Die Ontwaking Van Dawerende Gelag

Posted on March 23, 2018 by Cape Rebel

Uit “Humour and Wit”
In A Cask of Jerepigo

deur Herman Charles Bosman

 

Hoe sal ons die wispelturige en misterieuse en verstote ding wat ons humor noem, definieer? – dit wat vir ewig ’n van bakboord na stuurboordvlugteling van die werklikheid is, en tog vorm dit ’n intieme deel van – en vergestalt selfs – die ewigdurende waarhede van die lewe.

Vandag is daar nie soveel humor in die wêreld soos daar vanmelewe was nie, so dink ek. En deur die kultuurwêreld, waai daar nie winde van uitbundige gelag wat die lamprook van die denke wegwaai en net ’n bedwelming agterlaat nie. Die materiaal vir kostelike vrolikheid is natuurlik nog steeds daar – reg in ons midde. Draai maar net ’n klip om en die diamante sal skitter. Tog lyk dit of die persoon wat uit hierdie materiaal die hoogste vorm van skertsery voorheen kon maak, nie meer saam met ons is nie.

~

Baie mense het probeer om humor te analiseer: skrywers, komediante, predikante, sielkundiges, begrafisondernemers, politieke spotprenttekenaars, skurke, tronksuperintendente – inderdaad, allerhande soorte mense in wie se private of professionele lewens humor ’n belangrike rol speel. Maar ek het nog nooit enige poging teengekom, wat my baie beïndruk het nie, waar daar probeer is om te verduidelik wat dit is wat ons laat lag. Jy kan bepaal wat die belangrike bestanddele van daardie rare en subtiele ding is wat die laglustige fakulteite laat roer. Maar dit bring jou nêrens nie. Jy kan die elemente van lag uitwerk, maar jou analise sal niemand laat lag nie.

Dis dieselfde met die onderskeidings wat mense tussen humor en ’n vernuftige geestigheid maak. Is daar enige verskil? Ek weet nie. As die algemeen aanvaarde verduideliking goedgevind word – naamlik dat humor uit emosies gebore is, terwyl geestigheid uit die intellek ontspruit – dan sal ek natuurlik geneig wees om geestigheid, tot ’n mate, as ’n indringer te beskou. Ek is van nature agterdogtig wat die intellek betref, want ek glo dat in sy donkere holtes kruip daar ’n valse geslepenheid, waarvan die doel is om – met kullery – die siel se gebreke te verdoesel.

Daarom, met hierdie diepgewortelde wantroue in die intellek, sou ek geneig wees om versigtig in die domein van vernuftige geestigheid te beweeg, as die bogenoemde definisie waar is. Maar, snaaks genoeg, ek glo nie daar is veel waarheid daarin nie. Wanneer iets my laat lag, sou ek twee keer moet dink om te besluit of dit ’n lag van die intellek is, en of dit maar net ’n lae, idiotiese genot is. En as ek ’n oomblik moet dink om die probleem te bepeins, voel ek nie lus om verder te lag nie.

Ons vind humor oraloor. Maar dit lyk of dit met humorskrywers anders is, ten minste wat betref die soort humor waarvan ek hou. Hulle verskyn, so lyk dit vir my, net op spesifieke tye en in spesifieke plekke. Die Elisabetaners het ’n sin van humor gehad waarvan ek baie hou, net so goed soos ’n plattelandse grap oor die runderpes en die droogte. Ek beskou Shakespeare as die grootste humoris wat ek ooit teengekom het. En die eienaardige ding daarvan is dat dit vir my lyk of hy primêr ’n humoris in die letterkundige sin was – net soos die Amerikaanse skrywers van die negentiende eeu primêr humoriste in die letterkundige sin was – want dit lyk of sy geskerts ’n spotane towerkuns in die vorm van die geskrewe woord besit wat nie teenwoordig is as daar net gepraat word nie. Ek het dit altyd baie meer geniet om Shakespeare se humor te lees eerder as om daarna op die verhoog te luister. Miskien het ek nog nie Shakespeare met deeglike toneelspel gesien wanneer hy snaaks is nie.

Maar met die uitsondering van die Elisabetaners, was daar geen Engelse skrywers wat tot sulke skitterende hoogtes van fantasie verrys het of wat genialiteit bereik het deur sulke volslae uitgelatenheid van die gees nie, dat ek gewillig sou wees om vir hulle, sonder voorbehoud, aanspraak te maak, om die ware humoris se sierkrans te dra. Daar is heelwat wat ek gewillig sal wees om te aanvaar, met hierdie en daardie toegewings. Maar wanneer dit by my reaksie op humor kom, verkies ek om saam met diegene te wees vir wie ek geen toegewings hoef te maak nie.

En hier voel ek dat ek in goddelike geselskap is: die Amerikaanse humoriste van die negentiende eeu. Mark Twain en dié wat hom voorafgegaan het, en diegene wat ná hom gekom het – wel, sommige van hulle. Daar was nooit, dink ek, in die hele geskiedenis van die wêreld, iets so skokkend, so verhewe, so eerlik en van stergehalte en so besielendsoos wat daardie mense geskryf het nie, en wat bygedra het tot daardie onsterflike skoonheid van letterkunde wat Amerikaanse humor omvat. Hierdie spesifieke uitdrukking van ’n letterkundige gees wat op die ontwaking van ’n dawerende gelag gemik was, het kort na die Amerikaanse Oorlog van Onafhanklikheid begin.

~

Teen die tyd van die Amerikaanse Burgeroorlog, het hierdie nuwe soort van humor – nuut, nie in sy kern nie, maar in sy krag en strak objektiwiteit – tot heel ondenkbare skoonheid geblom; en in die hande van een of twee geniale skrywers het dit voortgeduur, reg tot in die vroeë jare van die twintigste eeu. Maar reeds sedert ’n geslag voor dit, het die elemente van ’n donker verval diep in sy struktuur duidelik begin word. Die skrywers het opgehou om humor, vir humor se eie onthalwe, te skep. Hulle het begin om hierdie magtige wapen aan te wend om sekere beweegredes wat ’n kreatiewe kunstenaar nie aan kan glo nie, te ondersteun. In hierdie opsig, het O. Henry – aan die anderkant van dié tydperk – sy kuns onbesoedeld gehou, op ’n manier wat Mark Twain uiteindelik nie reggekry het nie.

~

Al die gewone pogings om die beduidenis van humor in terme van sy sosiale gebruik en sy psigo-fisiologiese funksionering te evalueer, blyk om noodwendig in steriliteit te eindig.

Humor is iets wat weg van hierdie dinge staan. Ek voel om by die ware kern van humor te kom, moet dit vanuit die oogpunt van die ewige waarhede benader word. Uit hierdie oogpunt staan dit daar as ’n gebrekkige soort van simbool van die mens se direkte verhouding met God.

Ek voel dat dit een van die mensdom se kosbaarste besittings is, een van die wêreld se rykste kulturele juwele.

Maar dit het by ons uitgekom toe die blomme reeds aan die verlep was, en dit het te laat gekom.


Next

Previous