Psigoanalise I

Posted on May 06, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit Selected Stories 
deur Herman Charles Bosman

“Koos Nienaber het verlede week ’n brief van sy dogter, Minnie, gekry,” het Jurie Steyn vir ’n hele paar van ons aangekondig, daar waar ons in sy voorkamer gesit het. Dié kamer het as die Drogevlei poskantoor gedien. “Dis nou al twee jaar dat sy in ’n kantoor in Johannesburg werk. Mens sou nie so dink nie. Twee jaar ...”

“Wat het in die brief gestaan?” het At Naudé hom op die man af gevra.

“Wel,” het Jurie Steyn begin, “Minnie sê dat ...”

Jurie Steyn het gou agtergekom dat ons dit vermaaklik gevind het.

“As dit is hoe julle daaroor tekere wil gaan,” het hy toe uitgevaar, “gaan ek julle niks vertel nie. Ek weet wat julle almal dink terwyl julle op daardie verspotte manier so sit en lag. Wel, laat net een van julle probeer om die posmeester soos ek te wees, so tussen die melkery en ploeëry deur en die ontvang van verkeerde rekeninge van die suiwelfabriek af, en die varke wat die soetpatats uitgrawe – om selfs nie eers te praat van die kalfseisoen nie – en kyk dan hoeveel tyd jy gaan oorhê om ander mense se briewe oop te stoom en te lees.”

Johnny Coen wat nog jonk was en wat meer as net ’n bietjie in Minnie Nienaber geїnteresseerd was, het gou Jurie Steyn se gemoed gekalmeer.

“Jy weet ons skeer op dieselfde manier maar net die gek soos met elke posmeester in die Bosveld gedoen word,” het Johnny Coen gesê. “Ons bedoel niks daarmee nie. Dis sommer net ’n ou grappie.”

~

“Dit moet wees dat Koos Nienaber jou vertel het wat in sy dogter se brief gestaan het,” het Johnny Coen gesê. “Koos Nienaber het seker hier ’n draai gegooi en jou toe vertel. Anders sou jy mos nooit geweet het nie. Ek meen te sê. Jy kon onmoontlik geweet het.”

Dit was presies wat gebeur het, het Jurie Steyn bevestig.

Daarna het Jurie Steyn ons in die fynste besonderhede vertel wat in Minnie Nienaber se brief gestaan het, soos haar pa, Koos Nienaber, dit oorvertel het.

~

“Koos het gesê dat Minnie,” het Jurie Steyn gesê, “dat Minnie – wag, wag net so bietjie – so ja, hier is dit – ek het ou Koos gekry om dit vir my neer te skryf – dat Minnie gepsigo ... gepsigoanaliseerd is. Hier is dit, alles net so neergeskryf – sielsontleding.”

Ek sal nie ontken nie dat ons almal baie beїndruk was. Dit was nou iets waarvan ons nog nooit gehoor het nie. Jurie Steyn het gesien watter uitwerking sy mededeling op ons gehad het.

“Ja,” het hy herhaal, baie seker van homself – en ook sekerder van sy woorde – “Ja, in die goudstad Johannesburg, is Minnie Nienaber gepsigoanaliseerd.”

Ná ’n paar oomblikke van stilte het Gysbert van Tonder van homself laat hoor. Op daardie manier het Gysbert al baie uit sy beurt uit gepraat.

“Wel, dis nie die eerste keer dat so iets met ’n meisie wat alleen in Johannesburg woon, gebeur het nie,” het Gysbert gesê. “Een ding egter, haar ouers se deur sal altyd vir haar oop staan. Maar ek is verbaas dat ou Koos Nienaber dit vir jou genoem het. Hy is gewoonlik so trots.”

Ek het opgemerk dat Johnny Coen vir ’n oomblik bietjie bek-af gelyk het, totdat Jurie Steyn haastig verduidelik het dat hy dit nie só bedoel het nie.

Volgens wat Koos Nienaber hom vertel het – het Jurie Steyn gesê – het dit vir die mense in Johannesburg die mode geword om deur ’n nuwe soort dokter behandel te word; ’n dokter wat nie gepla was oor hoe siek jou liggaam was nie, maar wat omgesien het daarna om jou gemoed en gees reg te kry. Hierdie soort dokter kon enigiets wat verkeerd was met jou gees, regmaak, het Jurie Steyn verduidelik. En jy hoef nie juis siek te wees om deur so ’n dokter behandel te word nie. Dit was ’n heel modieuse ding gewees om te doen, het Jurie Steyn bygevoeg. Johnny Coen het verlig gelyk.

“Na gelang van wat Koos Nienaber my vertel het,” het Jurie Steyn gesê, “toets hierdie nuwe soort dokter nie meer jou hart deur daarna met ’n soort rubberpyp-ding te luister nie. In plaas daarvan vra hy jou net wat jy die vorige nag gedroom het. En daarna werk hy alles uit met behulp van ’n droomboek. Maar dis ook nie net ’n gewone droomboek nie, wat sal verklaar dat, as jy laasnag van ’n trop beeste gedroom het, dit sal beteken dat daar vorentoe doodsgevaar op iemand wag wat jy nog nie ontmoet het nie ...”

“Wel, ek het ’n paar nagte vantevore gedroom dat ek ’n trop Afrikanerbeeste oor die Bechuanalandse grens aangejaag het,” het Fritz Pretorius gesê. “Net soos ek al baie voorheen gedoen het, op ’n nag toe daar nie veel van ’n maan was nie. Behalwe, wat snaaks aan die droom was, was dat ek gedroom het dat ek die beeste in die protektoraad ingesmokkel het, in plaas van daaruit. Kan jy jou voorstel dat ’n Marico-boer so ’n onnosele ding soos dit sou doen? Ek veronderstel die droom beteken dat ek besig is om van my kop af te raak of so iets.”

~

Ná At Naudé gesê het hoe verbaas hy was dat Fritz Pretorius in ’n droom vertel is wat almal in elk geval van hom geweet het – en daar niks van gekom het nie ná Fritz Pretorius se uitnodiging aan At Naudé om daardie opmerking buitekant die poskantoor te gaan herhaal – het Jurie Steyn verder verduidelik wat die nuwe soort behandeling was wat Minnie Nienaber van die nuwe soort dokter ontvang het, en dat sy dit glad nie nodig gehad het nie.

“Dis nie die gewone soort droomboek, soos daardie Napoleon se droomboek waaraan my vrou soveel waarde geheg het voordat ons getroud is nie,” het Jurie Steyn voortgegaan. “Dis ’n droomboek wat deur professors geskryf is. Minnie het in die afgelope tyd allerhande vrese ondervind. Sommer lawwe soort vrese, het haar pa gesê. Niks om jou oor te bekommer nie. Ek dink enigeen uit die Groot Marico wat so lank soos Minnie Nienaber in Johannesburg gebly het, sou net soos sy bang geword het.

“Die enigste ding wat vir my egter ’n raaisel is, is dat dit haar so lank gevat het om bang te begin raak.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous