Oesters

Posted on December 04, 2014 by Cape Rebel

Uit Polfyntjies vir die Proe
deur Dr. C. Louis Leipoldt


Broer Jan se oudste het matriek in die eerste klas geslaag en is nou ingeskryf as eerstejaar-student in die medisyne. Sou ek asseblief ’n ogie oor hom hou en my nou en dan synerwille ontferme? … so het broer Jan geskryf.

My herinnering aan die outjie – en ek het hom tien jaar laas gesien – was dié van ’n penorent, graat-skraal, kortbroek, kaalvoet-kleutertjie met ondeunde ogies, ’n wipneusie wat danig hemel toe gekant het of dit gedurig iets onplesierigs moes ruik, en voortandjies waarop ’n keffertjie trots kon wees. Nou kry ek voor my ’n kêrel wat anderhalf duim hoër in die lug rek as ek self sou kon doen indien die rugrumatiek my dit sou toelaat – ’n kêrel met gladgepleisterde hare, die voorskaduwing van ’n snor op die bolip, die nog meerseggender blou-swart langs die kaak en daardie halfastrante, halfverleë houding wat sy tydgenote aanslaan wanneer hulle met ou mense die eerste maal in aanraking kom. Die wipneus was nog net so gewip en die tande nog net so wit soos vroeër, maar meneertjie was nou taamlik uitgegroei en het nie meer die indruk van ’n uitgehongerde, verveerde kuiken gemaak nie. En die in die wind swaaiende geel das, oortuigende bewys van eerstejaar-studenterang, en die vaal sportbaadjie het niks met die kort broekie van tien jaar gelede gemeen gehad nie.

Dit het nie lank geduur eer ons afgegly het van die protokolagtige verhouding tussen oom en neef nie, want Kleinjan, op sy stukke, pas hom gou aan. Binne ’n uur het ek alles verneem omtrent die familie, die plaas, en sy eie skoolavonture. Dit was duidelik dat neef hom reeds tuis gevoel het in sy nuwe omgewing, veral na die ontgroeningseremonie wat – dit spyt my om dit te sê – nog gewoonte is aan inrigtings wat ons roekeloos “universiteite” noem. Net so duidelik was dit dat hy hom nie sou laat imponeer deur enigiets wat “Oom” of wie ook al sou sê of wys of raai nie.

Toe dit tyd word om te gaan eet, het ek hom meegeneem na waar ek soms die noenmaal geniet. Daar het die kelner regstreeks op ons afgekom met die berig dat daar die middag oesters in voorraad was. Ek het sonder om na te dink twee dosyn bestel. Kleinjan, nieteenstaande sy traak-nie-agtige, jy-sal-my-nie-imponeer-houding, is tog onder die indruk van die omgewing in die klub, en sy lewendige gesels het so ’n ietsie bedaar. Toe die oesters kom, het hy hulle bekyk soos ’n Kalahari-Boesman wat die eerste keer in sy lewe ’n motorfiets sien.

“Wat op aarde is dit nou, Oom?” vra hy, en ek verbeel my dat sy wipneus ’n paar sentimeter hoer wip.

“Oesters, man. Die allerbeste sort. Ons is gelukkig dat ons dit vandag kry. Die goed gaan gewoonlik reguit Johannesburg toe, en dis selde dat ons hier geleentheid kry om hulle te eet …”

“Eet, Oom? … Si …” Sy hoflikheid het die woord binnensmonds afgebyt net toe ek my eerste oester, behoorlik met ’n druppel suurlemoensap gedoop, insluk.

“Natuurlik. Kyk, jy neem hulle so,” en ek wys hom. Ongelukkig het sy oester, wat ek besig was om te bedrup, net op daardie oomblik krampagtig ’n stuiptrekking gekry.

“Maar gits, Oom, die ding lewe mos …”

“Ek sou so dink. Dooie oesters eet ’n mens nie, dis te gevaarlik. Kom, wees nou nie so kinderagtig nie. As jy dokter wil word, moet jy jou gewoond maak om alles te probeer, en ek gee jou my woord jy sal hiervan hou. Dé, sluk dit nou in …”

“Ag nee, Oom. Oom moet my verskoon. Dit lyk vir my … dit lyk vir my net soos ’n dermskraapsel.”

“Nou ja, jy het al dermskraapsels geëet, of het jy nooit wors geëet nie? As jy nie wil nie, gee my dan jou oesters; ek sal hulle vir jou opeet, en jy kan vir jou sop bestel. Maar ek moet sê, Kleinjan, ek het gedink dat broer Jan se seun sy man kan staan, selfs as dit op oesters daarop aankom.”

Kleinjan het nie sop bestel nie. Hy het ’n teug van sy bier gedrink en my met sy oë – nou nie ondeund nie, maar regtig bang asof hy ’n mensvretende oom teengekom het – gevolg toe ek een na die ander oester verslind. Eers teen die end en nadat ek hom verskeie keer gesê het om iets vir homself te bestel, het hy amper in ’n fluisterstem gevra: “Oom, is dit werklik lekker?”

Ek beskou dit as ’n beskawingswerk om iemand te leer om oesters te eet, en ofskoon ek van aanleg, soos al die Bonades, ongeduldig is, veral met mense wat eiewys is (dit wil sê, nie met my eens is nie), het ek op vriendelike, omelike wyse my nefie oorgehaal om een oester te probeer eet. En daarna nog een. Daar was toe slegs ’n halfdosyn oor, en ons kon nie meer kry nie. Want oesters is vandag skaars. My belonging was Kleinjan se weloordagte oordel: “Ja, waarlik, Oom, dit is darem nie so sleg nie.”

Ja, nefies en niggies, oesters is darem nie so sleg nie. Mits julle oesters behoorlik eet. Sonder allerhande bybehorighede wat op die ou end die rein, suiwer, onberispelik-onskuldige, puur oestersmaak vervals met geure en bysmake wat vir die oesterkenner ’n sonde is. Bedien hom op sy skulp. Maak hom self oop as jy die minste vrees het dat die kelner sy mespunt in die tere dier se weefsels sal laat glip. Sorg ten minste dat jy hom op tafel kry met sy spier nog bruikbaar sodat hy kan krimp. En praat nou tog nie van wreedheid en barbaarse behandeling van ’n weerlose dier nie. Die ultra-ultra-humanitêre voorwendsels geld nie vir die kok nie. Wie wat daaraan toegee, sal ooit ganslewerpastei of skilpadsop of kreefslaai or gestoofde paling durf eet? Vir hom wat volhou, sal ek vra om my eerlik te waarborg dat die mielie nie pyn voel as jy hom van die stronk afstroop nie of die waatlemoen as jy hom oopsny nie. Was dit nie die dikke oubaas Chesterton wat sy vegetariese vriend op sy plek gesit het deur te vra: “En hoekom moet net die sout en die mosterd ly?”

Sorg dus dat jou oesters lewendig is en eet hulle óf (en liefs) in hul maagdelike onskuldigheid sonder om iets by te sit, óf met ’n druppel suurlemoensap om die souterigheid wat aan hul klewe ’n ietsie te versag. Braai hulle nie – dit is om hulle onreg aan te doen. Maak geen sop van hulle nie – dis om iets wat heerlik en suiwer is te vermeng en te vervals tot iets wat ingewikkeld en kunsmatig is. Eet hulle met ’n stukkie brood en botter. As jy die kans kry, probeer hulle met ’n paar korreltjies kaviaar op die toebroodjie. Maar nooit met rooipeper of uie of enigiets anders wat die fyn smaak van die oester kan beïnvloed nie. Wees dus ook versigtig wat jy met hulle drink. Eintlik hoef jy niks te drink nie, want oesters bevat water genoeg. Maar as dit tog moet, kies dan tussen ’n goeie bier, liefs ’n donker sort, en ’n wit wyn wat nie te sonder suiker is nie en wat natuurlik nie mag skuim nie.

Vir ons ouere Bonades – want soos julle sien, het die jongere geslag nog baie om te leer – is sjampagnje en oesters uit die duiwel en word onder Christenkinders nie genoem nie – inter Christianos non nominanda sunt, soos die ou vader sê. En dink tog nooit dat as jy hierdie wenke in aanmerking neem jy ooit gevaar loop as jy oesters eet nie. Hulle is die onskuldigste, lekkerste diertjies wat uit die see kom.

21 Desember 1945

Posted in Afrikaans


Next

Previous