Nog steeds nie tuis

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit ‘Finding the Subject’
In Recognising Blues

deur Herman Charles Bosman

 

Toe Leon Feldman my soos gewoonlik gevra het om vir die Rosh Hashanah uitgawe van The South African Jewish Times te skryf, het dit gelyk of dit maklik genoeg sou wees. Al wat nodig was – so het dit gelyk – was vir my om ’n onderwerp te vind. Iets met ’n soort van gesigspunt oor die verhouding tussen Jode en die nie-Joods – die res oorgelaat aan die tikmasjien en die toeval. Aan die einde het ek uitgevind dat die enigste deel van die artikel wat eenvoudig was, was om dit te skryf. Om ’n onderwerp in die hande te kry, het geblyk om ’n amper onoorkomlike probleem te wees.

“Jood en Boer op die Platteland?” was Feldberg se voorstel. Oor my dooie liggaam, was my denke.

“Wat van The Merchant of Venice – ’n nuwe vertolking van Shylock?”

Maar ek het die baie lang verhandelinge wat ek oor Shylock gelees het, onthou. Ek het gevoel, heel nederig, as ek miskien eendag ’n klein bietjie nuwe lig op die karakter van Shakespeare se Jood kon werp, sou dit nie in die koers van ’n duisend woorde wees wat spontaan die lug gesien het nie. Ek het so pas ’n vervroegde kennisgewing van Edith Sitwell se A Notebook on William Shakespeare, wat die volgende maand in Engeland gepubliseer sou word, gesien. “Na die bestudering van ’n frase is daar bevind dat dit die volle betekenis van die hele drama bevat … ’n werk wat dien om lig te werp op Shakespeare se vermoë en sy veelsydige genialiteit” – so lui die aanprysing vir Edith Sitwell se boek.

Waar, tussen al hierdie skrywers van geskoolde verhandelinge, sal my een-duisend-woord dissertasie oor Shylock, wat ek teen ’n spoed gedoen het, wees?

’n Rukkie later het Edgar Bernstein voorgestel dat ek oor dié onderwerp skryf: “Die Joodse bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde”. Wel, ek kan probeer. Ek het daaroor nagedink – veral omdat hy my ’n uitgawetjie geleen het wat handel oor die Joodse boekefees en wat ’n aansienlike aantal insiggewende artikels bevat het, wat ek kon afskryf. Ek het deur die boekie geblaai. Op die een of ander manier het die gedagte om die inhoud te herkou en dit op ’n ander manier op te dis, my glad nie juis aangestaan nie. In elk geval sou almal weet dat ’n artikel van so ’n aard nie die uitslag van oorspronklike navorsing was nie. Hulle sou almal weet by wie ek dit afgeskryf het. Ek het deur die lys van bydraers geblaai. Ek lees Ehrhardt Planjé. Uys Krige. Dit het na ’n goeie plan geklink. Hulle het onderwerpe gekry waaroor geskryf kon word. Ek sal by hulle leer hoe om dit te doen. Ek mag op so ’n manier leiding kry.

Ek het Ehrhardt Planjé eerste probeer. Hy was nie tuis nie.

Maar Uys Krige het my probleem dadelik ingesien. Ek het gesê: “As ek nou moet begin om die stambome van Suid-Afrikaanse skrywers na te gaan, om uit vind wie Jode is en wie nie …”

“Dis presies waaroor die Jode gekla het wat die Nazi’s gedoen het,” het Krige gesê. “In elk geval, om ’n spesifieke Joodse bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuur te bespreek, kon uitloop op iets soos ’n spesiale gesmekery. Dis ’n beledigende ding om teenoor ’n volk te doen.”

Hy het verduidelik dat hy die artikel oor Olga Kirsch geskryf het omdat sy in die afgelope tyd aanmerklik verbeter het, en hy het so gevoel ná wat Greshoff haar aangedoen het. Regverdigheid het ’n meer gebalanseerde waardebepaling van haar werk vereis – en dit het baie en vanselfsprekende meriete bevat.

“Wat van David Fram?” het Krige gevra. “Skryf oor hom. Nou, daar’s ’n goeie onderwerp vir jou. Fram het ’n baie groter reputasie in Amerika as in hierdie land.”

Dit het gelyk of dit moontlikhede ingehou het. Intussen het ek weer probeer om Planjé in die hande te kry. Die artikel wat hy geskryf het, “Die Jood soos uitgebeeld in die Afrikaanse roman”, was besonder interessant. ’n Paar jaar gelede het hy ’n essay geskryf, “The Elephant on the Monkey”. Hy lyk goed te wees met titels. Miskien is dit vir hom moontlik om vir my ook iets uit te dink wat net so goed is. Ek het egter gehoor dat Planjé nog nie huis toe gekom het nie.

Gevolglik het ek David Fram bygedam – sy grootste struikelblok in die wêreld van letterkunde was sy besondere beskeidenheid. En hierdie keer was Fram nie net beskeie nie, hy was ook siek. Hy kon skaars praat. Maar hy was in staat om my van ’n aantal statistieke te voorsien. Sy koors was 104. Van sy gedigte het 60 persent ’n Suid-Afrikaanse milieu gehad. Dit sou nie vir hom moontlik wees om vir die volgende viertien dae rond te beweeg nie. Sy langste gedig: “In Dorem Afrika”, is 83 bladsye lank. Hy het elke drie ure medisyne gedrink. Sy gedig, “The Boers”, was 3,200 reëls lank. Toe het hy weer drie tablette gedrink – elkeen het 0.5 gram betaphenyllisopropylamine-sulfaat bevat.

Dit het nie vir my gelyk of daar veel van sou kom nie. Dus het ek Planjé weer probeer. Hy het nog steeds nie huis toe gekom nie.

Daarna het ek ’n entjie in Foxstraat gaan wandel. Ek het onderhoude gehad met een of twee Joodse sakemanne wat ek geken het, en my probleem aan hulle verduidelik. Kon hulle miskien van hulp wees en ’n onderwerp aanwys? “Wat is die algemene Joodse sakeman se houding jeens kultuur?” het ek aan die eienaar van ’n meubelwinkel gevra. “O, omtrent dieselfde as die houding van die algemene nie-Joodse sakeman,” het die klerk van die meubelhandelaar gevat gesê.

Dit het my iets gegee om oor te dink.

Ek het die ander alternatief genoem – ’n artikel oor Shylock.

“Wel, waarom nie sê dat The Merchant of Venice lewensgetrou is nie?” het bogenoemde klerk geantwoord in ’n stemtoon met ’n ligte mate van ironie daarin. “Kyk nou net vir hoeveel jare al het skrywers om verskoning gevra namens Shakespeare, en vir die Jode, en probeer om Shylock uit die prentjie uit te verduidelik. Waarom nie net sê: Wel, die pond vleis en so aan – c’est la vie? Dit is ’n oorspronklike benadering, nie so nie?”

“Dis oorspronklik genoeg,” het ek toegegee, “maar, ek bedoel: Is daar nie genoeg anti wat-jy-dit-mag-noem in die wêreld soos dit is nie?  Nee, ek is bevrees jou voorstel is uit. Miskien kan Planjé my op die spoor van iets bring.”

Maar Planjé was ook uit. Hy het nog steeds nie sy pad huis toe gevind nie.

Kort daarna het ek vir S.A. Rochlin gesien. “Kan jy my help om ’n onderwerp te kry waaroor ek kan skryf?” het ek hom gevra. “Jy weet. Ek wil iets goeds die lig laat sien, wat jou tot nadenke stem, ensovoorts. Nie iets wat net die pot aan die kook moet hou nie.”

“Weet jy waaroor ek moet skryf vir die Rosh Hashanah uitgawe?” het Rochlin my gevra.

“Nee,” het ek gesê. “Ek weet nie. Wat?”

“’n Oorsig oor die geskiedenis van verhoudings tussen die Jode en die Nasionale Party. Dit beteken dat ek tot by 1912 sal moet teruggaan. Dink net hoeveel navorsing daaraan verbonde is.”

Dit het my laat sidder. “Jy sal 1932 se tussenverkiesing moet noem,” het ek gesê. “’n Jood, Schlosberg, was die Nasionaliste se kandidaad. Ek het destyds ’n paar artikels geskryf waarin ek hom ondersteun het. Hy het dit nie gemaak nie.”

Maar ek was nog nie naby die skryf van die artikel vir The South African Jewish Times nie. En daarin sal my foto en alles pryk.

Skielik het ek aan Ignatius Mocke gedink. Ek het met hom in verbinding getree. En ek was toe spyt oor die feit dat ek nie vroeër aan hom gedink het nie. In my gesprek met hom het hy nie net een artikel voorgestel nie, maar tien. Gemaklik en amper instinktief, in omtrent elke sin wat hy gesê het, het hy ’n tema oor iets treffends en geselserig voorgestel om oor te skryf. 

“Ek het dikwels daaraan gedink dat, van al die verskillende rasse wat na hierdie land toe geïmmigreer het,” het Mocke gesê, “dit vir die Jood moontlik sou wees – en heel gewilliglik – om die meeste vir die Afrikaanse letterkunde te kon doen.” Ek het gedink, daar’s nou ’n uitstekende artikel vir jou, reg om te gebruik. “Die Jode het die grootste kapasiteit van alle mense,” het Mocke verder gesê, “om ’n inheemse kultuur te waardeer en om hulself daarmee te identifiseer.” Weer eens was dit iets waaroor ek verder kon uitbrei, en na ’n hele paar artikels uitbrei.

Mocke het verder gesê dat hy lankal al bewus was van die ooreenkoms tussen die Jode se agtergrond en dié van die Afrikaner. “Die stryd van hierdie twee klein nasietjies vir nasionale oorlewing en onafhanklikheid het baie ooreenkomste,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat, ’n paar jaar gelede toe anti-Semitiese propoganda op ’n georganiseerde skaal tussen die Afrikaners begin versprei het, hy in ’n posisie was om te weet tot watter mate dit deel gevorm het van ’n doelbewuste verdeling en gesagsbeleid wat deur persone, wat antagonisties teenoor beide die Jode en die Afrikaners was, toegepas is.

Hy het gesê dat hy in staat was om baie lig te werp op verskeie aspekte van wat hy “politieke kattekwaad” genoem het.

Ek het besef dat ek vroeër met Mocke in verbinding moes getree het. Hopelik sal ek van hom onthou voor die volgende Rosh Hashanah uitgawe.

Teen druktyd het Ehrhardt Planjé nog nie huis toe gekom nie.


Next

Previous