Sterre in hul Bane

Posted on October 14, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit A Bekkersdal Marathon 

deur Herman Charles Bosman



“Hulle het oor die draadloos gesê,” het At Naudé aangekondig, “dat die Amerikaanse sterrekundiges hulle uit Johannesburg gaan onttrek. Hulle gaan hulle teleskope en die dinge waarmee hulle die sterre bestudeer het, Australië toe vat. Daar is vir hulle te veel rook in Johannesburg om die sterre behoorlik te sien.

Hy het stilgebly asof hy op kommentaar gewag het. Maar nie een van ons het iets te sê gehad nie. Ons was nie juis te veel geïnteresseerd in die Amerikaners en hulle sterre nie. Of ook nie in Australië nie, sover dit dié saak aanbetref.

“Die Amerikaanse sterrekundiges was vir baie jare in Johannesburg,” het At Naudé peinsend voortgegaan, asof die naderende verwydering van die sterrekundige navorsingstasie ’n kwessie van persoonlike berou vir hom was. “Hulle was vir baie jare hier en nou gaan hulle weg as gevolg van die rook. Ek veronderstel dat dit in hulle oë gekom het net toe hulle amper ’n nuwe ster deur hulle verkykers gesien het. Nou ja, dis hoe dit gaan met rook. Dit kom net op die verkeerde oomblik in jou oë.”

Wat At Naudé dáár gesê het, was iets wat ons kon verstaan. Dit was iets wat ons almal al ervaar het. Dit het verskil met wat hy vantevore gesê het. Dat rook op ’n ongeleë oomblik in jou oë kon kom, was iets wat almal in die Marico verstaan.

Chris Welman het dadelik vir ons begin vertel van die keer toe Koos Nienaber hom ’n guns gevra het – om op die rant van die Dwarsberge te gaan staan, van waar af dit vir hom moontlik was om die Derdepoortpolisiepos duidelik te sien. Dit het gelyk of Koos Nienaber private sake met ’n hoofman naby Ramoutsa gehad het. Dit het te doene gehad met ’n groot trop langhoringbeeste wat oor die grens gebring moes word.

“Van daar af kon ek die polisiepos baie duidelik sien,’ het Chris Welman gesê. “Ek het naby ’n Mtosa-hut gestaan. Toe die Mtosa-vrou die petrolkan op haar kop getel het en in die rigting van die spruit geloop het om water te kry, het ek nader aan die ysterpot gestaan. ’n Vuurtjie het die hele middag daaronder gebrand.

Toe hy die deksel van die ysterpot af opgelig het, kon hy steeds daardie twee polisiemanne baie duidelik sien – waar hulle kaarte aan mekaar uitgedeel het en beurte geneem het om uit ’n swart bottel te drink, het Chris Welman gesê. Hy was toe nie die minste bekommerd oor daardie twee polisiemanne nie. Eintlik, het hy toegegee, was hy heelwat meer besorg dat die Mtosa-vrou skielik na haar hut toe terug sou kom, met die petrolkan op haar kop, omdat sy iets vergeet het. En dit moes toe juis op daardie oomblik gewees het, toe hy die deksel opgelig het, dat die rook van die vuurtjie wat onder die pot geknetter het, in sy oë gekom het. Dit was die ergste soort van brandende rook wat jy jou kon voorstel, het Chris Welman gesê. Wat die Mtosa-vrou gebruik het om die vuur mee te maak, het hy geen idee van gehad nie. Hy het geweet van beesmis en bitterbessie. Dit was die soort van brandstof wat toe nog gewild was in die afgeleë areas langs die Malopo. En dit het ’n soort rook gemaak wat, as dit in jou oë sou kom, jou vir solank as miskien ’n kwartier tydelik blind kon maak.

Chris Welman het verder gesê dat hy nie heeltemal onvertroud was met die gevolge van die rook van die renosterbos nie, as gevolg van die feit dat hy sy kinderjare op ’n plaas in die oostelike provinsie baie goed kon onthou. Daar was dit nog steeds heel ongewoon om ’n huis sonder ’n oudmodiese abba-kombuis teen te kom.

Chris Welman het diep gesug. Gedeeltelik het ons gevoel dat daardie sug sy wortels in ’n heimwee vir die verlede gehad het. Sy volgende woorde het egter gewys dat dit verbind kon word met ’n wreder soort van werklikheid.

“Toe ek weer terug by die kop van die rant gekom het,” het Chris Welman dit eenvoudig gestel, “was die twee polisiemanne nie meer daar by die polisiepos nie. En Koos Nienaber is alreeds voorheen soveel keer boetes opgelê, dat die magistraat dié keer hom nie net met ’n boete laat wegkom het nie. Koos Nienaber het dit soos ’n man gevat toe die magistraat hom ses maande gegee het,” het Chris Welman afgesluit.

Meer as net een van ons wat in Jurie Steyn se voorkamer gesit het, het toe ook gesug. Ons het ook geweet hoe dit was om op die verkeerde oomblik rook in jou oë te kry. En ons het ook geweet hoe dit was om ’n skielike en onverwagse gesprek met ’n polisieman op grenspatrollie te voer, terwyl jy senuweeagtig ’n draadtang van een hand na die ander verskuif het.

Gysbert van Tonder het die gesprek weer teruggebring na die onderwerp van die sterre.

“As die Amerikaanse sterrekundiges uit Suid-Afrika vertrek omdat hulle nie ons soort van rook kan verdra nie,” het Gysbert van Tonder aangekondig, “wel, dan neem ek aan is daar nie veel wat ons daaraan kan doen nie. Ek het nie gedink dat ’n sterrekundige wat in die nag na die sterre met sy teleskoop kyk, te veel bekommerd oor rook sou wees nie – of, sover dit dié saak aanbetref, oor kooltjies, as hy in die nag by ’n treinvenster uitkyk – wat in sy oë kon kom nie. Ek het gemeen dat ’n sterrekundige op een of ander manier verhewe bo so iets sou wees.

Dit was moontlik vir die jong Vermaak, die skoolonderwyser, om Gysbert van Tonder daar reg te stel. “Dis nie die rook wat in jou oë kom nie,” het hy verduidelik. “Dis die rook in die atmosfeer wat inmeng met die waarnemings en die wiskundige berekeninge wat die sterrekundiges moet maak om kennis van die beweging van die hemelliggame te verkry.”

Toe het ons na mekaar gekyk met gevoelens van ontsag. Oor die algemeen natuurlik, het ons nie veel respek vir die onderwyser gehad nie, in die lig daarvan dat hy maar net boekgeleerdheid besit het, maar wat ons op daardie geleentheid tot nadenke gestem het, was die gedagte dat daar in die jong onderwyser se brein – net binne sy kop wat nie veel anders gelyk het as een van ons eie koppe nie – soveel kennis kon wees.

Net Jurie Steyn het hom nie so gou laat afsit nie.

“Dis soos daardie boek wat my vrou voor ons troue so graag bestudeer het,” het Jurie Steyn gesê. “Ek het julle al voorheen daarvan vertel. Dit word Napoleon se droomboek genoem. Dit is baie soos wat die jong Vermaak nou net van gepraat het. Agter in Napoleon se droomboek staan daar “Wat die Sterre Voorspel” vir elke dag van die jaar. Dit sê dat jy op Woensdae groen moet dra, en op ander dag moet jy ’n brief aan ’n familielid skryf, een wat jy wie weet wanneer laas gesien het. In elk geval, ek veronderstel dat dit is waarom daardie Amerikaanse sterrekykers Johannesburg verlaat. Ek verwag dat dit iets is wat hulle in die sterre gesien het.”

Chris Welman het gesê dat hy gewonder het of dit wat die Amerikaanse sterrekundiges deur hulle teleskope gesien het, die ster van die Amerikaanse nasie was wat besig was om op te gaan, of besig was om onder te gaan.

“Miskien kan Jurie Steyn se vrou dit met haar droomboek verklaar,” het Gysbert van Tonder gesê.

Posted in Afrikaans


Next

Previous