Universiteite

Posted on March 24, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast

Uit A Cask of Jerepigo 
deur Herman Charles Bosman

 

Jy kan slegs ’n universiteit leer ken as jy daar as ’n student klas geloop het. Anders kan jy slegs as ’n besoeker daar rondslenter, maar natuurlik tel dit nie.

Ek het dikwels as ’n besoeker by Oxford rondgeloop, maar ek was nie in staat om te veel van die plek te wete te kom nie, behalwe dat dit gerieflik redelik naby Morris-Cowley se motorwerkplaas geleë was. Ek het gedink dat dit nogal nuttig was, want as ’n vakleerling in die motorindustrie agtergekom het dat die taak om koperskroewe van verskeie ingewikkelde dimensies op ’n draaibank te voort te bring, te verhewe was bo die perke van sy intelligensie, kon hy in plaas daarvan maklik oorskakel na die universiteit toe, en iets maklik soos Latyn en Grieks leer.

Elke keer wat ek teruggekeer het na ’n besoek aan Oxford, het ek bly gevoel dat ek nie daarheen gegaan het as ’n student nie. Omdat ek tevrede was dat dit nooit vir my moontlik sou gewees het om enigiets daar te leer nie. Ek sou te beïndruk gewees het met die geboue, (wat op geen manier is wat ek verwag het hoe hulle sou wees nie), wat laag op die aarde was, met mure wat ’n ruwe, growwe voorkoms het – opregte Middeleeuse bakstene bedek met ’n vergeelde Middeleeuse pleister.

~

 

Ek het al menige imposante geboue gesien, swaar bekors met geskiedenis, dik van stof en tradisie, heilig gemaak deur die intimiteit van hulle assosiasie met die nasie se lotgevalle, deur die eeue stille getuies van onheil en rampe en prag en praal - so ’n gebou, katedraal, abdy, paleis en mausoleum het ek al gesien en ek was glad nie beïndruk nie.

Maar omdat die mure van Oxford nie uittoring nie, maar liewer die aarde insink, amper, en omdat, daarmee saam, wat eerbiedwaardig was oor die messelary wat van die Middeleeue af in stand gebly het, daar ook ’n warmte en rykheid van die lewe was wat die verloop van tyd nie kon verkil en demp nie, het ek besef dat as ek daarheen as ’n student sou gegaan het, dit vir my nooit moontlik sou gewees het om enige werk in dié plek te kon doen. Ek sou na Oxford toe gegaan het en te veel jare in die lediger soort droomwêreld deurgebring het.

 

~

 

Dan is daar Wits. Vroeër dae was ek ’n student aan die Universiteit van die Witwatersrand toe jy nog by die geboue by Milner Park bewus was van die reuk van nat verf en beton wat besig was om droog te word. Daar was iets in my agtienjarige siel wat teen al hierdie nuwighede in opstand gekom het. Toe ek onlangs daarheen gegaan het om ’n toneelstuk in die Hoofsaal by te woon, was ek steeds ontstel oor die gevoel dat Wits nog nie enige van die uiterlike karakteristieke van statigheid en hoflikheid bekom het nie. Die meisie wat die program aan my verkoop het was lomp en taktloos.

Toe ek ’n student aan Wits was, het ek ’n minagting gehad vir beide die geboue en die professors. Ek kon myself nie vereenselwig met die gedagte dat enige ware uitstekende man van Europa homself sover sou kry nie om aansoek te doen vir so ’n obskure en – soos ek toe gedink het – kultuurlose aanstelling as professor in ’n Suid-Afrikaanse myndorp-universiteit waar die gewapende betonblaaie aan die binnekant nog steeds klam was.

Onnodig om te sê, my sienswyse in die opsig het sederdien ’n diepgaande verandering ondergaan. Ek het sommige van die dinge gesien wat uitstaande mense verplig was om te doen. Ek sluit myself hierby in. En ek beleef slegs ’n gevoel van nederige dankbaarheid teenoor die mense van oorsee wat met die aanvang en opening van die Universiteit van die Witwatersrand hierheen gekom het. Hulle het saam met hulle handjiesvol kultuur gebring, en dit sluit die Nabye Ooste, Alexandrië en die Renaissance in – daardie ryk Ou-Wêreldse filosofieë – en in hulle inspirasie kan die siel van die mens ’n plek vind om te volhard en om voort te bestaan.

 

~

 

Dis vreemd hoe die ganse verlede soos nou die dag lyk. Voordat hulle die hek by die hoofingang geïnstalleer het, kon mens die hele kampus deur ronddwaal met die wete dat jy in die gronde van die universiteit was. Ek onthou op ’n geleentheid het ek na ’n departement gesoek wat nie in die hoofgebou gevestig was nie. Ek het verseker by die verkeerde plek uitgekom. Want ek het die man in beheer gevra: “Is dit die Filosofie Departement van die universiteit?” En hy het gesê: “Nee, dis die vul- afdeling van die Lion-brouery.”

Slegs toe het ek oral daardie opgestapelde bottels opgemerk, en besef dat selfs nie eers ’n filosofie-klas deur soveel bottels sou kon kom nie.

 

~

 

Dit hang alles natuurlik daarvan af na wat jou siening is van hoe ’n universiteit behoort te wees. As jy glo dat ’n universiteit ’n instelling is waarheen jy gaan om tegniese kennis te verwerf, dan maak dit nie eintlik saak hoe die geboue en die omgewing daar uitsien nie. Andersyds, as jy glo dat jy universiteit toe gaan met die oogmerk om iets met jou te laat gebeur wat jou nutteloos sal maak vir die vereistes van ’n praktiese lewenswyse, maar ’n verdieping en verryking van die gees in die proses sal veroorsaak – en beide beskouings van die funksie van ’n universiteit is legitiem – dan is die atmosfeer van die plek waarin jy ’n aantal jare sal deurbring, hoogs belangrik.

Daar moet hoë, ou bome wees, en deur hulle blare moet die sonstrale op die wandelpaadjies val. Daar moet kronkelende lanings wees en onverwagte vistas en weggesteekte hoekies. Daar moet verouderde en krom gange wees en bejaarde en krom professors. Al hierdie voordele – of nadele – sal sonder twyfel mettertyd by die Universiteit van die Witwatersrand toeneem. Want terwyl daar twee denkrigtings is oor die vraag of ’n universiteit wat ’n nie-tegniese instelling vir studie is, vrotsig moet wees – en ek kan hoogs eerbiedwaardige deskundiges in dié verband aanhaal – word dit eenparig toegegee dat dit muwwerig en beskimmeld moet wees.

Die Universiteit van die Witwatersrand sal, met die geslagte mans en dames wat deur die ingange beweeg, deur die eeue getemper en ryper word, en ek hoop sy toekoms sal van geluk kan getuig, dat die duursame geestelike waardes behoue sal bly, en dat die onverganklike adel van die gees sal voortleef wanneer die goudmyne op die Rand uitgewerk en vergete is, wanneer die meule wat die erts vergruis deur ’n langdurige stilte vervang word.

En al daardie onbehoorlikhede van die Universiteit van die Witwatersrand wat my as ’n student so gepla het, sal ook aan die verlede wat vergeet is, behoort.

Posted in Afrikaans


Next

Previous