Agter die Volgende Horison

Posted on July 31, 2015 by Cape Rebel

Uit No Outspan 
deur Deneys Reitz

Ek het ’n ietwat verwaarloosde ou Boerejagter ontmoet, en my geselskap met hom sou my inspireer om ’n lang toer te onderneem. Hy was van Angola afkomstig, maar het ’n paar jaar in ’n omgewing wat bekend staan as die Kaokoveld – wat hy met ’n wye swaai van sy arm vaagweg aangedui het in die noorde lê – deurgebring.

Hy het my vertel van grootwild en vreemde stamme en vele avonture, en veral een storie in besonder: Hy was teen skemer besig om bokke te bekruip toe hy skielik ’n goederetrein trein oor die rantjie sien beweeg het.

Vir ’n oomblik het hy gevoel hy was van sy verstand berowe, maar toe het hy besef dat dit waarna hy gekyk het, nie ’n goederetrein was nie, maar honderde olifante wat in ’n ry agtermekaar geloop het.

Sy stories het vir my wonderlik geklink en ek het gedink dat daar êrens ’n hoekie van die ou onbeskaafde Afrika oorgebly het, wat nog steeds ongerep was, onaangeraak deur witmense. Dit het my verbeelding so aangegryp dat ek besluit het om dié plek self te gaan besigtig.

~

Toe ons die volgende dag uit Khairos vertrek het, het ons ’n dowwe paadjie gevolg wat Daniel heel optimisties “die Pad van die Angola-Boere” genoem het. Hy het gesê dat dit die roete van die Dorsland-Trekkers was wat vyf en veertig jaar gelede daar deurgetrek het. Hulle het sonder twyfel ’n pad vir hulle waens oopgekap, maar dit het ’n beter waarnemersoog as myne vereis om enige teken daarvan te bespeur, en dit was met groot moeite dat ons ons wa deur die digte bos kon kry. Ons het in ’n noordelike rigting gereis en Otyitundua na vyf of ses dae bereik.

In die aand het ons gewoonlik ’n sekere afstand van die watergate af gekamp, want die olifante het met sononder water kom drink en ons kon hulle bekyk soos hulle verby ons geloop het. Die bulle en die koeie het nooit saam gedrink nie, maar beurte gemaak. Die bulle het gedemp en byna onhoorbaar aangekom, gedrink en geplas in die water en in die modder gerol. Net so sag as wat hulle opgedaag het, het hulle weer weggegaan, maar van die koeie se aankoms, was jy van ’n afstand af al deeglik bewus en hulle het net niks van ons teenwoordigheid gehou nie. Sodra hulle ons reuk opgetel het, het hulle toornig getrompetter en die kalwers het al skreeuende rondgehardloop, en sodoende ’n kabaal veroorsaak wat aanvanklik ontstellend was.

Hulle het egter nooit probeer om ons lastig te val nie, en op maanlignagte kon ons hulle duidelik sien. Wanneer ons in die dag verby olifante beweeg het, het hulle met ’n slofgang wegbeweeg, hoewel ’n bul al een of twee keer omgedraai het met uitgestrekte ore en slurp in die lug asof hy reggemaak het om te storm. Ek en Daniel het ons gewere gereed gehou as dit nodig sou wees, maar dit was nooit nodig om te skiet nie.

Op pad na Otyitundua was daar verskeie plekke met lopende water, en by een van hierdie plekke het ons die eerste oorblyfsel van die Dorslandtrek gesien; want daar, langs ’n uitgetrapte olifantpaadjie, het die eensame graf van een van die trekkers gelê, en van daar af het ons herhaaldelik soortgelyke mylpale van daardie ontembare pioniers raakgeloop. Die grafte was bedek met kalksteen en het daar goed uitgesien. Daniel het selfs die name geken van dié wat daar begrawe was.

By Otyitundua is die murasies van huise wat hulle in 1878 en 1879 gebou het, te siene, sowel as die oorblyfsels van beeskrale en die mure om hulle tuine en die leivore wat hulle gegrawe het vir water na die laerliggende dele vir besproeiing. Dis moeilik verstaanbaar waarom hulle so ’n plek sou verlaat. Hier het hulle vrede en oorvloed ervaar in omstandighede wat vir hulle ideal moes gewees het na hulle omswerwinge in die woestyn, maar die trekkersgees het hulle voortdurend voortgedryf.

Daardie aand toe ons die koppie by Otyitundua bereik het, het ’n trop olifante wat kom drink het, ’n trop beeste wat aan ’n plaaslike Herero behoort het, op loop gejaag. Die vreesbevange diere het langs ons wa verby weggehol met die olifante op hulle hakke agterna. As dit nie was dat Daniel voorsorg getref het om ons osse deeglik met gemsbokrieme aan ’n groot boom vas te bind nie, sou hulle ook die loop geneem het, want die verskrikte diere het wild aan die rieme geruk en gepluk. As hulle daarin sou geslaag het om los te kom, sou ons hulle nooit weer gesien het nie.

Die beeste het gebulk en die olifante het getrompetter en weggestorm te midde van ’n stofwolk. Dit was ’n onvergeetlike ervaring. Dit het vir my gelyk asof die olifante en die beeste ewe verskrik was. Toe die beeste begin hardloop, het dit hulle ook aangesteek, want hulle het geen poging aangewend om die beestrop aan te val nie. Die laaste wat ons van hulle gesien het, was toe die diere deurmekaar besig was om so vinnig as moontlik te probeer wegkom van ’n denkbeeldige gevaar êrens agter hulle.

Dit het ons twee dae geneem om deur skilderagtige velde wat oortrek was van wild, tot by Ubombo te reis. Oral om ons was daar troppe gemsbokke, sebras, kameelperde en nogmaals olifante. Op ’n slag het ek verskeie uitgegroeide kameelperde met twee kalwers gesien. Een van hulle was omtrent agt voet hoog, maar die ander een kon nie veel ouer as ’n paar dae gewees het nie. Hy was só klein dat ek vir eers net ’n kop met ’n paar ore bokant die lang gras kon waarneem, sodat ek gedink het dat dit een of ander soort bok was. Eers toe hulle deur ’n oopte gestap het, kon ek sien wat dit was: ’n Jongetjie, net die ene nek en bene, wat langs sy ma gestruikelloop het.

~

Bo en behalwe die wildsbokke was daar baie tarentale, patryse en fisante, en was ons spens goed voorsien. Een oggend het daar ’n swerm tarentale van seker ’n hele paar honderd agtermekaar in ’n paadjie aangeloop gekom. Ek het gewag tot die voorstes in die ry omtrent twintig treë van my af was, en toe het ek gefluit. Die voëls het opgekyk, en met een koeël het ek sewe van hulle deur die kop geskiet. Dit was pure moord, maar vir meer as ’n week lank het ons pluimvee te ete gehad.

By Ubombo het ons vir ’n paar dae lank uitgespan en toe na Gauko-Otawi deur bosse getrek wat al digter geword het. Dit was die Rustplaats van die Trekkers. Hier het hulle in 1878 ’n kerk gebou en hulle trekkoors was vir ’n wyle gestil. Hulle het gedink dat hulle uiteindelik die land van hul drome bereik het, maar hulle het net twee jaar daar gebly. Vir dié Boere het Utopia altyd agter die volgende horison gelê.

Posted in Afrikaans


Next

Previous