Propaganda – 'n Pittige Een

Posted on May 22, 2015 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Patrick Leigh Fermor, ’n Britse offisier wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in bevel was van die ondergrondse operasies in Kreta, het op 23 Junie 1942 in die geheim op die suidkus van die eiland aan wal gegaan. 

Duitse en Italiaanse troepe was in beheer, en Fermor se taak was om die Kretaanse vryheidsvegters te organiseer, inligting in te win en op verskeie maniere die vyand te dwarsboom en te ondermyn.

Hy het in die berge en in grotte geskuil, en soms vermom as ’n plaaslike Kretaan, kon Fermor, onder die vyand se neuse, hoogs effektief as ’n ondergrondse guerrilla funksioneer. Sy daaglikse lewe was uiters gevaarlik, waaghalsig en riskant, en hy het selfs ’n Duitse generaal ontvoer en aan die Britse SOE (Special Operations Executive), waarvan hy lid was, in Kaïro uitgelewer.

Van tyd tot tyd het Fermor haastig op ’n drafstap verslae aan die SOE geskryf om hulle op hoogte te hou van sy aktieweteite. Hy het geskryf van hoe weerstand aangespoor is, hoe sabotasie gepleeg is, en hoe daar te werk gegaan is om die vyand geestelik te ondermyn.

Sy verslag van 27 April 1943 handel oor die vyand se kragdadigheid, plaaslike guerrilla politiek, die versameling van geheime inligting en sy gebruik van propaganda. Wat propaganda betref, sê hy:


“Omsigtig geplaasde bekendmakings wat doelbewus deur Hunne opgespoor sou word, van denkbeeldige guerrillaleiers soos Swart Dimitri, waarin sy volgelinge vertel word om op ’n sekere plek te vergader – presies waar ons eintlik die Hunne wil hê.”


Hy gee ’n voorbeeld van sulke propaganda:


“Hier is ’n pittige een:

DUITSERS!

Julle is nou al vir twee jaar op ons eiland, en julle heerskappy is die swartste klad op julle reeds besoedelde geskiedenis. Julle het bewys gelewer dat julle onbevoeg is om oorweeg te word as ’n beskaafde ras, oneindig erger as die Turke, wat edelmoedige vyande en eerbare manne was.

Julle het bewys gelewer dat julle barbare is, en as sulkes sal teen julle opgetree word.  

Maar nog nie.

Waarheen julle ook al gaan, word julle deur Kretaanse oë gevolg. Ons hou julle elke beweging dop. Wanneer julle eet en wanneer julle drink, wanneer julle wakker word en wanneer julle gaan lê, ons is daar om julle dop te hou.

Onthou!

Die lang Kretaanse mes maak geen geluid nie wanneer hy tussen die skouerblaaie inslaan.

Julle tyd raak min. Die uur van vergelding kom nader.  

Dis baie naby.
 

Swart Dimitri
Archegos van Sentrale Kreta”

  

Soos al die boeke waaruit ons stories ontleen, beveel ons Abducting A General deur Patrick Leigh Fermor heelhartiglik aan. Dit is huidiglik by alle goeie Suid-Afrikaanse boekwinkels verkrygbaar.

Posted in Afrikaans


Next

Previous