Werwing

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit SAS: Rogue Heroes, The Authorised Wartime History
deur Ben MacIntyre



Stirling was anders as enige ander offisier. ’n Krom figuur, lank en skraal, ’n onwaarskynlike pionier van ’n regiment wat beroemd sou word vir fisiese krag. Hy het mank in die kamp rondgeloop, en ’n punt daarvan gemaak om elkeen van die manne te leer ken. Die meeste van die rekrute was gewoond daaraan om deur die offisiere met minagting bejeën te word, om afgeknou te word deur hulle onderoffisiere, en om oor die algemeen as ’n laer lewensvorm behandel te word. Stirling was besonder hoflik teenoor almal. “Hy het nie bevele uitgeblaf nie,” het Johnny Cooper verwonderd gesê. “Hy het mense gevra om dinge te doen.” Terwyl baie offisiere in ’n staat van permanente opvlieënde katastrofes gelewe het, het Stirling nooit sy stem verhef nie. Riley het hom “as ’n baie stil kêrel, baie skaam”, ervaar. Die meeste van sy rekrute het nog nooit ’n offisier raakgeloop wat nie net alternatiewe sienings verdra het nie, maar hulle selfs aangemoedig het.

Ander elemente in Stirling se buitengewone karakter het in die eenheid deurgesyfer, sowel as sy natuurlike nederigheid en sy talent vir uiterste onderbeklemtoning. Sedert sy vroegste dae het hy daarop aangedring dat daar “geen spoggery of grootdoenery” moes wees nie. Die lede van L Detachment sou geheime, lewensgevaarlike take uitvoer wat ander soldate en burgerlikes kon beïndruk, maar hulle moes nooit buite hulle eie geledere daarvan praat nie. Dit was gesonde militêre beleid, maar dit het ook Stirling se persoonlike allergie vir spoggery gereflekteer. Daar was van die manne van die SAS verwag om ’n bedagsame stilte oor hulle aktiwiteite te handhaaf.

Terwyl die mini-kamp vorm aangeneem het, het Jock Lewes begin om ’n opleidingskamp van spartaanse kastyding te ontwerp, ’n stelsel so gedug dat heelwat amper handdoek ingegooi het – wat natuurlik presies was wat Lewes die hensoppers wou laat doen het.

~

Dit het gelyk of luitenant Bill Fraser so ietwat verbyster was deur die lewe, te delikaat vir ’n soldaat – maar hy was al in hewige gevegte betrokke. Party soldate het hom as “’n bietjie snaaks” beskou, ’n kode vir homoseksueel, en hom die bynaam “Skin Fraser” gegee. Dit kon so wees dat hy gay was, maar dit was opmerksaam dat, in ’n tyd wat daar intense homofobië in die weermag was, dit die meeste gewapende kamerade (daar was merkbare uitsonderings) koud gelaat het. Fraser was ’n uitstaande leier.

~

Stirling se finale keuse vir junioroffisier was beide geïnspireerd en nogal snaaks: geïnspireerd, want die betrokke offisier sou ’n ongeëwenaarde standaard daar stel vir moed en leierskap in die SAS; en koddig, want hy was geneig tot woeste vulkaniese uitbarstings van humeur en soms gruwelike insubordinasie. Hy was veglustig, onrustig en gevaarlik onvoorspelbaar, veral wanneer hy dronk was, wat nogal baie gebeur het. ’n Gevierde internasionale rugbyspeler, ’n gefrustreede digter, ’n kroegbakleier – hierdie man was 108 kg van hoogs onstabiele menslike plofstof. Gedurende die tyd toe Stirling daarop uit was om hom te werf, was hy ook na bewering in die tronk omdat hy ’n bevelvoerder opgedons het.

Robert Blair Mayne, aan almal bekend as Paddy, was een van sewe kinders van ’n welvarende protestandse familie uit Noord-Ierland. Gebore in Newtownards in County Down in 1915, het hy as ’n skoolseun uitgeblink in rugby, en daarna het hy by Queens Universiteit in Belfast regte gaan studeer, waar hy die Ierse universiteite se swaargewigbokskampioenskap gewen het. Oor die ses voet lank met breë skouers en spoed, het hy eerstens vir Ierland se nasionale rugbyspan gespeel as ’n slot teen Wallis in 1937. Daarna het hy Ierland in vyf daaropvolgende geleenthede verteenwoordig. In 1938 was hy een van agt Iere wat gekies was om deel te wees van die Leeus se toer van Suid-Afrika. Een verslaggewer het sy “stil, amper meedoënlose effektiwiteit” opgemerk. Wat gelyk het na ’n grootse rugbyloopbaan is deur die oorlog onderbreek. Hy het by die Royal Ulster Rifles aangesluit, en daarna by die kommando’s. Ná die Slag van Litani River in Junie 1941, is sy naam in amptelike verslae genoem vir die indrukwekkende manier waarop hy bevel gevoer het oor sy troepe, waardeur hy sy doelwit bereik en ’n groot klomp gevangenes terug gebring het.

Dit alles laat Paddy Mayne klink na een of ander plastiese model van akademiese, atletiese en militêre voortreflikheid – wat hy vir seker empaties nie was nie.

Op die eerste kennismaking met Mayne, het hy voorgekom as ’n stil en gelate, amper ’n skaam man. Ná ’n paar drankies, het hy luidrugtig geword; en ná nog ’n paar het hy skoorsoekerig en uitdagend geword. Gou daarna het dit tyd geword om uit die kroeg uit pad te gee.

Sy gedrag tydens die Leeus se toer van Suid-Afrika het alle rekords vir besope wangedrag gebreek – in ’n sport wat nie bekend staan vir soberheid en rustigheid van die veld af. Hy het herhaaldelik ná middernag by sy spanmaats se kamers ingebreek en al die meubels aan skerwe geslaan; in die geselskap van die Wallise haker, “Bunner” Travers, het hulle pad gevat na Durban se dokke toe om daar geswael te raak en bakleiery met die dokwerkers te gaan soek; hy het met die spanbestuurder geargumenteer, en toe vir ’n drie-daagse gesuipery verdwyn. Een aand het hy op ’n span bandiete afgekom wat met kettings onder die stadium by Ellis Park vasgemaak was – hulle werk was om die sitplekstellasies op te rig. Hy het dit as barbaars beskou, en het die daaropvolgende nag teruggekeer met ’n boutknipper en het ten minste een van hulle vry laat wegkom, en moontlik hulle almal. In ’n poging om Mayne in toom te hou, was hy verplig om ’n kamer met die losskakel, George Cromey, ’n Presbiteriaanse predikant, te deel. Een aand ná ’n amptelike dinee, het Mayne verdwyn. Toe Cromey nog teen drie uur die oggend op Mayne se terugkeer gewag het, het ’n gehawende Mayne in aanddrag ingebars en aangekondig: “Ek het nou net ’n springbok geskiet,” voordat hy die baie bebloede en baie dooie Suid-Afrikaanse wildsbok op die vloer laat val het. Hy het ’n paar jagters in ’n kroeg raakgeloop, en hulle het toe saam laat spat op ’n middernagtelike wildsjagtog.

Dit was Mayne die vermaaklike beskonkende. Mayne die boosaardige, veglustige dronkgat was heeltemal ’n ander persoon. Op ’n latere stadium kon hy iemand wat hom kwaad gemaak het, optel en ’n hele ent vêr wegsmyt, of hom eenvoudig sinneloos opneuk. Die oggend daarna kon hy nooit onthou wat hy gedoen het nie. Soos een van sy beste vriende gesê het, Mayne was “die meeste van die tyd ’n baie aangename en goedhartige kêrel, hoewel hy opgesweep kon word tot iets heel anders ... as hy eers ’n punt bereik het waar hy te veel gedrink het, het hy iemand heeltemal anders geword.” In Paddy se binneste was daar ’n diep bron van woede wat opgewel het in geweld. Een kanaal het hy op die rugbyveld gevind, en ’n ander in alkoholiese gewelddadigheid ná ’n wedstryd. Op die slagveld het dit heroïse dade tot gevolg gehad. Paddy Mayne se verwoestende demoon kon sonder vooraf waarskuwing uitbars – met skrikwekkende geweld.

Wat was die oorsprong van Mayne se innerlike toorn? Dit mag wees dat hy in sy onderbewussyn teen sy onbuigsame nougesette Protestantse opvoeding gerebelleer het. Hy het ’n sterk afkeer aan die gebruik van vuiltaal gehad. Al persoon vir wie hy bang was, was sy moeder – wat weliswaar skrikaanjaend was. Mayne was besonderd geletterd, met ’n besondere voorkeur vir die sombere gedigte van A.E. Housman, en dit kon wees dat hy gedroom het om ’n skrywer te word; die gefrustreerde skeppingsdrang is deur sommiges beskou as die wortel van die kwaad. Daar was ook die gedagte dat hy homoseksuele neigings gehad het. Sy verhouding met vrouens was verseker gespanne, en hy het nooit langdurige heteroseksuele verhoudings gehad nie. “Hoe kan enige vrou so ’n groot, lelike man soos ek liefhê?” het hy op ’n slag aan sy broer gesê. Seksuele gekskeerdery oor vrouens kon hom rasend van woede maak. Hy was geweldig geslote oor sy emosionele lewe, net soos met baie ander dinge. Mayne se seksualiteit het glad geen verband met die kwaliteit van sy krygsmanskap gehad nie, behalwe tot die mate dat die onderdrukking van sy gevoelens tot sy innerlike onrus kon bydra, wat hom die gekompliseerdste en grimmigste man kon maak, maar ’n baie merkwaardige soldaat.

Daar is gesê dat Mayne aan die einde van die somer van 1941, in die tronk was omdat hy ’n senior offisier aangerand het. Die storie lui dat hy skaak met Eoin McGonigal, sy beste vriend, gespeel het, toe hulle deur sy bevelvoerende offisier, luitenant-kolonel Geoffrey Keyes, van ’n adelliker stand, oudleerling van Eton en die seun van sir Roger Keyes, die Direkteur van Gekombineerde Operasies, in die rede geval en gesteur is. Keyes was ’n dapper man (hy het ’n paar maande later in ’n mislukte poging om Rommel te ontvoer, gesterf, en daarmee die VC postuum ontvang), maar hy het die stem van Bertie Wooster gehad en presies die soort van patrisiese houding wat Mayne se baie kort lont ontsteek het. Dit het ’n twis tot gevolg gehad. Mayne het Keyes gestoot wat hom laat struikel het en waarop hy homself aan die kant van die tafel stukkend gesny het. Sommige weergawes verloop dat die konfrontasie beëindig is toe Keyes met ’n bajonet by die tent uitgejaag is. Kort daarna het Mayne aansoek gedoen om na die Verre Ooste verplaas te word. Daar is geen aanduiding of hy gearresteer was nie. Stirling het egter herhaaldelik die storie vertel hoe hy vir Paddy in die tronk ontdek het, en gereël het vir die aanklagtes om teruggetrek te word sodat hy in L Detachnment opgeneem kon word. Mayne het dit nooit ontken nie.

Mayne het nie van deftige mense van hoë status gehou nie. As ’n militante Ulster Unionis, was hy instinkmatig anti-katoliek. Hy het die manier waarop sekere offisiere bevordering deur sosiale konneksies verkry het, verfoei. Dus, die eerste ontmoeting tussen Mayne en Stirling – uit die hoër stand, katolieke offisier met weergalose toegang tot die oudleerlingnetwerk – sou nooit maklik gewees het nie. Volgens Stirling, het Mayne hom met agterdog aangekyk toe hy sy planne voorgelê het en die Ier gevra het of hy by hulle wou aansluit. Mayne het geluister en toe op “’n kalm en bedaarde, maar ietwat spottende stemtoon” vrae begin vra op sy ligte Ulster-nasale tongval.

Uiteindelik het Mayne teruggeleun: “Ek kan glad nie ’n geveg in hierdie skema van jou sien nie”.

Stirling was gou reg met ’n antwoord. “Daar is nie so iets nie ... behalwe teen die vyand”.

Mayne het gelag. Hy was gevang. Maar voor hulle daarop handgeskud het, het Stirling een voorwaarde gestel: “Ek is een bevelvoerder aan wie jy nooit gaan slaan nie, en dit moet jy my belowe.”

“Nou maar goed so,” het Mayne gesê.

Stirling het maar net so half en half ’n grap gemaak. Hy sou altyd versigtig wees vir Mayne se “boosaardige humeur, ten tye onnatuurlik in felheid”. Om Mayne te kon werf, was soos om ’n wolf aan te neem: opwindend, gewis sal dit vrees inboesem, maar nie noodwendig verstandig nie.


Next

Previous