St. Petersburg

Posted on May 22, 2015 by Cape Rebel

Uit Die groot Boere-ontsnapping 
deur Willie Steyn
[Bekendgestel by die Franschhoek Literêre Fees op 16 Mei 2015]

Ons reis deur ’n buitengewone plat landstreek en deur lang afstande van digbegroeide bosse. Dit is winter, en vreemd vir ons wat in sonnige Suid-Afrika grootgeword het, om alles so oortrek van sneeu te sien.

Die oggend van die dag ná ons uit Feodosia vertrek het, arriver ons by ’n plek met die naam van Vilna, ’n pragtige stad. Hier is ’n besondere groot klomp mense wat gekom het om te sien hoe ons lyk.

Die groot platform is stampvol en die polisie moet vir ons ’n weg baan. Van die stasie af loop ons na ’n verversingsaal, en die skare volg ons sodat die saal binne ’n oogwink vol is. Al die openbare aandag, hoe goed ookal bedoeld, word nou vervelig en ons is bly toe die eienaar binnnekom en die skare beveel om uit te gaan, sodat net ons vyf en ons drie Russiese vriende agterbly. Ons sit by ’n lang tafel, maar ná ’n rukkie, en ná daar seker toestemming van die eienaar verkry is, kom ’n aantal dames van verskillende ouderdomme by een van die deure in. Party staan ’n rukkie stil om ons aan te staar, en dan loop hulle weer by ’n ander deur uit ná hulle vir ons gewuif en vriendelik met “adieu” gegroet het.

Ná middagete deel die offisiere ons mee dat ons verder alleen na St. Petersburg sal moet gaan, aangesien hulle opdrag gekry het om na ’n ander plek met die naam van Sivolki, te vertrek.

Nou moet ons beplan hoe om sonder paspoorte in St. Petersburg te kom. Weereens reël ons offisier-vriende dit vir ons op ’n militêre manier. Ons moet gaan, vermom as rekrute vir die leër, en so word ons deur ’n rekrute-offisier voorsien van ’n dokument vir daardie doel. Vervolgens word ons geklee in Russiese boereklere. Dit bestaan uit ’n wit oorjas wat tot op die knieë hang, gemaak van skaapvelle met die wol aan die binnekant. Verder kry ons Astrakan-Russiese pette, dik handskoene wat van ’n soort vilt gemaak is, en ’n paar hoë skoene wat gemaak is van dieselfde materiaal, maar saamgepers. En só aangetrek ry ons per spoor na St. Petersburg.

Op Sondag toe ons uit die trein klim, kom ’n polisieman na ons toe en sê in Russies: “Paspoorte asseblief.” Ons haal die dokumente uit wat die rekrute-offisier ons gegee het. Hy bekyk dit en gee dit terug met ’n “dankie” en stap verder aan. Ons is vooraf ingelig presies oor wat sal gebeur, en daarom het ons ’n paar Russiese woorde van buite geleer.

Ons is bewus daarvan dat ons in St. Petersburg gou in aanraking sal kom met bekende Boerevriende en ander mense wat ons goedgesind sal wees, en van wie ons hulp kan verwag. Ons het reeds ’n uitnodiging van die plaaslike Nederduits-Gereformeerde predikant ontvang. Ds. Gillot het ons per telegraaf uitgenooi toe ons nog in Feodosia was.

Van die stasie af loop ons na die sleë wat in rye by alle groot stasies as huurrytuie staan. Ons vra om na ds. Gillot geneem te word. Sy adres is op ’n visitekaartjie geskryf wat ons aan die koetsier toon. Ons vat die pad en ná ons omtrent ’n kwartier gery het, hou ons voor die huis van ds. Gillot stil. Hy verwelkom ons hartlik toe hy ons by die deur van sy pragtige huis ontmoet. Ons word op ons gemak gestel, en weldra geniet ons middagete.

Later stuur die eerwaarde sy koster saam met ons om vir ons kamers te huur by die hotel Dogma. Volgens die Russiese wette egter, kan die hoteleienaar ons nie akkommodeer nie alvorens hy ons paspoorte gesien het. Die koster neem die boodskap terug na ds. Gillot, terwyl ons by die hotel wag. Hy is ná ’n rukkie terug met ’n brief van ds. Gillot, waarna alles uitgestryk word, en ons besonder gerieflike kamers uitgewys word.

Ná die kerkdiens wat ons dié Sondag bywoon, bring ons die res van die middag in ds. Gillot se geselskap deur. Hy praat vloeiend Hollands en ons vertel hom alles van die oorlog in Suid-Afrika en ons ontvlugting.

Die Russies-Hollandse Ambulans wat uitstekende bystand aan ons verleen het aan die begin van die oorlog, is hoofsaaklik deur hierdie welmenende man tot stand gebring. Ek het hierdie ambulans persoonlik dikwels in die veld gesien, en dit het hom natuurlik groot genoegdoening verskaf om alles daarvan te hoor.

Later word ons voorgestel aan meneer en mevrou Palovtschoff. Hy is ’n vooraanstaande en gesiene man in die Russiese ryk, aangesien hy op niks minder nie as die geheime raad van sy majesteit, die tsaar, dien.

Mevrou Palovtschoff weer, is die sekretaresse van die ambulanskomitee, en in dié hoedanigheid doen sy ’n enorme hoeveelheid werk met die insameling van geld en die organisasie van basaars vir die Russies-Hollandse Ambulans. Sy skenk aan elkeen van ons ’n album wat tot voordeel van die fonds gemaak en verkoop word. Die belangwekkende boek wat een van my min aandenkings van ons moeitevolle reis is, is steeds in my besit. Dit verdien gemeld te word dat president Steyn ’n goue borsspeld met die Vrystaatse wapen daarop aan mevrou Palovtschoff geskenk het, uit waardering van haar dienste.

Posted in Afrikaans


Next

Previous