Die gevlekte patroon van skaduwee en lig

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit “The Cape Revisited”
In A Cask of Jerepigo
deur Herman Charles Bosman

Dit lyk of ingewikkelde omstandighede die historiese moeilikheid tussen goewerneur Willem Adriaan van der Stel en Adam Tas in die vroeë dae van die Hollander- en Hugenote-nedersetting aan die Kaap, deurvleg. Baie legendes daaroor is steeds in omloop en so baie oorblyfsels van die toestande bestaan nog. Dit was destyds regdeur die Westelike Provinsie versprei, asof dit daar gewerp is deur die geweld van die administratiewe ontploffing wat die afdanking van die goewerneur as gevolg gehad het, en ’n groot aantal koloniste in die tronk laat beland het. Daar was baie herinneringe oor die affêre wat behoue gebly het – in die vorm van dokumente, en meubelstukke, en die buitemure van huise, en in die vorm van eike- en denne- en kanferbome – dat ek gevoel het dat ek ’n geskiedenisboek wat in die skool gebruik word, daaroor moes raadpleeg.

Ek kan steeds onthou as ’n kind – ek dink dit was in standerd twee – in omtrent die vyfde les oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, dat die onderwyser tot by Willem Adriaan van der Stel gekom het.

Die storie het sonder twyfel net so ’n pynlike indruk op die gemoedere van ander leerlinge gemaak, want alles in die Kaap het tot op daardie punt so vlot verloop – Jan van Riebeeck se landing en die stigting van die Kolonie vir die doel om voorrade aan die skepe wat tussen Europa en die Ooste vaar, te voorsien. Alles was so respektabel. Selfs idealisties. Jan van Riebeeck was ’n goeie man. En toe Simon van der Stel, wat Stellenbosch gestig het. Ook ’n goeie man. Hy het akkerbome geplant en die Kasteel, wat Jan van Riebeeck begin het om te bou om die Hottentotte uit te hou, voltooi. ’n Goeie man en ’n voortreflike goewerneur. En toe is daar aangekondig dat die volgende goewerneur Willem Adriaan van der Stel sou wees. Die kind se gemoed, so gretig om selfs van edeler dinge te wete te kom, het die ontnugtering beleef dat die volgende goewerneur aan die Kaap ’n skurk was.

~

Dit was ’n aangename laat somersoggend toe ons ons vier-myl-lange wandeling deur lommerryke lanings op soek na die plaas Vergelegen, waar Willem Adriaan van der Stel sy herehuis gebou het, aangepak het. Hy het twee en half eeue gelede ’n duisend slawe ingespan om die grond te bewerk.

Ons het op ’n slentergang deur die lanings van hierdie vallei in die Hottentots-Holland gestap. Dit was koel in die skadu van ou denne- en akkerbome, en ons het geen probleme gehad om Vergelegen op te spoor nie.

~

Omtrent vier myl buite die dorp Somerset-Wes, op ’n boom aan die kant van die pad, was daar ’n bord met die naam Vergelegen daarop. Ons het deur ’n hek gegaan en binne ’n paar minute was ons op ’n pad dig beskadu deur eikebome van ontsaglike omvang: ou takke, knoetserig en verdraai en uitgehol en hulle lyk amper net so oud soos die eikebome wat tot ’n paar jaar tevore in Kaapstad se Tuine gegroei het, en waarvan gesê is dat hulle in die tyd van Simon van der Stel geplant is. Ek kan geredelik glo dat die eike langs die laning na Vergelegen se opstal toe, deur Simon van der Stel se seun, Willem Adriaan, geplant is.

’n Entjie af met die laning, waar dit gelyk het of die lower besonder dig was, het ons langs die pad gaan sit en toebroodjies en bier vir middagete geniet. Ek het rondgekyk en sonder veel moeilikheid ’n uitgeholde eikeboom ontdek om in te gaan sit. Dit was ’n stil dag; die dik blareplafon het ons teen die hitte van die middagson beskerm; daar was geen wind wat die gevlekte patroon van skaduwee en lig voor ons voete laat roer het nie; daar was vrede in ons gemoedere; in ons denke was die kalmte soos van die mos op die eikeboom se uitgeholte stam.

Ons het daar vir ’n rukkie gerus, en die rook van ons sigarette wat in stadige spirale deur die rustige lug opstyg, dopgehou – slegs geïnteresseerd in die rookkringe wat soos brose spoke verlore raak in die groen plafon wat die eikebome oor ons gespan het. En wat ons ervaar het, was die gevoel van ’n tydperk wat lankal verbygegaan het, daar in die laning wat deur Willem Adriaan van der Stel aangelê is, en dit het vir my gelyk dat ons drie, waar ons aan die voet van die oeroue eike gesit het, ook net geeste was, bleek dralend aan die kant van die sewentiende en agtiende eeue.

Vergelegen was die eerste van die ou Kaapse huise wat ons van plan was om te besoek. En terwyl ons langs die pad ontspan het, was dit amper asof ons gewaargeword het dat dit gepas was dat ons ’n rukkie daar sou vertoef, wagtende voor die toegangspoort, want wanneer ons oor die drumpel stap, sal dit nie net Vergelegen s’n alleen wees nie – ons voete sal ons oor ’n breër drumpel dra. Ons sal ’n gebied betree wat nie net ’n duisend myl van Johannesburg af was nie, maar wel ’n kwart van ’n duisend jaar. Ons sal deur ’n latei beweeg waarin, soos die stof van die pad waarlangs ons gesit het, daar sonskyn en skaduwee en die reuk van twee en ’n halwe eeue vasgevang was.

~

Die opstal by Vergelegen is deur ’n ou muur, waarvan ek gehou het, omring. Voor die huis was ’n aantal manjifieke kanferbome. Ek glo onvoorwaardelik dat hulle in 1666 geplant is. Hulle is grootse, statige goed. As iemand my sou vertel dat Vasco da Gama, as gevolg van een of ander gier, daarheen gegaan het en daardie kanferhoutbome in die Hottentots-Hollandvallei geplant het – tweehonderd jaar voor Willem Adriaan van der Stel daar uitgekom het – sou ek dit ook glo. Dit is moeilik, sonder om oor te gaan in onbetaamlike ekstase, om iets oor die indruk wat hierdie bome op die besoeker se bewussyn maak, oor te dra. Miskien het die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy nie hierdie kanferbome wat aan die anderkant van die muur gegroei het, opgemerk nie. Klaarblyklik het hulle versuim om opdrag te gee dat die bome afgekap moes word.

Aan my is gesê dat in die vroeë jare van hierdie eeu, toe daar ’n aantal verbouings aan die plek aangebring is, die werkers by Vergelegen ’n klomp fondasies opgegrawe het. Ek sou my voorstel dat daardie fondasies terug dateer na die oorspronklike gebou wat Willem Adriaan van der Stel opgerig het. Daar is ook ’n baie ou vervalle muur ’n entjie weg van waar die huidige opstal nou is. Dit is ’n dik muur, gebou met baie klein baksteentjies wat jy selfs vandag nie uit die dagha kan kry nie. Ek weet, want ek het probeer.

Ek het daar voor die gehawende oorblyfsel gestaan, daardie eerbiedwaardige en verkleurde murasie, en ek het gevoel dat die verwronge hoop messelary, omtrent twaalf voet hoog en miskien twintig tree lank en oor die drie voet breed, al was wat oorgebly het van die paleis van ’n woning wat Willem Adriaan van der Stel in daardie bloeiende dae van die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy laat bou het. Die deur storms geteisterde struktuur, groen van ouderdom, ’n stukkie muur, alleen staande, het soos ’n vormlose onthoofde gelyk, maar wat nogtans die handewerk van die Hollandse Oos-Indiese Maatskappy se slopingspan vrygespring het, en so ook die wind en reën van twee en ’n halwe eeu. En so, toe ek daar by die muur gestaan het, was my gevoelens met ontsag vervul.

Daardie onkruidgeklede herinnering aan die verlede het in my ’n eerbied ontlok wat ek voel ek nie van sou geweet het in die ruim sale van die ou Vergelegen van lank gelede nie, toe Willem Adriaan van der Stel se ster nog aan die klim was, en voor Adam Tas sy sake vir hom gewerk het.


Next

Previous