Volmaan oor die Marico

Posted on June 26, 2018 by Cape Rebel

Uit “Drieka and the Moon”
In Mafeking Road

deur Herman Charles Bosman

 

Daar is ’n vreemde betowering omtrent die maan wanneer hy vol is – het oom Schalk Lourens opgemerk – veral die maan wat oor die vallei van die Dwarsberge in die somernagte hang. Dit doen eienaardige dinge aan die gees, die Marico-maan, en in jou hart is daar wilde en geurige fantasieë, en jou gedagtes sweef baie ver weg. Dan, as jy daar op jou voorstoep sit, en hierdie gedagtes bepeins, sug jy en prewel iets oor die weg van die wêreld, en dra jou stoel binnekant toe.

Ek het die maan al op ander plekke gesien en nie net in die Marico nie, maar dis nie dieselfde op ander plekke nie.

Braam Venter, die man wat van die regeringslorrie afgeval het, daar naby Nietverdiend, sê dat die Marico-maan soos ’n vrou is wat groen blomme op ’n graf lê. Braam Venter sê dikwels sulke dinge. Vernaamlik sedert daardie tyd toe hy van die lorrie afgeval het. Hulle sê dat hy op sy kop geval het.

Altyddeur, wanneer die volmaan só skyn, doen dit iets aan ons harte, waaroor ons ons baie verwonder en wat ons nooit verstaan nie. Altyddeur wek dit herinneringe op. En dit is eienaardig hoeveel verskillende herinneringe elkeen van ons koester.

Johannes Oberholtzer sê dat die volmaan hom altyd aan een geleentheid herinner, toe hy beeste oor die Betsjoeanalandse grens gesmokkel het. Hy sê dat hy nooit na ’n volmaan kyk, sonder om terug te dink aan hoe dit op die staal draadkniptang in sy hand geskyn het, toe twee berede polisiemanne na hom toe aangery gekom het. En die volgende nag kon Johannes Oberholtzer weer die volmaan goed beskou; hy het daarna gekyk deur die venster van die plek waarin hy was. Hy het gesê dat die maan baie groot en baie geel was, behalwe dat daar swart strepe voor die maan was.

En dit was in die lig van die volmaan wat oor die doringbome gehang het, wat ek Drieka Breytenbach gesien het.

Drieka was lank en slank. Sy het blonde hare en blou oë gehad, en baie mense het haar beskou as die pragtigste vrou in die Marico. Ek het ook so gedink, daardie aand toe ek haar onder die volmaan by die doringbome ontmoet het. Sy was nog nie vir baie lank in die Bosveld nie. Haar eggenoot, Petrus Breytenbach, het haar in die Schweizer-Reneke-distrik ontmoet en met haar getrou, toe hy gedurende die groot droogte vir ’n rukkie met sy beeste daarheen getrek het.

Agterna, toe Petrus met sy eie Mauser deur ’n werker op sy plaas doodgeskiet is, het Drieka teruggekeer Schweizer-Reneke toe en het sy só die Marico, net so vreemd en stil as wat sy daarheen gekom het, verlaat.

En vir my was dit asof die Marico ’n ander plek was, want Drieka Breytenbach was nie meer daar nie. En ek het aan die maan gedink, en hoe hy met jou sintuie die poets bak, en die stormagtige betoweringe wat hy na jou siel toe slinger. En ek het onthou wat Braam Venter gesê het, dat die volmaan soos ’n vrou is wat groen blomme op ʼn graf lê. En dit het vir my gelyk dat Braam Venter se woorde, alles in ag genome, nie soveel onsin was nie, en dat erger dinge met ’n man kon gebeur as om op sy kop van ’n lorrie af te val. En ek het aan ander aangeleenthede gedink.

Maar dit het alles daarna plaasgevind.

Toe ek Drieka daardie aand gesien het, het sy teen ’n doringboom langs die pad, waar dit afgaan na die drif toe, geleun. Maar aanvanklik het ek haar nie herken nie. Al wat ek gesien het, was ’n figuur in wit aangetrek met lang hare wat los oor die skouers gehang het. Dit het baie ongewoon gelyk dat ’n gestalte, op so ’n tyd in die aand, só daar moes wees. Ek het ’n paar stories onthou wat ek gehoor het van wit spoke. Ek het ook onthou dat ek ’n paar myl terug ’n klip in die middel van die pad sien lê het. Dit was nogal ’n groterige klip, en dit kon gevaarlik wees vir muilwaens wat daar moes verbygaan. Ek het dus besluit om dadelik om te draai, om dit uit die pad te gaan rol.

Ek het baie gou oor die klip besluit. En ek het so vinnig en doelgerig opgetree dat die buikgord, met my skielike opruk van my perd op sy agterpote, gebreek het. Die gestalte het nadergekom en gepraat, en toe het ek gesien dat dit Drieka Breytenbach was.

“Goeienaand,” het ek haar groet beantwoord. “Ek was net van plan om terug te draai, want ek het van iets onthou.”

“Van spoke?” het sy gevra.

“Nee,” het ek eerlik daarop geantwoord, “van ’n klip in die pad.”

Dit het Drieka laat lag. Toe het ek ook gelag. En toe het Drieka weer gelag. En toe lag ek. Ons twee het inderdaad lekker saamgelag. Ek het van my perd afgeklim en langs Drieka in die maanlig gaan staan. En as iemand op daardie oomblik daar sou aangekom het en gesê het dat die klip op die pad die predikant se muilwa laat omslaan het, sou ek nog meer gelag het.

Dis dié soort van ding wat die maan in Marico aan jou doen, wanneer hy vol is.

Ek het nie daaraan gedink om Drieka te vra hoekom sy daar was, of waarom haar hare losgehang het, of vir wie sy daar onder die doringboom gewag het nie. Dat die maan daar was, was genoeg – groot en geel oor die veld, en die wind het saggies deur die bome gewaai, en oor die gras, en teen Drieka se wit rok, en teen die gekke gesing van die sterre.

~

Voor ek geweet het wat aan die gebeure was, het ons saam op die gras onder die doringboom, waarvan die takke oor die pad gereik het, gesit. En ek onthou dat ons vir ’n hele rukkie daar op die gras bly sit het, met ons voete in die sagte sand, sonder om te praat. En Drieka het met ’n soort van mistige kyk in haar oë vir my geglimlag, en ek het gesien dat sy lieflik was.

Ek het gevoel dat dit nie genoeg was dat ons daar in stilte gesit het nie. Ek het geweet dat ’n vrou – selfs ’n maan-vrou soos Drieka – verwag dat ’n man meer as net goedgehumeurd en eerlik moet wees. Ek het geweet dat ’n vrou ’n man as ’n amusante metgesel vir haar wil hê. Daarom het ek die verbygaande oomblikke vir Drieka met interessante geselskap bekoor.

Ek het aan haar verduidelik dat ek, ’n paar dae tevore, ’n klip in my skoen gekry het, en dat dit die vel op een van my tone afgeskuur het. Ek het my velskoen uitgetrek en haar die plek gewys. Ek het haar ook van die runderpes vertel en oor die manier waarop twee van my koeie aan die miltsiekte gevrek het. Ek het ook baie geweet van bloutong onder die skape, en oor gallansiekte en die haarwurm, en ek het sommer lughartig oor hierdie dinge gepraat, net so gemaklik soos ek nou met jou praat.

Maar natuurlik was dit die maanlig wat die ding gedoen het. Ek het nooit voorheen geweet dat ek met hierdie beuselagtige en skoenlapper-soort van geselsery so goed was nie. En die hele ding was nogal ook so onskuldig. Ek het gevoel dat as Drieka Breytenbach se man, Petrus, daar sou aankom en ons daar langsmekaar sou sien sit, hy nie te veel daaroor sou kon sê nie. Wel, ten minste nie veel meer as nie te veel nie.

~

Ná ’n rukkie het ek opgehou met praat.

Drieka het haar hand in myne gesit.

“O, Schalk,” het sy gefluister, en die maan en daardie mistige kyk was in haar blou oë. “Vertel my tog nog.”

Ek het my kop geskud.

“Ek is jammer Drieka,” het ek geantwoord. “Ek weet nie van nog nie.”

“Maar Schalk, jy moet,” het sy baie saggies gesê. “Praat met my oor – oor ander dinge.”

Vir ’n paar oomblikke het ek kalm daaroor nagedink.

“Ja, Drieka,” het ek uiteindelik gesê. “Ek het nou iets onthou. Daar is nog een ding oor bloutong onder die skape waarvan ek jou nog nie vertel het nie.”

“Nee, nee, nie dit nie,” het sy my in die rede geval. “Praat met my oor ander dinge, sê maar van die maan.”

En so het ek haar toe twee dinge vertel wat Braam Venter oor die maan gesê het. Ek het haar die een van die groen blom vertel, en ’n ander een.

“Braam Venter weet baie meer van sulke soort dinge oor die maan,” het ek verduidelik. “Volgende keer wanneer jy vir Nagmaal Zeerust toe gaan, sal jy hom sien. Hy is ’n kort kêreltjie met ’n knop op sy kop, van toe hy geval …”

“O, nee, Schalk,” het Drieka weer ’n keer gesê, en haar kop geskud sodat van haar blonde hare teen my gesig gestreel het. “Ek wil nie van Braam Venter weet nie. Net van jou. Jy moet iets van jou eie oor die maan uitdink, en my daarvan vertel.”

Ek het verstaan wat sy bedoel het.

“Wel, Drieka,” het ek al nadenkende gesê. “Die maan – die maan is nogal gaaf en vol.”

“O, Schalk!” het Drieka uitgeroep. “Dis baie mooier as enigiets wat Braam Venter kon gesê het – selfs met die knop op sy kop.”

Natuurlik het ek haar vertel dat dit niks was nie, en as ek net sou probeer, sou ek dalk iets nog baie beters kon gesê het. Maar nogtans was ek baie trots. En op ’n manier het dit gelyk of my woorde ons nader aan mekaar gebring het. Ek het gevoel dat ’n paar woordjies, wat onder die volmaan gefluister is, iets nuuts en betowerends in Drieka en my se lewens gebring het.

~

Ons het toe op die gras gesit met ons voete in die pad en hande vasgehou, en Drieka het met haar kop op my skouer geleun, en haar lang hare het saggies teen my gesig gewaai. En vir ’n oomblik het ek gedink dat ek haar liefgehad het. En ek het haar nie liefgehad omdat sy ’n pragtige liggaam gehad het nie, of omdat haar lippe rooi was nie, of omdat haar oë blou was nie. Op daardie tydstip het ek nie gedink aan haar liggaam, of haar lippe, of haar oë nie. Ek het haar liefgehad oor haar voete – en omdat haar voete langs myne op die pad was.

En tog het ek die hele tyd, daar vêr agter in my kop, gevoel dat dit die maan was wat hierdie dinge aan my gedoen het.

“Jy het goeie voete om mee te loop,” het ek vir Drieka gesê.

“Braam Venter sou gesê het dat ek goeie voete gehad het om mee te dans,” het Drieka laggend geantwoord. En ek het jaloers begin word op Braam Venter.

Die volgende ding waarvan ek geweet het, was dat Drieka in my arms was.

“Dink jy dat ek baie mooi is Schalk?” het Drieka gevra.

“Jy is baie mooi, Drieka,” het ek stadig geantwoord. “Baie mooi.”

“Sal jy vir my iets doen, Schalk?” het Drieka weer gevra, en haar rooi lippe was baie na aan my wang. “Sal jy vir my iets doen as ek baie lief is vir jou?”

“Wat wil jy hê moet ek doen, Drieka?”

Sy het my kop na haar lippe toe afgetrek en warm woorde in my oor gefluister.

En só het dit gebeur dat ek haar, daar en dan, dadelik van my af weggestoot het. Ek het bietjie onvas op die been gekom, my perd gekry, en weggery. Ek het Drieka Breytenbach daar gelos waar ek haar gekry het, onder die doringboom langs die pad, met haar warm fluisteringe nog steeds hoorbaar in my ore, en voor ek tuisgekom het, het die maan agter die Dwarsberge weggesink.

~

Nou ja, daar bly nie veel meer oor om jou te vertel nie. In die daaropvolgende dae was Drieka Breytenbach altyd in my gedagtes. Haar lang, los hare, en haar lippe, en haar voete wat in die sand langs die pad by myne was. Maar as sy waarlik die spook was waarvoor ek haar die eerste keer aangesien het, kon ek nie meer bevrees vir haar gewees het nie.

En dit lyk eienaardig dat, hoewel dit my woorde in die maanlig was wat gehelp het om my en Drieka nader aan mekaar te bring, dit Drieka se warm asem was wat wilde woorde in my oor gefluister het, wat my so skielik van haar af losgemaak het.

Ek het al selfs een of twee keer jammer gevoel dat ek haar op daardie manier verlaat het.

En later, toe ek gehoor het dat Drieka Breytenbach teruggekeer het na Schweizer-Reneke toe, en dat haar man, met sy eie Mauser, deur een van sy eie plaaswerkers doodgeskiet is, was ek nie verras nie. Ek het dit inderdaad verwag. Maar dit het darem verkeerd gelyk dat Drieka ’n plaaswerker gekry het om die ding te doen wat ek geweier het om te doen.


Next

Previous