’n Baie suksesvolle koninklike huwelik

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit “Royal Processions”
In A Cask of Jerepigo
deur Herman Charles Bosman

By geleentheid van prinses Elizabeth se huwelik, het Londen ’n koninklike stoet gehad. So omtrent vyftien jaar gelede tydens my verblyf in Engeland, het ek ’n hele paar koninklike optogte gesien.

Hierdie optogte is kleurvolle geleenthede. Alles was met styl gedoen. En in daardie een oomblik van skarlaken en goud, wanneer jou hoed opgelig is, en met die verbygaan van die koninklike koets daar die gedreun van perdehoewe op die grond is, en die lug rasend vol trompetgeluide en toejuiging is, dan vind jy dat jou pols baie vinnig klop, en dat vreemde tintelinge jou hart aan die roere het.

~

Die beste plek vanwaar jy die optog kan sien verbygaan, is van die sypaadjie af. En die beste tyd om jou plek daar in te neem, is om middernag. Dit beteken dat jy twaalf uur lank in die straatvoor moet wag. Maar as jy nie vroeg kom nie, sal jy vind dat die beste stukkies van die straatvoor reeds ingeneem is, en jy sal maar tevrede moet wees om op ’n minderwaardige deel van die randsteen te sit, daardie deel wat van die hardste soort beton gemaak is.

Die wagtery is heel aangenaam. En ek weet wat Milton in gedagte gehad het toe hy geskryf het oor diegene wat staan en wag. Daar is vir my altyd iets verhewe daaraan as ek dink aan mense wat wag – óf hulle vir ’n trein wag, óf vir ’n koning om verby te ry, óf vir die Een Wie se koms vrede aan mensekinders sal bring.

Daar naby my was ’n man wat ’n biblioteekboek by die liggie van ’n kers gesit en lees het.

Ek dink ek het meer genot gehad daar waar ek saam met die skare in die straatvoor gewag het, as by die meeste deftige onthale waarheen ek al op verskeie geleenthede uitgenooi is. (Sonder twyfel per abuis.) By ’n glanshuwelik van die elite, byvoorbeeld, stel hulle altyd ’n paar speurders aan wat oor jou skouer loer en jou kriewelrig laat voel.

~

Vroeg in die oggend – ek het nie geweet hoe laat nie – was daar ’n soort van applous. Ek het gevra waaroor.

“Dis die aanbreek van die Engelse daeraad,” is ek ingelig.

Ek het gesê dat dit gaaf was om dit te hoor. Maar ek het gewonder hoe hulle dit geweet het.

Dis een van die groot probleme wat die Engelse winter aan ’n man wat gewoond is aan die blou lug, mee te doen het. Dit is altyd ’n probleem om te onderskei tussen die soort duisternis wat hulle nag noem, en die ander soort donkerte wat hulle dag noem. Aan die oningewyde lyk alle soorte donkerte dieselfde.

Toe aan hom gesê is dat dagbreek aan die kom was, het die man met die biblioteekboek dit wat van sy kers oor was, doodgeblaas, en in die donker met sy leeswerk voortgegaan.

~

Dit het later geword. En ek het aan die gesels geraak met die mense wat om my gestaan het. Hulle het my baie dinge van die koninklike familie vertel – dinge waarvan ek nie voorheen geweet het nie. En ek het op my beurt hulle weer allerhande dinge van generaal Smuts vertel. Dinge waarvan generaal Smuts ook nog nooit voorheen van gehoor het nie.

Uiteindelik het die huweliksgaste begin om by die promenade af te ry op pad na die Westminister Abdy toe. Hulle het almal nogal heel gesiene en vernaamd gelyk. Maharadjas en kabinetsministers en peeresses en buitelanse ministers en adellikes.

Lateraan het ’n koets vol prinsesse stadig verbygery. Ek het tussen twee polisiemanne deur van die sypaadjie afgeloop, en ’n platoniese soen na die prinsesse toe geblaas. Een van hulle het haar hand by die venster uitgesteek en vir my teruggewaai. Maar dit was die verkeerde prinses. Voor ek die misverstand kon verduidelik – naamlik, dat ek nie haar bedoel het nie, maar die een langs haar, die een met die swart hare – het die koets aangery.

C’est la vie.

~

Toe het die groot oomblik aangebreek. ’n Skouspelagtige hoogtepunt van skaterende kleur en oorverdowende applous en vergulde koetse en gardtroepe in skitterende uniforms … Die koning en koningin van Engeland … Ek het vlugtig na die man met die biblioteekboek gekyk. Hy was steeds verdiep in sy leeswerk. Hy het nie een keer opgekyk van die gedrukte bladsy af nie. Ek het al dikwels gewonder waarom hy na die prosessie toe gekom het.

Dit was ’n baie suksesvolle koninklike huwelik. Maar ek het gevoel dat iets te kort geskiet het, ten opsigte van middeleeuse konsepte van vrygewigheid – verkopers van worsrolletjies wat hulle ware vanaf die stemmige skemeraand tot 10.30 se samedromming in Hyde Park en Green Park en St James’s Park gesmous het. Daar was geen vet osse wat by Marble Arch op die spit braai nie, met stukke vleis wat vrylik uitgedeel word aan wie ook al opdaag. Daar was geen massiewe vate neutbruin bier in die Birdcage Promenade staangemaak nie. Bring jou eie drinkbeker.

~

Ek kon generaal Hertzog baie goed sien. Dit was omdat hy sy kop hoog opgehou het. Tog was daar ’n gespanne uitdrukking op sy gesig. Miskien het hy probeer onthou of dit die kroonkolonies – of dalk die kroonjuwele – was wat Brittanje belowe het om aan die Unie oor te dra.

Of miskien het generaal Hertzog net huis toe verlang.

Dit het my weer laat terugdink aan ’n ander Suid-Afrikaner wat deur Londen gery het toe Victoria die koningin was. Hulle praat daar nog steeds van hom. Ek wonder waaraan hy gedink het toe sy koets die draai gemaak het om in St Jamesstraat af te ry. Miskien oor ’n bosveldplaas, en die son wat geel skyn op die afgewitte mure, en die groot boom by die dam. En tog dink ek dat dit eintlik nie so was nie. Ek dink dit is meer aanvaarbaar om te glo dat Paul Kruger verskoonbaar ingenome met homself was oor sy triomf. En wat hy regtig gedink het was: “As daardie Rustenburgse kêrels my darem nou kon sien!”

~

Dit is in die verbygaan daarvan dat die kleurvolle skouspelle van die wêreld almal dieselfde is. Die konings is nie meer daar nie, die uitbundige kabaal is verby, en die geluid van marsjerende manne is besig om in die verte weg te sterf.


Next

Previous