Hygge

Posted on November 23, 2017 by Cape Rebel

Uit The Little Book of Hygge – The Danish Way to Live Well
deur Meik Wiking

 

Hooga? Hhyooguh? Heurgh?

Dit is nie belangrik hoe jy verkies om “hygge” uit te spreek of selfs hoe om dit te spel nie. Om een van die grootste filosowe van ons tyd, Winnie the Pooh, te parafraseer toe daar gevra is hoe om ’n sekere emosie te spel: “Jy spel dit nie, jy voel dit.”

Hoe om “hygge” te spel en uit te spreek is egter die maklike deel.  Hoe om presies te verduidelik wat dit is, is die lastig-moeilike deel. Hygge is al alles genoem, van “die kuns om intimiteit te skep”, “knusheid van die siel” en “die afwesigheid van misnoeë” tot “om plesier te vind uit die teenwoordigheid van behaaglike dinge”, “snoesige samesyn” en – my persoonlike gunsteling – “kakao by kerslig”.

Hygge gaan oor ’n atmosfeer en ’n ervaring, eerder as oor dinge. Dit gaan oor om by die mense vir wie jy lief is, te wees. ’n Gevoel van om tuis te wees. ’n Gevoel dat ons veilig is, dat ons teen die wêreld beskerm is, en om onsself toe te laat om nie op ons hoede te wees nie. Jy mag ’n nimmereindigende gesprek oor die klein of groot dinge in die lewe hê – of om in mekaar se stille teenwoordigheid gemaklik te wees – of om net eenvoudig heel alleen ’n koppie tee te geniet.

Een Desember net voor Kersfees het ek die naweek saam met vriende in ’n ou hut deurgebring. Die kortste dag van die jaar is opgehelder deur die sneeukombers wat die omliggende landskap bedek het. Toe die son so teen vieruur die middag gesak het, sou ons hom vir sewentien uur nie weer sien nie, en ons het ingegaan om die vuur aan die gang te kry. Na ’n staptog was ons almal moeg en half aan die slaap. Ons het in die hut in ’n halfsirkel om die kaggel gesit terwyl ons dik langmoutruie en wolkouse gedra het. Al geluid wat mens kon hoor was die pruttende bredie, vonke in die kaggel, en iemand wat ’n slukkie van hulle gekruide wyn gevat het. Toe het een van my vriende die stilte verbreek.

“Kan dit enigsins meer hygge wees?” het hy retories gevra.

“Ja,” het een van die meisies na ’n rukkie gesê. “As daar ’n storm buite sou woed.”

Ons het almal gekopknik.

~

Ek het die beste werk in die wêreld. Ek bestudeer dit wat mense gelukkig maak. By die Geluknavorsingsinstituut wat ’n onafhanklike dinkskrum is, en wat fokus op welsyn, geluk en lewensgehalte, bestudeer ons die oorsake en uitwerking van menslike geluk, en werk ons om regoor die wêreld die gehalte van mense se lewens te verbeter.

Ons is in Denemarke gevestig en, ja, ons het van Maandag tot Vrydag kerse in die kantoor – en, ja, ons kantoor was deels gekies omrede die hygge-faktor. Hoewel daar geen vuurmaakplek was nie. Nog nie. Maar ons was ook gevestig en is in Denemarke gebaseer, want die land word konsekwent beskou as een van die gelukkigste in die wêreld. Denemarke is natuurlik geensins ’n perfekte utopie nie, en die land staar uitdagings en kwessies in die gesig soos enige ander land, maar nogtans glo ek dat Denemarke ’n bron van inspirasie kan wees vir hoe lande die gehalte van lewe vir hulle burgers kan verbeter.

Denemarke se posisie as een van die gelukkigste lande in die wêreld het heelwat mediabelangstelling geskep. Weekliks word ek vrae gevra soos “Hoekom is die Dene so gelukkig?” en “Wat kan ons van die Dene leer wanneer dit kom by geluk?” Die vrae kom onder andere van joernaliste van The New York TimesThe BBCThe GuardianThe China Daily en The Washington Post. Boonop besoek afvaardigings van burgemeesters, navorsers en beleidmakers van oraloor die wêreld gereeld die Geluknavorsingsinstituut in die strewe na … wel … geluk – of ten minste in die najaging om die redes te vind vir die hoë vlakke van geluk, welsyn en die kwaliteit van die lewe wat mense in Denemarke geniet. Vir baie is dit nogal ’n raaisel, want – bo en behalwe die verskriklike weer – word die Dene ook geteister deur van die hoogste belastingskoerse ter wêreld.

Onlangs egter het ek besef dat daar ’n bestanddeel in die Deense resep van geluk is wat nie voorheen raakgesien was nie – hygge. Die woord “hygge” stam af van ’n Noorweegse woord wat “welsyn” beteken. Vir amper vyfhonderd jaar was Denemarke en Noorweë een koninkryk totdat Denemarke in 1814 Noorweë verloor het. “Hygge” het vir die eerste keer in die vroeë 1800’s in geskrewe Deens verskyn, en die skakel tussen hygge en welsyn of geluk mag dus nie blote toeval wees nie.

Volgens die Europese Sosiale-opname is die Dene die gelukkigste mense in Europa, maar hulle is ook die mense wat hulle vriende en familie die meeste ontmoet, en hulle voel die kalmste en vredeliewendste. Daarom is daar ’n goeie rede dat ons ’n groeiende belangstelling in hygge sien. Joernaliste toer deur Denemarke op soek na hygge. In die VK is daar nou ’n kollege wat onderrig aanbied in Deense hygge, en regoor die wêreld duik daar hygge bakkerye, winkels en kafees op. Maar moet jy hygge skep? Hoe is hygge en geluk met mekaar verbind?  En wat presies is hygge? Dit is ’n paar van die vrae wat die boek probeer beantwoord.

~

Geen resep vir hygge is voltooid en afgerond sonder kerse nie. Wanneer daar aan Dene gevra word wat hulle die meeste assosieer met hygge, sal ’n oorweldigende 85 persent kerse noem.

Die woord vir “pretbederwer” in Deens is lyseslukker, wat letterlik “die een wat die kerse doodblaas”  beteken – en dit is geen toeval nie. Daar is nie ’n vinniger manier om hygge te kry as om ’n paar kerse aan te steek nie, want in Deens word hulle levende lys, of “lewende ligte” genoem.

Volgens een van die vernaamste koerante in Denemarke, steek meer as die helfte van die Dene, amper elke dag gedurende herfs en die winter, kerse aan. Gedurende Desember skiet die verbruik op na driemaal soveel, en dit is ook die tyd om die spesiale kers wat slegs in die dae wat na Kersfees lei, naamlik die kalenderlys – die aankomskers, te aanskou. Die kers is in vier en twintig strepe, een vir elke dag voor Kersfees in Desember, gemerk. So is dit dan die stadigste aftelhorlosie in die wêreld.

’n Ander spesiale kersgeleentheid is 4 Mei, ook bekend as lysfest, of “die partytjie van ligte”. Op hierdie aand in 1945, het die BBC uitgesaai dat die Duitse magte wat Denemarke sedert 1940 beset het, oorgegee het. Soos baie lande gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was Denemarke blootgestel aan verdonkerings om te verhoed dat stadsligte vyandige vliegtuie help om te navigeer. Vandag vier die Dene nog steeds op hierdie aand die terugkoms van die lig deur kerse in hulle vensters te sit.


Next

Previous