word.

Hulle is almal bang vir die seereis wat natuurlik saamgaan met die deportasie na Ceylon of Bermuda.

Ons is weer deur een van ons eie mense verraai, en dit was ons laaste kans om uit die Groenpuntkamp te ontsnap.

Die volgende oggend, 15 November 1900, kry ons die berig om ons gereed te hou om tweeuur aan boord van die Catalonia te gaan.

Posted in Afrikaans


Next

Previous