’n Streng praktiese lyn

Posted on December 04, 2018 by Cape Rebel


Uit “Neighbourly”

In A Bekkersdal Marathon
deur Herman Charles Bosman

 

’n Heining tussen die Unie en die Betsjoeanalandse Protektoraat, het At Naudé gesê – volgens die draadloos was die twee regerings reeds besig om dit te bespreek.

“Ek hoop hulle sit darem, so hier en daar, hekke in die heining,” het Chris Welman gesê. “Indien nie, hoe sal ons dan by die Ramoutsa-sylyn uitkom?”

“Ja, met ’n heining daar,” het At Naudé saamgestem, “kon goedere wat ons uit Johannesburg bestel het, vir jare op die sylyn lê, en ons sou niks daarvan weet nie.

“Bes moontlik sou ons nie eers die verskil opmerk nie,” het At Naudé voortgegaan. “Ons sou net dink die spoorweë was alweer ietwat stadig.”

Daar was een snaakse ding oor die oprigting van ’n heining, het oupa Bekker gesê, wat hyself lank gelede opgemerk het. En dit was dat wanneer jy ’n heining om jou plaas oprig, het dit nooit gelyk of dit iemand uitgehou het nie. Al wat jy gedoen het, was om jouself in te kamp, en dit met doringdraad.

Intussen het Gysbert van Tonder, met sy ietwat groot belang in beessmokkelary, ’n bietjie aan die dink geraak. En toe hy gepraat het, was dit duidelik dat hy nie besig was met vrolike, sorglose dagdromery nie. Sy beredenering het ’n streng praktiese lyn gevolg – ’n lyn so reguit soos die vyf teodoliet gekarteerde drade van die heining wat die Unie en die Betsjoeanalandse protektoraat van amptelike grense sou voorsien.

“Daar behoort ’n ordentlike soort van grens te wees – daaraan glo ek,” het Gysbert van Tonder ietwat vroom aangekondig. “Dit maak dit baie moeiliker om beeste uit die Protektoraat die Transvaal binne te smokkel as daar geen grenslyn is om hulle oor te smokkel nie. Ek is bly die regering doen iets daaraan. Hierdie dinge moet reg wees. Ek kan jou vertel dat ek al meer as een keer moedeloos was en myself gevra het … wel, wat baat dit? Verstaan julle wat ek bedoel?

“Jy is óf in Marico, óf jy is nie. Jy is óf in die Protektoraat, óf jy is nie. Wanneer daar nie ’n ordentlike grens is nie, kan jy met ’n trop beeste reg in die Johannesburgse mark staan, onseker óf jy in die Transvaal óf in Betsjoeanaland is nie. En selfs wanneer die afslaer vir bieë begin vra, is jy nie seker of hulle in ponde of in rolle koperdraad gaan kom nie.

“Jy verwag amper dat iemand gaan uitroep: ‘Soveel stringe krale’. Ek kan dus slegs sê, hoe gouer hulle ’n behoorlike soort van heining oprig, hoe beter. Dit het te lank aangegaan met hoe dit vandag is. Jy moet kan weet of ’n os deeglik oorgesmokkel is of nie. ’n Mens moet wettig wees.”

Die jare wat hy met die smokkel van beeste besig was, het duidelik aan Gysbert van Tonder ’n onmiskenbare regskundige denkproses verleen. Hy het daarvan gehou om dinge volgens reëls en regulasies te organiseer. En die volgende vraag wat hy gevra het, het dit beaam.

“In hierdie gesprek wat ons regering met die regering van die Protektoraat voer,” het hy gevra, “het die uitsending tereg gesê watter soort heining hulle gaan oprig? Is dit die soort met staalpale en geankerde drade wat jy kan sny? Of sal dit die gewone soort wees wat jy kan uittrek en waar jy dan die heining by die valpale kan neerbuig vir die beeste om op die bokseil oor te loop? Dis die ding wat hulle, voor enigiets anders, sal moet uitstryk, dink ek.”

Op daardie punt het die gesprek – heel verstaanbaar – ’n tegniese draai gemaak. Die geselsery het te doene gehad met draadstringe, en landmeters, en bakens wat verkeerdelik geposisioneerd was, en landmeters, en dwarspale, en die snaar wat gespring het en Koos Nienaber se ken met die opslag oopgesny het, en opmetings, en vyfdoringdraad-drade, en die taal wat Koos Nienaber daarna gebruik het, terwyl hy met moeite gepraat het met daardie kleefpleister op sy ken.

~

“En toe het die landmeter vir my gesê,” het Chris Welman omtrent ’n halfuur later mee vorendag gekom, “as ek hom nie geglo het oor dat die spruit nie aan my kant van die grens loop nie, dan kon ek sy syfers myself nagaan. Daar was slegs agt bladsye vol syfers, het hy gesê, en daardie baie klein syfertjies op sommige bladsye, wat nie te duidelik gelyk het nie, sou hy in ink vir my oorgaan,” het hy gesê.

“En hy kon ook ’n boek vir my leen wat vol syfers was, wat aan my sou verduidelik wat die syfers wat hy neergeskryf het, beteken. En toe ek gesê het dat, sedert my oupa se tyd, ons die gebruik van daardie spruit op ons plaas gehad het, en dat ons gewoonlik ons water daaruit gekry het, het die landmeter net geglimlag, asof hy my oupa se meerdere was. En hy het gesê hy kon dit nie verstaan nie. Aan die anderkant van die bult, in ’n reguit lyn, was daardie spruit ’n hele ent weg van ons plaas af.

“Wat daardie ander landmeter, baie jare gelede, aangevang het, kon hy net nie uitmaak nie, het hy gesê. Met al sy boeke en syfers, het hy gesê, kon hy net nie kop of stert daarvan uitmaak nie. Wel, natuurlik kon ek hom nie gaan staan en vertel nie. Hoewel dit iets is wat ons almal in die familie kennis van dra.

“Want my oupa het in sy tyd, meer jare gelede as wat ek kan onthou, dieselfde soort probleem met ’n landmeter gehad. En toe het my oupa vir die landmeter gesê: ‘Hoe weet jy dat die lyn wat jy anderkant die bult gemerk het, ’n reguit lyn van hier af is? Kan jy deur die bult sien – ’n vyftig-tree hoë bult en ’n halfmyl tot aan sy anderkant?’ Die landmeter moes natuurlik erken dat geen mens deur ’n bult kon sien nie. En die landmeter was toe beskaamd omdat hy so onkundig was. En toe het hy die plan verander, presies soos my oupa hom gevra het om te doen.

En die snaakste ding daarvan was dat my oupa niks van syfers af geweet het nie. Inderdaad, ek glo nie my oupa kon eers syfers lees nie. Al wat my oupa gehad het terwyl hy met die landmeter gepraat het, was ’n haelgeweer – die een loop glad en die ander nie. En die lope was albei nogal kort afgesaag. En hulle sê toe hy die plaas verlaat het – ná my oupa aan hom uitgewys het waar hy verkeerd was met sy syfers – was hy die beleefdste landmeter wat nog ooit na hierdie deel van die Dwarsberge gekom het.”

Daar sou onteenseglik, het hy gesê, ’n aansienlike deel van dieselfde soort van ding in die oprigting van ’n grens tussen die Betsjoeanalandse Protektoraat en die Transvaal plaasvind.

Meer as een landmeter sou verseker verwonderd sy wenkbroue lig, het ons gesê. Of hy sou sy sysakdoek uit sy sak haal en sy teodoliet begin afstof, terwyl hy vir homself sou sê dat hy, in die eerste plek, nie so ’n delikate instrument aan ’n rou Mchopi-draer, wat na tuisgemaakte bier geruik het, moes toevertrou het nie.

In die afbakening van die Transvaal-Betsjoeanaland Protektoraat-grens, kon ons heelwat moeilikheid sy kop sien uitsteek, vir ’n hele klomp mense, nogal.


Next

Previous