Vin De Constance

Posted on February 02, 2017 by Cape Rebel

Uit Vin de Constance 
deur Michel Roux Jr.

 

Vin de Constance: … ’n naam, ’n titel en ’n wynstyl wat behoue gebly en bo die tyd uitgestyg het, in weerwil van die grille en giere van  die geskiedenis en die affêres en gedoentes van mense”. – Michael Fridjhon

Dit het byval gevind by konings en keisers, die aristokrasie het voorkeur daarvoor getoon en dit is deur generaals bekom – hierdie “soet, wellustige en uitmuntende wyn” uit Constantia. Dit het in die 18de en 19de eeue teen die gewildheid van Tokaywyn in die Europese howe meegeding.

Hierdie gesogte status was geen geringe prestasie vir ’n Hollandse nedersetting aan die punt van Afrika nie. Hulle het wynstokke geplant met die doel om wyn te voorsien aan die skepe van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie wat die speseryhandel bedryf het.

Die eerste wyn aan die Kaap die Goeie Hoop is in 1659 geproduseer. Maar die storie van die legendariese Constantiawyn het in 1685 met goewerneur Simon van der Stel begin. Hy het die klein kolonie nie as ’n verversingstasie na Indië beskou nie, maar eerder as ’n poort na Europa.

Hoewel die dienaars van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie verbied was om private eiendom te besit, het Van der Stel met sy voorliefde vir wyn, vir hom ’n stuk grond wat die grootte van die destydse Amsterdam was, aangeskaf. Hy het dit Constantia genoem. Die stuk grond is nie lukraak gekies nie, maar is versigtig in ’n vallei tussen twee groot seë – die Atlantiese en die Indiese oseane – uitgesoek, waar daar koel, voggelaaide winde gewaai het en met grond wat sy doel gedien het. In hierdie stukkie paradys het hy begin om die beste wyn te maak wat die Kaap kon produseer.

Anders Sparman, die Sweedse plantkundige, wat saam met kaptein Cook om die wêreld geseil het, het in 1772 Constantia verskeie kere besoek, en hy het sy verbasing uitgespreek oor die mate van aanvraag wat daar uit Europa bestaan het vir dié “pikante, heel delikate dessertwyn met iets besonders in sy aroma”.

Amper al die gekroonde hoofde het dit geproe en toe bestel. In ’n wynregister wat uit 1777 dateer, is opgeteken dat koning Frederik die Grote van Pruise, 52 bottels “Cap S. Constantia” in sy kelder by Schloss Sanssouci gehad het – dis die kasteel wat hy by Potsdam gebou het wat nou ’n wêrelderfenisterrein is. In ’n vindingryke restourasieprojek word die kelder as ’n museum bewaar en is dit opnuut voorsien van moderne gelykwaardige wyne net soos dié wat destyds deur die koning geniet is. Vin de Constance staan trots in hulle midde.

Terwyl Van der Stel Constantia sy reputasie vir uitstekende wyn blywend gemaak het, was dit eintlik Hendrik Cloete wat vyftig jaar na die goewerneur se dood, laasgenoemde se droom verwesentlik het. Hoewel hy nie na gelang van familiebande ’n direkte opvolger was nie, was Van der Stel se erfgenaam eintlik Hendrik omdat beide van hulle ’n intense liefde vir die grond gehad het, en hulle het ’n vasberadenheid gedeel om die beste wyn in die land te maak en te bemark.

Constantiawyn het hoë pryse op goed ondersteunde veilings in stede soos Amsterdam, Rotterdam en Delft begin bereik. Die wyn se gewildheid is beaam deur ’n brief wat deur een van die menigte toeriste wat Hendrik se gasvryheid geniet het, terug Engeland toe gestuur is. “Die roem van Constantiawyn het regdeur Europa versprei … dis merkwaardig om te hoor hoe ’n obskure plaasboer in Afrika praat oor die monargs in Europa wat sy geesdriftige klante is”.

So bekorend was sy wyn, so “soet soos heuning”, dat daar gesê is dat dit die beweegrede vir die Britse besetting van die Kaap was. Die Franse kunstenaar en reisiger, Milbert, wat Constantia in 1804 besoek het en toe die nektar geproe het, het die gerug herhaal dat die Britte, as die enigste groot maritieme gesag in die wêreld wat nie hulle eie wyn geproduseer het nie en wat ’n enorme dorstige vloot moes onderhou, die Kaap alleenlik vir sy wingerde gebuit het.

Hoewel dit ongetwyfeld Galliese oordrywing is, het hulle verseker Constantia geteiken. ’n Nasleep van die Slag van Blouberg was toe ’n Britse bataljon by Hendrik se kelder ingebreek het, sy vaatjies gebreek en gulsig aan die kosbare wyn gesuip het.

Dit was ’n gesonde beleid om sy veroweraars soet te hou. ’n Groot hoeveelheid Constantia is na Engeland verskeep – volgens William Wilberforce Bird “om die gramstorigheid van die ministers te temper en die lippe van die koningshuis te versoet”. Briewe wat heen en weer van en na Downing Street gestuur is, het die aflewering van sestig vaatjies Constantia “vir sy majesteit se gebruik” gereël. Afgesien van George IV se koninklike deel, is ’n honderd half-aams aan die eerste minister toegewys, die koloniale sekretaris het vyftig gekry en die vernuftige goewerneurs, admiraals, regters en betaalmeesters en so aan, het elk ’n vaatjie of twee bekom.

Kolonel Arthur Wellesley van die 33ste regiment, wat later bekendheid verwerf het as die hertog van Wellington, het ook mnr. Cloete se wyn na sy smaak gevind. Toe hy gedurende sy verblyf in die Kaap by die offisiersmenasie in Wynberg ingekwartier was, het hy selde uitnodigings aanvaar, maar hy het ’n uitsondering gemaak vir die weeklikse aandetes aan die huis van ’n mnr. Walker wie se hoofkelner ’n vrygestelde slaaf was, maar ook ’n Kaapse wynkenner. Die kolonel was egter verstandig met sy inname en hy kon altyd op homself staatmaak om weer by die huis uit te kom.

Wellington het sy smaak met sy Franse vyand gedeel. Napoleon het daagliks, gedurende sy vyf jaar lange ballingskap op die eiland van St. Helena, sy vertroosting in ’n bottel Constantia gevind. (’n “Algemene Verklaring van die Wyn voorsien aan generaal Bonaparte se Huishouding”, gedateer Oktober 1816 tot 30 Junie 1817, toon aan dat die driemaandelikse getal gewissel het tussen 90 en 92 bottels. Die keiser het sy voorraad vir sy eie persoonlike genot gehou, en daar is gesê dat hy op sy sterfbed vir ’n glas Constantia gevra het.

Gastronome soos Brillat-Savarin en die Marquis de Béchamel het die wyn se soet sintuiglikheid geniet. Destydse romanskrywers het die wyn se ondersteunende kwaliteite hoog geprys. Prakties soos altyd het Jane Austin aanbeveel dat Elinore Dashwood, die heldin in Sense and Sensibility, ’n glas Constantia vir sy “helende kragte vir ’n teleurgestelde hart” moes probeer. In Edwin Drood het Charles Dickens in ’n soortgelyke trant “die ondersteuning wat in ’n glas Constantia en ’n tuisgemaakte beskuit ingesluit was” beskryf.

~

In 1986 is die eerste oes van die nuwe uitsoekwyn, Vin de Constance, vrygestel en met groot applaus deur die kritici begroet. ’n Goue, aromatiese wyn met ’n lewendige en dralende soetigheid, dit was van wynstokke gemaak wat op die laagliggende skuinstes van Klein Constantia – eens deel van Van der Stel se oorspronklike plaas – geplant is.

Die “soet, wellustige en uitstekende” wyn was weereens op die mark en elke bottel het sy historiese tradisie weerspieël.

Posted in Afrikaans


Next

Previous