Paragraaf 22

Posted on July 31, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Maclean

Daar is gesê dat oorlog maar net diplomasie is wat op ʼn ander manier voortgesit word. Dit het sonder twyfel vir my gelyk, daar waar ek by my lessenaar in die departement van Buitelandse Sake gesit het, dat my eie beroep, sedert vyandige optrede begin het, skielik niksbeduidend geword het. Ek het besluit om my amp in die diplomatieke diens neer te lê en om by die weermag aan te sluit.

Maar dit was makliker gesê as gedoen. Ek het skaars my voorneme genoem om te bedank, toe daar, sonder om doekies om te draai, aan my uitgewys was dat my optrede uiters onpatrioties was. Vir ses jaar, het hulle gesê, was ek besig om te leer hoe om my werk te doen. En net toe ek tekens van geringe waarde begin toon, wou ek, ten einde my eie persoonlike verwaandheid te bevredig, die loop neem en soldaatjie gaan speel; ek skiet jammerlik te kort aan enige verantwoordelikheidsbesef. Maar, in my geval, sou my bedanking nie aanvaar word nie. Die Nuwe Verdedigingsregulasies het in hierdie opsig die minister van binnelandse sake volmag gegee.

“En wat daarvan as ek hier uitstap en gaan aansluit?” het ek gevra.

“As jy dit doen,” het hulle gesê, “sal die ministerie van oorlog gevra word om jou dadelik terug te stuur. In boeie, indien nodig.”

Dit was ’n uitklophou. Ek het besluit om die aftog te blaas en die saak weer te bedink.

~

Ek het ’n tydlank gewag voor ek hulle weer genader het. Ek het ’n onderhoud versoek met die voltydse ondersekretaris van buitelandse sake, sir Alexander Cadogan. Intussen het ek ’n deeglike studie gemaak van die regulasies van die buitelandse sake. Paragraaf 22 het my gegee wat ek nodig gehad het.

“En wat wil jy hê?” het sir Alexander gevra en van sy lessenaar af opgekyk. Hy was ’n besige man.

“Ek wil ’n politikus word,” het ek gesê.

“In daardie geval,” het hy sonder entoesiasme geantwoord, want die begrip van partypolitiek was vir ’n voltydse amptenaar weersinwekkend, “in daardie geval sal jy die diens moet verlaat.”

Ek het geantwoord dat ek daarop voorbereid was. Inderdaad, as hy dit so sou verkies, kon ek daar en dan my bedanking aan hom oorhandig. En daarmee het ek ’n netjies geskrewe bedankingsbrief op sy lessenaar neergesit, en spore gemaak die studeerkamer uit. ’n Paar minute later was ek in ’n taxi op pad na die naaste werwingskantoor. Dit was eenvoudiger as wat ek verwag het.

Die mediese ondersoek en werwingsproses het hul gewone, ietwat langdurige verloop geneem. Wat vir my die begin was van ’n nuwe fase in my lewe, was vir die klerke en dokters wat my besonderhede afgeneem het, slegs vervelige roetine. Na ek die eed afgelê en ’n aantal forms ingevul het, was ek ’n soldaat met ’n spoorwegmagtiging na Inverness. Ek was ’n gewone soldaat in die Cameron Highlanders, my pa se ou regiment.

~

En toe op ’n dag is ek na die kaserne-kantoor ontbied en is die onverwagte nuus aan my meegedeel dat ek ’n onmiddellike opdrag ontvang het en as ’n tweede luitenant na die 1ste bataljon gepos is.

~

Daar was ook ander gerugte: van my vriende in Londen het die onrusbarende nuus deurskemer dat my onsuksesvolle poging om die politiek te betree, nie ongesiens verbygegaan het nie; dat stappe besig was om geneem te word om my terugkeer na buitelandse sake te verseker, want daar was by hulle ’n pynlike gebrek aan personeel. Na ’n belowende begin, het dit regtig gelyk of my militêre loopbaan afgestuur het op ’n ontydige einde.

Slegs een ding kon my red: ’n vroeë verkiesing tot parlementslid. Ek was reeds in kontak met die Konserwatiewe Party se hoofkantoor. Met hernude ywer het ek teruggekeer tot die aanval. Aan my is gesê dat daar ’n tussenverkiesing in Lancaster sou plaasvind en dat daar nog nie ’n Konserwatiewe kandidaat benoem is nie. As dit my sou geval, kon ek daarnatoe gaan en uitvind wat die plaaslike Vereniging van my gedink het. Ek het by die kolonel aansoek gedoen vir ’n paar dae se verlof en gegaan.

Ietwat beskroomd het ek myself by die plaaslike hoofkwartier van die Party aangemeld. Dit was my eerste ervaring van die politieke wêreld. Vir die helfte van die vrae wat aan my gestel was, het ek geen antwoord voor gehad nie, en om voor te gegee het dat ek wel geweet het, was buite die kwessie. Die uitvoerende komitee het verdaag om die mededingende meriete van die onderskeie kandidate te bespreek. Met hulle terugkoms het hulle tot my groot verbasing, my vertel dat ek aanvaar was. Dit was nog meer van ’n verrassing, want ek het vooraf verduidelik dat, indien hulle my verkies, my militêre pligte voorrang sou geniet.

Dit was omtrent ’n maand voor die stemmery. Ek het aansoek gedoen om vir ’n maand met verlof te gaan, en het toe met die verkiesingstryd begin. Ek was omtrent nog nooit by ’n politieke vergadering nie en het nog nooit ’n toespraak in my lewe gemaak nie. Teen die einde van ’n week het ek drie per aand gemaak, en na twee weke het ek dit amper al begin geniet. Nie net my ondersteuners nie, maar almal wat ek ontmoet het, het my onder hulle sorg geneem. Hulle het my onthaal, getrakteer met drankies, van raad bedien, en my vertel wat om te doen en wat om nie te doen nie. Hulle het met ware Noord-Engelandse openhartigheid my laat weet wat hulle van my toesprake gedink het. Ietwat verbysterd maar gelukkig, het ek gallonne bier gedrink en duisende mense se hande geskud. Ek was gedurig laat vir my volgende afspraak, soos ek van huis tot huis en straat tot straat en dorp tot dorp geloop of bestuur het.

Waarheen ek ookal gegaan het, tussen ondersteuners of teenstanders, is ek met dieselfde openhartige vriendelikheid ontmoet. Ek het so te sê nog nooit my voete in die laerhuis gesit nie, en daar was geen manier hoe ek sou weet of die lewe van ’n parlementariër my sou pas of nie. Maar van een ding was ek doodseker: as ek ’n politikus moes wees, dan sou ek graag hierdie soort mense wou verteenwoordig.

Toe het die dag voor die verkiesing aangebreek: gepakte sale, lawaaierige vergaderings; stemdag; ’n toer van die kiesafdeling uitgedos met rosette en linte soos ’n skoubul; gedempte afwagting in die stadsaal; die uitslag: ek het dit gemaak: LV vir Lancaster.

Lid van die parlement, of peloton-bevelvoerder?

Soos dit later geblyk te gewees het, was dit nie vir my bestem om hierdie dubbele rol lank te vervul nie. Na ons ’n hele lange dag met opleiding in die vleilande besig was, is ek daardie nag wakker gemaak deur ’n rapportryer en aangesê om dadelik by die bataljon se hoofkwartier aan te meld. Daar is die sein afkomstig van die ministerie van oorlog aan my gewys. Die opdrag was dat ek dadelik op verskepingsverlof moes gaan. Ek het my kiesers herhaaldelik daarop gewys dat, indien ek beveel sou word om na die buiteland te gaan, ek nie ’n ander keuse sou hê nie. En so het ek hulle in die bekwame en ervare hande van Jim Thomas, ’n ou vriend uit buitelandse sake, toevertrou en my gang gegaan.

’n Week daarna was ek op ’n seevliegtuig onderweg na Kaïro. Wat aan einde op my gewag het, het ek geen idee van gehad nie. Maar in hierdie ongure herfsgety van 1941 was ek ten minste bestemd vir die enigste aktiewe teater van militêre-aksie: die Midde-Ooste.

Posted in Afrikaans


Next

Previous