Om Hulle Van Mekaar Te Onderskei

Posted on February 28, 2017 by Cape Rebel

Uit No Ouspan 
deur Deneys Reitz

Dit het gelyk of ons in Suid-Afrika ook ’n gevaarlike situasie in die gesig gestaar het. Italië het 200 000 soldate in Abessinië gehad en ons het verwag dat hulle op die punt gestaan het om Kenia binne te val, en mettertyd ons eie land, want ten tyde was daar nie veel wat gedoen kon word om hulle te stop nie. Kenia het ’n paar bataljonne Askari’s gehad, en aan die begin van die oorlog het die Suid-Afrikaanse weermag tot ’n groot mate net op papier bestaan, hoewel  generaal Smuts koorsagtig aan die werk was om ’n nuwe weermag op die been te bring, en vrywilligers het heel entoesiasties aangesluit.

Intussen het die rassistiese Afrikaner-ekstremiste openlik gejubel oor die terugslae wat die Britte getref het. In die parlement en regoor die land het hulle verkondig dat Engeland slegs ’n stuiptrekkende kadawer was, en dat Hitler binne ses weke sy vredesvoorwaardes in Londen sou stel. Die Britse Empire was aan die verbrokkel en hulle was van plan om ’n Afrikaner- diktatorskap te skep en generaal Smuts en sy volgelinge sou daarna, volgens gestapo-riglyne, tot verantwoording geroep word.

En ’n vreemde beweging het ontstaan om hierdie bedreiging te implementeer. Dit was bekend as die Ossewa Brandwag. Daar is gesê dat hulle ledetal ’n kwartmiljoen getel het en dat hulle gedurende die nag in die geheim gedril het en dat hulle hulself besig gehou het met bomgooiery, sabotasie en ander ondermynende optrede – wat heel vreemd aan die normale karakter van die Afrikaanse mense was. Hulle voorneme was openlik om ’n organisasie te stig wat op die Nazi-sisteem gemoduleer was, en wat beheer sou oorneem die oomblik wanneer Groot Brittanje oorrompel is.

Generaal Smuts en ek en die meeste van ons kollegas het die mening gehuldig dat ons Afrikaanssprekende burgers uiteindelik te verstandig sou wees om permanent op ’n dwaalspoor gelei te word deur dié vreemdsoortige propaganda. Uit ervaring het ons gevoel dat, in ’n land soos die Unie, dit ’n fout sou wees om martelaars op ’n goedkoop manier te skep, en dus het ons die Ossewa Brandwag en ons teenstanders vryheid van beweging gegee. Hulle oordrewe rassistiese geesdrif het vir ons na bygelowige betowering geklink soos iets wat mens in Lagos en die Goudkus sou kon vind.

Nie almal aan ons kant het met ons saamgestem nie, en daar was ’n tyd toe ek dit nie kon durf waag om êrens gesien te word nie sonder dat ’n welmenende, ontstoke en senuagtige persoon op my afstorm en daarop aandring dat elke Ossewa Brandwag-heethoof op die plek geskiet moes word en dat al die lede van die opposisie se parlementslede en die politieke leiers dadelik in die tronk gestop moes word.

Generaal Smuts het my vertel dat hy soortgelyke dringende versoeke moes verduur, en dat sy reaksie gewoonlik was: “Los dit aan ons oor, los dit aan ons oor; ons weet wat ons doen. Moet asseblief nie oorboord gaan nie.”

Ons is mettertyd deeglik in die gelyk gestel. Nou (in 1943) het die Ossewa Brandwag so te sê verdwyn, en die verskeie republikeinse groepe wat skielik verskyn het met die hoop op ’n spoedige Duitse oorwinning, is op die oomblik besig om so met mekaar te redekawel dat ons skaars aan hulle dink.

Ek het deurentyd daarna gestrewe om so ver as moontlik, ons onderlinge stamdwaashede te vermy, maar af en toe was dit tog nodig om daaraan aandag te gee – vir die Suid-Afrikaanse politieke agtergrond se onthalwe. Ek het slegs hierdie finale woord oor die onderwerp. Ons wit populasie is minder as driemiljoen. Hiervan is omtrent 55 persent van Hollandse afkoms, en 40 tot 45 persent is van Britse herkoms. Omtrent die helfte van die Hollandse groep staan afsydig teenoor ons oorlogsywer. Hulle is van mening dat die oorlog alleenlik Groot Brittanje se saak is en dat dit niks met ons te doen het nie, en ons het nie die reg om hulle in die draaikolk in te sleep nie.

Maar tog was iets soos 35 persent van ons soldate en 35 persent van ons ongevalle in Abessinië en Libië, Afrikaners.

En daar is ’n ander lys, en daar mag dalk te kort geskiet word aan goeie smaak en subtiliteit om dit ’n ongevalle lys te noem. Dit is die kennisgewings van verlowings en huwelike tussen Afrikaanse en Engelse paartjies wat daagliks in koerante verskyn. Dit wys daarop dat hulle deurentyd vermeng en ondertrou en dat dit teen ’n verhoogde tempo plaasvind, en teen 1960 of daar rond sal selfs die rassistiese politici hulle nie van mekaar kan onderskei nie.

Dit is my siening van die plaaslike politiek.

Posted in Afrikaans


Next

Previous