Vanaf die Eindes van die Aarde

Posted on August 25, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
deur Vladimir Petrov 

Uit Reader's Digest, September 1953

 

Boris Begichev, ’n goedaardige, moedige en intelligente jong Rus wat Engels geken het, het die jaar 1929 deurgebring as ’n assistant-operateur by die radiostasie wat deur die Sowjet-regering op Franz Josef-land, omtrent 700 myl van die Noordpool af, geïnstalleer is.

Die lewe daar het ongelooflik vervelig geraak – tot ’n dag in Oktober toe hierdie verbasende boodskap oor die eter gekom het: “Dit is die Amerikaanse ekspedisie in die Suidpool. … Herhaal jou seine. … Waar is jy? … Dit beteken jy is naby die Noordpool. Ons is nie ver van die Suidpool af nie. Miskien is dit die langste kortgolf-radiokommunikasie in die geskiedenis. Ek gaan probeer om weer met jou kontak te maak. My naam is John Tenner. Wat is joune?”

Boris Begichev kon skaars glo dat hy ’n boodskap oor so ’n lang afstand ontvang het. Maar later – gedurende herfs – het hy nog twee keer met Tenner kontak gehad en só hulle goeie wense aan mekaar oorgedra. Toe, op 31 Desember, het Begichev weereens die vriendelike sein van die Amerikaner in die Suidpool opgetel.

Tenner het aan Begichev gesê dat hy in San Francisco woon. Die Rus het hom uitgevra oor Jack London, wie se stories hy amper uit sy kop geken het. Tenner het gesê dat hy, net soos Jack, op die Oakdale-waterkant groot geword het, en dat hy ook van London se stories gehou het. Begichev het gesê dat hy graag die Verenigde State wou besoek, en Tenner het hom toe na San Francisco uitgenooi.

“Om jouself te identifiseer wanneer jy skakel,” het John Tenner gesê, “begin jou gesprek deur te sê: ‘Is dit waar dat jy Jack London se Scarlet Plague elf keer gelees het?’”

“Goed, dit sal die wagwoord wees,” het Begichev geantwoord.

~

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Boris Begichev ’n offisier in die Russiese weermag geword. Hy het egter Stalin se tirannie gehaat en saam met generaal Vlassov gedros om by die Russiese bevrydingsweermag, wat teen die kommuniste geveg het, aan te sluit. In die lente van 1945, na die ineenstorting van Duitsland, het sy eenheid weswaarts teruggeval met die hoop om by die Amerikaanse magte toevlug te kon vind. Boris het egter gou te wete gekom dat die Amerikaners, om een van die ooreenkomste wat daar met Stalin by Yalta aangegaan is, na te kom, vlugtelinge van die Weermag vir Vryheid  aan die Rooiweermag sou uitlewer. Hy het goed verstaan dat, as hy gevang sou word, dit óf die dood óf ’n konsentrasiekamp sou beteken.

Die nuus dat generaal Vlassov gevange geneem is, het gou bekend geraak, sowel as die feit dat hulle deur Sowjet-tenks omring was. Van toe af het dit beteken dat elkeen se lot in sy eie hande was. Begichev het alleen weswaarts gevlug, gedurende die nag geloop en bedags weggekruip. Een aand met skemer, het hy op ’n Amerikaanse tenk afgekom wat op ’n ou houtkapperspaadjie stilgehou het. ’n Sersant wat langs die tenk gestaan het, het gevra: “Is jy Russies?”

“Ja,” het Begichev geantwoord, en verduidelik dat hy besig was om van die kommunistiese troepe weg te vlug. Net toe het twee Sowjet-militêre-polisiemanne in ’n kar daar aangekom. Die Amerikaanse kaptein in die tenk het hulle in gebaretaal gevra of hulle die vlugteling saam met hulle wou neem. Die Sowjet-polisieman het verduidelik dat hulle dit graag wou doen. Een van hulle het sy pistool uitgehaal en aan Begichev gesê: “Klim in die kar.”

Net toe Begichev gehoor daaraan wou gee, het hy die Amerikaanse sersant hoor sê: “Kaptein Tenner, wat is verkeerd met die Russe? Dit lyk of ’n hele klomp van hulle nie van mekaar hou nie.”

Met ’n skouerophaling het die kaptein gesê: “Wie kan die Russe verstaan?”

Die Sowjet-polisieman het sy pistool op Begichef gerig en uitgeroep: “Klim in die kar.”

Sonder om sy oë van die wapen af te neem, het Begichev in Engels gesê: “Is dit waar, kaptein Tenner, dat jy The Scarlet Plague van Jack London elf keer deurgelees het?”

Vir ’n oomblik het Tenner hom aangestaar, en toe het hy kortaf aan die militêre polisiemanne gesê: “Nyet – ek sal beheer oor dié man oorneem.” Met ’n handgebaar, het hy aan Begichev gesê: “Klim – in – vinnig.” Tenner en die sersant het Boris gevolg en ook ingeklim en die deur van die geskuttoring agter hulle toegeklap.

Terwyl die tenk weggerolry het, het Begichev aan kaptein Tenner verduidelik waarom hy van die “Scarlet Plague” van kommunisme wou wegvlug.

Uiteindelik het Tenner gesê: “Laat ons hier stilhou.” Hy het geglimlag, aan Begichev ’n pak sigarette gegee, en gesê: “Meneer Begichev, ons moet nou hier omdraai. Ek dink jy kan van hier af daarin slaag om veilig weg te kom. As jy ooit na die Verenigde State sou gaan, moet jy nie vergeet om my op te soek nie.” Die twee manne het mekaar die hand gegee, en Begichev het die woud ingestap.

Begechev het daarin geslaag om te ontsnap, want ek het hom ’n jaar daarna in Rome raakgeloop waar hy my hierdie storie vertel het. Ek weet egter nie of hy ooit daarin geslaag het om by die Verenigde State uit te kom nie.

Posted in Afrikaans


Next

Previous