In Die Gees Van Jou Lotsbestemming

Posted on December 22, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit Lara – The Untold Story That Inspired Doctor Zhivago 

deur Anna Pasternak

Dit is amper onmoontlik, gemeet aan vandag se standaarde van roem, om die vlak van beroemdheid wat Boris Pasternak vanaf die 1920s en later in Rusland bereik het, te begryp. Pasternak mag baie beroemd wees in die Weste omdat hy die Nobelbekroonde liefdesverhaal, Doctor Zhivago, geskryf het, maar tog word hy in die eerste plek in Rusland as ’n digter erken, en word hy daar steeds besonder hoog aangeskryf en gehuldig. Gebore in 1890, sy reputasie het gedurende die vroeë dertigerjare toegeneem, en gou het hy ouditoriums met jong studente, rebelle en kunstenaars wat opgedaag het om na voordragte van sy poësie te luister, volgepak. Wanneer hy stilgebly het – vir effek of vir ’n kortstondige geheueglips – het die hele gehoor daarop voortgegaan en die volgende versreël gelykluidend vir hom uitgebasuin, net soos hulle deesdae by popkonserte doen.

“In Rusland, meer as enige ander plek in Europa, was daar ’n opregte kontak tussen die digter en die publiek,” het Lydia, Boris se suster, oor daardie tydperk geskryf. “Die kontak was baie groter as wat ooit in Engeland denkbaar was. Digbundels is in enorme uitgawes gepubliseer, en hulle is binne ’n paar dae ná publikasie uitverkoop. Oral in die dorp is plakkate aangebring wat byeenkomste saam met digters aangekondig het, en almal wat in die digkuns belanggestel het – en wie in Rusland het nie in hierdie kategorie geval nie? – het na die lesingsaal of forum gestroom om na hulle gunsteling digter te luister.”

Die skrywer het ’n ontsaglike invloed op die Russiese gemeenskap gehad. Gedurende tye van oproer, toe daar nie geloofwaardige politici was nie, het die publiek op hulle skrywers staatgemaak. Die invloed van literêre joernale was geweldig; hulle was kragtige mediums vir politieke debat. Boris Pasternak was nie net ’n gewilde digter wat vir sy moed en opregtheid gehuldig is nie – hy is ook deur ’n nasie vereer vir die feit dat hy sy stem vreesloos laat hoor het.

~

Daar is ’n Russiese gesegde: “Jy kan Rusland nie deur jou kop verstaan nie. Dít kan jy net deur jou hart doen.”

Toe ek Rusland vir die eerste keer besoek het, was dit betowerend om daar rond te loop, want ek het gevoel dat ek nie ’n toeris was nie, maar dat dit ’n tuiskoms was. Dit was nie dat Moskou bekend gevoel het nie, maar eerder dat dit nie vreemd was nie. Op ’n winterige Februarie-aand het ek in die wye Tverskayastraat deur die sneeu aangestap om aandete by die Café Pushkin-restourant te gaan geniet. Ek was deeglik bewus daarvan dat Boris en Olga gedurende hulle hofmakery, baie keer dieselfde roete gestap het – meer as sestig jaar gelede  op presies dieselfde sypaadjies.

Terwyl ek daar te midde van flikkerende kersligte in die Café Pushkin gesit het, het ek die hand van die geskiedenis sag op my voel rus. Die styl was dié van’n Russiese aristokraat se tuiste, van so om en by 1820 – daar was galerye teen die mure van ’n biblioteek wat volgepak was met boeke, fyn afgewerkte gewellyste, geskilderde plafonne en onderskeidende prag. Die restaurant was naby die ou kantore van Novy Mir, Olga se vorige werksplek by die Pushkin-plein. Ek kon my voorstel hoe Olga en Boris daar verbygeloop het, toegedraai in swaar jasse want dit het gesneeu, met hulle koppe omlaag en naby mekaar, en hulle harte vol begeerte.

Vyf jaar later toe ek Moskou weer besoek het, het ek na die Pushkin-standbeeld toe gegaan wat in 1898 opgerig is. Dit is  waar Boris en Olga, aan die begin van hulle verhouding, mekaar gereeld ontmoet het. Dit was ook hier waar Boris die diepte van sy liefde aan Olga bely het. Die ontsaglike standbeeld van Pushkin is in 1950 van die een kant van Pushkin-plein na die anderkant verskuif, en dus sou hulle hul hofmakery aan die westekant begin en in 1950 na die oostekant verskuif het, waar ek nou gestaan en opgekyk het na die brons voue van Pushkin se majestueuse skouermantel wat teen sy rug afgetuimel het. My Moskouse gids, Marina, ’n bewonderaar van Putin en die huidige regime, het na my gekyk waar ek onder Pushkin se standbeeld gestaan het. Sy het Boris op presies dieselfde plek gevisualiseer en toe gesê: “Boris Pasternak woon nou in die hemel. Vir so baie van ons is hy ’n held, selfs vir daardie van ons wat nie eers in poësie geïnteresseerd is nie.”

Hierdie siening vol eerbied was net soos dié van Olga se dogter, Irina Emelianova, wat ek ’n paar maande gelede in Parys ontmoet het: “Ek dank die Here vir die kans om hierdie groot digter te kon ontmoet,” het sy aan my gesê. “Ons het verlief geraak op die digter voor ons die man ontmoet het. Ek het altyd van poësie gehou en my ma het van sy poësie gehou, net soos geslagte van Russe. Jy kan jou nie voorstel hoe merkwaardig dit was om Boris Leonidovich – sy Russiese vadersnaam – nie net op die bladsye van ons bloemlesings te kon hê nie, maar in ons lewens.”

Irina is deur Pasternak onsterflik gemaak as Lara se dogter, Katenka, in Doctor Zhivago. Toe sy groter geword het, het Irina baie na aan Boris geword. Hy het haar liefgehad soos die dogter wat hy nooit gehad het nie, en hy was meer van ’n vaderfiguur vir haar as enige ander man in haar lewe. Irina het van die tafel af opgestaan en ’n boek uit haar volgepakte rakke gaan haal. Dit was ’n vertaling van Goethe se Faust wat Boris haar gegee het. Op die titelblad was daar ’n toewyding in swart ink in Boris se sterk handskrif, vol draaie en lussies “soos kraanvoëls wat oor die bladsy sweef” het Olga dit op ’n slag beskryf. Aan die binnekant het Boris in Russies aan die sewentienjaaroue Irina geskryf: “Irochka, dit is jou kopie hierdie. Ek glo in jou en ek glo in jou toekoms. Wees moedig in siel en gees, in jou drome en voornemens. Glo in die natuur, in die gees van jou lotsbestemming, in gebeurtenisse van belang – en glo slegs in daardie paar mense wat reeds ’n duisend keer getoets is, en wat jou vertroue werd is.”

Irina het met trots die finale inskrywing aan my gelees. Boris het geskryf: “Amper soos ’n vader, Jou BP. November 3, 1955, Peredelkino.”

Toe sy haar hand liefderik oor die bladsy gevee het, het sy in ’n droewige stem gesê: “Dis ’n jammerte dat die ink sal verdof.”

Posted in Afrikaans


Next

Previous