Tito – ’n Roepstem Tot Aksie

Posted on October 22, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches
deur Fitzroy Maclean


Toe ons ingestap het, het Tito vorentoe gekom om ons te ontmoet. Ek het hom sorgvuldig bekyk, want hier, so het dit vir my gelyk, was een van die sleutels tot ons probleem. “Gedurende oorlog,” het Napoleon gesê, “is dit nie die mense nie, maar die man wat tel.”

Hy was van gemiddelde lengte, skoon geskeer, met songebrande onberispelike gelaatstrekke en ysterkleurige hare. Hy het ’n ferm mond en op en wakker blou oë gehad. Hy het ’n donker semimilitêre baadjie en kortbroek gedra, sonder enige kentekens; ’n netjiese das met kolle was die enigste toevoeging tot kleur. Ons het hande geskud en gaan sit.

Hoe, het ek gewonder, sou hy vergelyk met die kommuniste wat ek in Rusland teëgekom het? Almal, van die lede van die Politburo af tot die NKVD-spioene wat my dopgehou en agtervolg het, het een ding in gemeen gehad, hulle angs vir verantwoordelikheid, hulle teensinnigheid om vir hulself te kon dink, hulle blinde onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan ’n Party-gedragslyn wat deur ’n hoër gesag gedikteer is, die verskriklike atmosfeer van vrees en agterdog wat hulle lewens deurdring en beheer het. Sou Tito een van daardie soort kommuniste wees?

’n Skildwag met ’n Schmeisser-handmasjiengeweer wat oor sy rug geswaai was, het ’n bottel pruimbrandewyn gebring en vir ons ingeskink. Ons het ons glase geledig. Daar was ’n verposing.

Dit was duidelik dat ons in die eerste plek ’n gemeenskaplike taal moes vind. Ek het gevind dat dit geen probleem was nie. Tito het Duits en Russies vlot gepraat, en hy was ook heeltemal gereed om my by te staan in my eerste poging om Serbo-Croat te praat. Na ’n paar rondtes pruimbrandewyn, was ons druk in gesprek met mekaar.

Een ding het my dadelik opgeval: Tito se gewilligheid om enige vraag op sy meriete te bespreek en, indien nodig, daar en dan ’n besluit te neem. Hy het geheel en al selfversekerd voorgekom; ’n hoof, nie ’n ondergeskikte nie. Om sulke selfvertroue, sulke onafhanklikheid in ’n kommunis te vind, was vir my ’n nuwe ervaring.

Ek het begin deur hom te vertel wat die doelwit van my sending was. Die Britse regering, het ek gesê, het verslae oor Partisan-weerstand ontvang en was gretig om te help. Hulle was egter steeds sonder akkurate inligting wat betref die omvang en aard van die Partisan-beweging. Saam met ’n span militêre deskundiges is ek gestuur om ’n volledige verslag op te stel en ook om die opperbevelhebber van raad te bedien oor hoe hulp die beste verleen kon word.

Tito het geantwoord dat hy bly was om dit te hoor. Die Partisans was toe besig om alleen te veg, en was vir twee jaar al sonder hulp betrokke teen ’n oorweldigende oormag. Vir voorrade was hulle afhanklik van wat hulle van die vyand kon buit. Die Italiaanse kapitulasie was vir hulle van enorme hulp. Maar hulp van buite was wat hulle die meeste nodig gehad het. Dit was waar dat daar af en toe in die voorafgaande weke vragte voorrade per valskerm laat val is, maar die klein bietjie wat hulle op hierdie manier bereik het, hoewel met dankbaarheid ontvang, was maar van min praktiese nut wanneer dit tussen meer as 100 000 Partisans uitgedeel moes word.

~

Soos dit later in die aand geword het, het ons geselskap afgedwaal van die dringende militêre probleme waaroor ons gepraat het, en Tito, wie se aanvanklike beskroomdheid lankal vervaag en verdwyn het, het my toe so ietwat aangaande sy verlede vertel. Die uitgelate gedeeltes in sy verhaal het ek later bygevoeg.

As die seun van ’n Kroatiese kleinboer, het hy in die Eerste Wêreldoorlog in die geledere van die keiserlike Oostenryk-Hongaarse weermag geveg. Hy is na die Russiese front gestuur waar hy deur die tsaar se magte gewond en gevange geneem is. Sodoende, in 1917, ten tyde van die Bolsjewistiese rewolusie, het hy homself in Rusland bevind. Al die oorlogsprisoniers is vrygelaat en hy het vrywillig aangesluit by die nuutgevormde Rooi Weermag. Hy het regdeur die burgeroorlog daarin diens gedoen. Dit was sy eerste kennismaking met die nuwe idees, en hy het na sy eie land teruggekeer as ’n oortuigte kommunis.

Die lewe wat toe begin het vir Tito, of Josip Broz, om sy regte naam te gebruik, was dié van ’n professionele rewolusionêr, van ’n lojale dienaar van Kommunisme Internasionaal. Daarvan het hy geen geheim gemaak nie. In die nuwe koninkryk van Jugoslawië, waarvan hy toe ’n burger was, is die kommunistiese party amper net ná dit gestig is, onwettig verklaar, en verskeie dwangmaatreëls is teen hulle lede ingestel. En so het hy toe die daaropvolgende twintig jaar binne en buite die tronk deurgebring, asook om weg te kruip of om in ballingskap te verkeer. Ewe trots het hy my ’n foto van homself gewys wat die Partisans in ’n ou polisieregister raakgeloop het, en wat hy toe as ’n aandenking aangehou het van dié tydperk in sy lewe.

Toe het daar in 1937 ’n nuwe fase in sy loopbaan begin. Kommunisme Internasionaal het die buitelandse kommunistiese partye gesuiwer. In Jugoslawië het hulle gevind dat die party erg gedisorganiseerd was en ernstig afgedwaal het. ’n Sleutelstreek in Suid-Oos Europa is bedreig. ’n Betroubare, vasberade man is benodig om sake weer reg te stel. Gorkić, die sekretaris-generaal van die Jugoslaafse kommunistiese party, is gelikwideer en Jossip Broz is in sy pos aangestel.

Hy was ’n goeie organiseerder. In sy ondergrondse weermag het hy nuwe aanstellings gemaak, nuwe take is toegewys en ’n nuwe dissipline is op die been gebring. Hy het mense laat kom en hulle vertel wat hulle moes doen. “Jy,” het hy aan hulle in Serbo-Croat gesê, “sal dit doen; en jy, dat” – “Ti, to; ti, to.” Hy het dit so gereeld gedoen dat sy vriende begin het om hom Tito te noem. Die naam het geklou. Dit het gegroei tot meer as net ’n bynaam. Dit het ’n roepstem tot aksie geword, ’n saamtrekpunt.

Posted in Afrikaans


Next

Previous