Wit Flennie Frokkies En Rooi Oorjasse Vir Almal

Posted on September 07, 2017 by Cape Rebel

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

Die steilte en die ongelykheid van die paadjie was te veel vir die muil. Hy moes terug, en die generaal – tot sy en ons verslaentheid – moes te voet verder aanstoot, op teen die glyerige en meegewende trappe van los klippe en leiklip en klippies. Ons het beurte geneem om te help, en hy het sy bes probeer. Ons pas het afgeneem en ons het meer dikwels halt geroep, maar tog was ons gou ver bokant die eikebelt. Die laaste sukkelende bergseders was nêrens meer sigbaar nie, en om ons was dit ’n geknelde wêreld waar niks gegroei het nie. ’n Bevrore wind het gedreig om ons van ons voete af te waai. Toe was daar net diep sneeu wat elke tree ’n foltering gemaak het. Mis het ons omsluit en dit het begin reën toe ons die waterskeiding tussen die plato van Nidha en Zomithos oorgesteek het. Dit was die toppunt van Heilige Kruis wat oor 8,000 voet hoog was.

Amper dubbeld gevou teen die windvlaag, het ons aangeploeter. Uitasem sonder ’n vonkie energie, nie eens genoeg om fout te vind nie: niemand het eers die krag gehad om te kon sê dat dit nie ver weg was van die Ideon-grot af nie – Zeus se skuilplek in sy kinderjare. Met die naderende aandskemer was dit net reën en wind en wolke wat alles onsigbaar gemaak het. Ons kon nie eens voordeel trek uit die laaste daglig nie, want die eerste van Antoni se gaanvoort-seinvure op die eerste rif was nie sigbaar nie. Ons het klappertand in die ruïnes van ’n hut saamgebondel.

Die reën het opgehou en die lug het oopgetrek. Ons het die eerste vuur opgemerk – soos ’n dowwe ster van lig af langs die berghang. Terwyl ons in die donkerte ons gesluierde pad af probeer loop het, was daar darem ’n aansporing wat gehelp het. Die sneeu op ons pad het ten minste ’n dowwe glans verskaf. Toe dit opgehou het, was alles donker. Met die lig van ons flitse gekamoefleer, het ons met lawines van klippe afgekruip en afgegly. Toe dit tot ’n einde gekom het, het ’n belt van bome, wat die kaal bergspits soos ’n tonsuur omring het, ons ingesluk: eers gebrekkige seders wat deur die wind gelykvlakkig met die rotse gesnoei was, en toe ’n dik deurmekaarspul van eike en bergsteekpalms en dorings.

Die berg was steil en skuins soos ’n leer. Dit was vol slote en glad van die reën, en elke tree het ’n storting van bewegende klippe tot gevolg gehad. In die donkerte en die wind het ons voetjie vir voetjie afgedaal in wat gelyk het soos ’n woud van versperrende takke, blare met stekels en wraaksugtige takkies. Dit was ’n ontsettende ervaring vir almal – vir die generaal, ten spyte van ons hulp, moes dit ’n marteling gewees het. In die leë ruimte daar onder was daar nie ’n flikkering van Antoni se gidsvure nie. Een van Petrakoyeorgi se manne het gesê dat hy geweet het van ’n skaapkraal op ’n weggesteekte rotslys. Ons het sy ligging om en by middernag opgespoor deur die skielike geklingel van ’n trop wat deur ons lawaai wakker gemaak is. Ná ons die herder se brood en kaas verorber het, het ons langs die vuur aan die slaap geraak. Toe, voor dagbreek, het ons soos slaapwandelaars onderweg na die bek van die grot aangewaggel. Ons moes deur bosse en struike na ’n ondergrondse grot kruip, waar ons die dag tot die volgende nag deurgebring het.

’n Hele paar van ons het op een of ander tyd in van die talle grotte in die Ida-berg gewoon, en van die een na die ander geskuif soos gerugte ons verblyfplek presies aangewys het, of, met die vyandelike soektogte dit wyser geword het om die tydelike verblyf te verskuif:  vreemde tydelike blyplekke waar ons in die winter teen die monsoontipe stortbuie aan die buitekant in kon wegkruip, of sneeuvalle waarvan die enigste voordeel was dat dit die opsporing en vang van hase vergemaklik het: spelonke, waarvan die kronkelinge soms die volume van die gedonder van herfsstorms so vergroot het dat dit gevoel het dat die berg om ons inmekaar getuimel het.  Daar was aande van praat en sing, of luister, terwyl een of ander ou grys herder wat nie eens sy naam kon skryf nie, uit sy kop uit soveel van die epiese tienduisend versreëls van die Erotocritos kon opsê as wat hy tussen sononder en sonop kon inkry.

Vir die Kretensers het ’n stralekrans van verering en dankbaarheid die berg omgeef. Dit is die eiland se kroon en die onpartydige toevlugsoord vir enigeen wat weggevlug het van geregtigheid of ongeregtigheid, en sy mitologiese aura is verdiep deur die Himalajase afgeleënheid en die ontsag wat oor die Berg-Sinai in Kretense ikone sweef. Al die plekke waar ek oorgebly het, was vreemd, maar nie een so vreemd soos dié een nie – saamgebondel met die generaal en ’n volume van Baudelaire of Xenophon tussen ons in die hart van die berg, terwyl sy weermag daar onder ons rondgesluip het soos die troepe van Midian.

Die sombere gerugte is bevestig deur Antoni se haastig gekrabbelde nota toe dit aangekom het, en sy boodskapper het dit wat ons op ons pad boontoe gehoor het, beaam. Troepe het in groot getalle in die dorpies versamel, en was besig om voor te berei om die volgende dag saam te kom in wat soos ’n menslike string madeliefies geklink het, om almal wat bo van die berg afgekom het, te onderskep. Van daar af sou hulle teen die berg in ’n algemene soektog opwaarts beweeg. “In die naam van God, kom vanaand,” het Antoni in sy brief aangedring. Dit het geklink of die operasie die volgende oggend in aanvang sou neem. ’n Muil sou op ’n sekere ontmoetingsplek vir die generaal wag.

~

Antoni se versuim om op te daag, was ’n angstige raaisel. In sy brief wat ek en Manoli in die grot gelees het, was sy opdrag dringend en eksak. By die lig van ’n beskutte flits, met ons koppe gekap in ’n baadjie, het ons dit weer hardop gelees: “In die naam van God, kom vanaand!” Wag! Daar was iets agter die woord “kom” – die vou in die papier het daar gelê; wrywing, reën of sweet wat deur die boodskapper se tulband gekom het, het so te sê twee letters uitgewis: dit wil sê, hu! – “nie”. Ek het dit vir Billy vertaal. Ons almal, behalwe die generaal, het in verwondering na mekaar gekyk, en gewonder. Ten spyte daarvan dat die water teen ons enkels begin oprys het, het ’n sprankie hoop begin glinster.

Die volgende oggend het George na die dorpie toe gegaan om uit te vind wat aan die gang was. Twee ure later het ons hom ewe ongeërg saam met Antoni, wat ’n groot mandjie gedra het, sien terugloop. Toe hulle ons gesien het, het hulle in die voor gespring en Antoni het met ’n breë glimlag gesê: “Wat doen julle hier, kêrels? Julle moes almal dood gewees het!”  Hy kon George aanvanklik nie glo toe hy hom vertel het dat ons opgedaag het nie. “Hoe het julle deurgekom? Hulle het oor die hele plek geswerm. Honderde, veral waar julle afgekom het. Julle moes reg deur die middel van hulle geloop het.” Hy het ’n hele paar keer die teken van die kruis gemaak. “God bestaan! Julle behoort kerke te bou. Wat, kerke? Katedrale!

Die regte rendezvous was vir dáárdie nag. Waar was die Duitsers nou? “Almal teen die Ida-berg op, op soek na jou en die generaal.” ’n Herder wat ’n paar uur tevore die hasepad afdraande gekies het, het gesê dat ’n afdeling van vyftig van hulle verby sy wegkruipplek gestorm het, al roepende – en hier het Antoni sy stem sagter gemaak sodat die gevangene dit nie kon hoor nie – “Ge-ne-raal Krei-pe, Ge-ne-raal Krei-pe,” so hard as wat hulle kon! “Maar julle sou heeltemal veilig in die grot gewees het. En soos dit is, is julle gelukkig om hier te wees, my kinders.”

Gregori het gesê: “Wat het julle in daardie mandjie?” Antoni het brood uitgepak en kaas, uie, ’n bak gebakte ertappels, lamsvleis, en ’n servet vol kalitsounia! – halfmaanvormige koekies vol sagte wit kaas en gekapte mint. Toe het ’n groot bottel moerbei-raki uitgekom en ’n handvol klein glasies. “Dit sal julle warm maak,” het hy gesê toe hy hulle volgegooi het: “Wit flennie frokkies vir almal hier.” Die eerste glasie het hy heel hoflik aan ons gas oorhandig en gesê: “Stratege mou (My Generaal),” en toe aan die res van ons. Dit het soos wonderlike vloeiende vlamme in ons kele afgegaan.

En hier,” het hy gesê, en ’n gelling donkergeelbruin wyn uitgehaal, “Rooi oorjasse vir almal.”


Next

Previous