Onnatuurlik Stil In Die Helder Maanlig

Posted on September 14, 2017 by Cape Rebel

 

Uit Abducting A General
deur Patrick Leigh Fermor

 

Die volgende dag het alles vererger. Geen boodskapper het opgedaag nie, en skielik sou dit geen verskil gemaak het as hy wel opgedaag het nie. Want tweehonderd van die vyand het by Saktouria inbeweeg. Ons roete om van die eiland af te ontsnap, was versper. Ons moes weer van heel voor af begin. 

Die suidelike deel van Messara was stampvol troepe, en van hulle het Saktoura toe beweeg. Sou hulle verder weswaarts opruk en elke moontlike ontsnappingstrand beset? Daar was net een teenmiddel. Dit was vir my om Billy in beheer van die span te los en verder wes te beweeg, maar nie buite kontak nie. En om vars inligting in te win oor die moontlikheid van nuwe ontsnappingsroetes. Ek het geweet dat Billy saam met Manoli en Antoni en die res, reg sou wees. Die oomblik wat ek daarin geslaag het om dinge reg te stel, kon hulle weswaarts begin beweeg om by my aan te sluit. Die ding was om ’n plek te vind waar ’n skip anker kon gooi, en daarin kon slaag om vinnig weg te kom voordat die Duitsers kon inbeweeg. Anders sou ons vind dat ons hele wêreld tot stilstand gekom het.

Nog nooit was dit om in drie verdeel te kon word meer begeerlik nie: ek wou die vermoë hê om by die span te bly; om saamgedrom om ’n draadloosstel wat in kontak met Kaїro was, te sit; en om deur die rotse af te kyk na ’n strand waar daar geen Duitsers was nie.

Op 4 Mei ná sononder, het ek en George ons voorkoms na dié van plaasjapies verander, uit ons ongerieflike tuiste geklim, en in die pad geval al langs die Amari af.

~

’n Haakplek het vir my en George daar tussen die sipresbome van Pandanasa opgeduik. Ons het geweet dat die Hieronymakis-familie met ten minste een van ons draadloosstasies in kontak was, maar ongelukkig was dit omtrent die enigste dorp in die omgewing wat nie een van ons twee al voorheen besoek het nie. Die Hieronymakis-familie het alles van ons af geweet, en ons het alles van hulle geweet, maar ons het mekaar nog nooit ontmoet nie; en daar was niemand wat ons egtheid kon waarborg nie.

Die gesigte met die baarde het na mekaar toe gedraai vir bevestiging, wenkbroue is in verwarring gelug, en hulle het niksseggend na mekaar gekyk. Hulle het net kalm voortgegaan om hulle amberkleurige krale met hulle vingers om te rol, en ons is heel hoflik koffie aangebied. Dit was nutteloos om woedend op en af te spring, en só óók om daar, onder die uie en die paprikapeule wat aan die balke gehang het, met gebare te beduie. Elke poging om deur te breek, is met ’n identiese teruggooi van die kop, en toe oë, ontvang, saam met die smalende, rustige geklik van die Griekse negatief. Hulle sou nie ’n duim toegee voordat hulle nie geweet het, soos hulle sê, watter tabak ons gerook het nie. Ons kon, op stuk van sake, agents provocateurs gewees het. Hulle was glimlaggend en vaag en onversetlik.

Hierdie indrukwekkende maar halsstarrige muur van sekuriteit is uiteindelik ná twee waardevolle ure in ’n doodloopstraat, afgebreek deur die aankoms van oom Stavro Zourbakis van Karines. Hy was ons almal se vriend. Alles was meteens opgehelder en uitgestryk: ’n gegroetery, herkenning en ’n gelaggery, raki, en die krakende geluid van brandende en suisende dorings in die vuurherd, en boodskappers wat daar en dan ontbied is en na die twee draadloosspanne in die noord-weste uitgestuur is.

~

Ten spyte van die feit dat die skip daardie nag vir die derde keer tevergeefs sou kom – tensy een van die ander stasies hulle van die nuwe garnisoen by Saktouria gewaarsku het – was Sandy se brief ’n groot hupstoot, ’n hervestiging van ons kontak, en ’n bewys dat Kaїro alles in hulle vermoë doen om ons te help. Die nuus in Dick se brief was ook verouderd – met ander woorde pre-Saktouria – maar dit het die seine bevat wat na die skip toe geflits moes word, op watter nag en op watter kus dit ookal sou verskyn – MK (Monkey King) elke tien minute vanaf 21h00 GMT.

Die volgende fase van die storie klink in retrospek meer deurmekaar as wat dit daardie tyd was. Ek en George het na die dorpie Yeni toe aangesukkel. Dit was vyf myl anderkant Pandanasa. Dit was ’n punt wat rofweg dieselfde afstand weg was van al die areas wat vir ons belangrik was.

~

Die bokwêreld van Zourbovasili, by Yeni, het in golwende, bybelse heuwels gelê. Daar was ’n dorsvloer daar naby waar ek en George op struikplante  kon slaap. Ons het ’n wye vêrgesig geniet. Hierdie plek sou gedurende die volgende drie dae die middelpunt word van boodskappers wat gekom en gegaan het soos planne verander en opsies verstryk het. Maar nou, ná die skrum van die afgelope paar dae, het dit onnatuurlik stil en helder in die maanlig gelyk.

Ida het aan die oostekant uitgetoring, Kedros reg suid. Die Witberge, wat gedurende die dag nader aan ons gekom het, het blink aan die westekant opgedoem. Hoe leeg en stil, ná ons gebonde lewe in die berge, was hierdie silwer plato nie toe nie?  Dit was ’n perfekte plek om die bewegende maan deur die lug dop te hou en dwarsdeur die nag te kettingrook. Dit, terwyl ons bepeins het hoe om die verknorsing waarin ons nou verkeer het, te ontrafel. (Hoe het dit met Billy en die Generaal gegaan? Sou die Duitsers verder wes langs die kus afbeweeg? Gaan die boot daar opdaag sonder ’n seinflits van Saktouria af? Of was hulle op daardie presiese oomblik besig om vir die derde keer terug te draai, Afrika toe – of was dit die vierde keer? … Nou lees verder … Hoe het ek gewens ek kon.)

Behalwe vir ’n klein uiltjie in die woud daar naby, en af en toe die klanke van Vasili se trop, was daar nie ’n geluid nie.


Next

Previous