Die Diepgaande Patos Van Die 1914 Rebellie

Posted on May 25, 2017 by Cape Rebel

Uit The Great Silence 
deur Tim Couzens
Click Here to Play Podcast

 

Toe Botha gehoor het dat De Wet in Winburg was, het hy dadelik al die lojale eenhede opdrag gegee om na Vereeniging te gaan, waar hy daar by hulle aangesluit het. Kolonel Brits was tydelik in bevel. Hy was hoogs lojaal teenoor Botha, omdat – so is gesê – Botha op ’n slag sy lewe gered het toe hulle onder hewige vuur deur ’n Britse blokhuislinie probeer breek het. Hy was so lojaal dat, toe Botha hom gevra het om reg te maak vir ’n veldtog in Duits Suidwes-Afrika, hy sy gevierde antwoord gegee het dat hy heeltemal voorbereid was, maar dat hy net wou weet “of hy teen die Duitsers of die Engelse moes veg”.

Botha het sy mag van omtrent ses duisend man per trein van Vereeniging af na Theunissen verskuif, waar hulle op 11 November aangekom en afgeklim het. Hy het toe, tot die groot verligting van die ontsenude inwoners, na Winburg gemarsjeer. Hulle het steeds gesteier van skok ná De Wet se strooptog waarin die meeste van hulle koswinkels kaal gestroop is.

Beide kante was van mekaar se teenwoordigheid bewus – ’n plaasboer, Jan Scott, het sy perd spore gegee om De Wet te waarsku dat Botha in Winburg was. Maar Botha het nie presies geweet waar sy teenstander hom bevind het nie. Toe egter het ’n gelukslag hom getref – een van daardie dingetjies wat soms die verloop van die geskiedenis verander. Botha het poskantoor toe gegaan om Smuts te skakel (Botha het dikwels die telefoon gebruik, maar Smuts omtrent nooit). Toe hy die gebou binnegegaan het, het die telefoon gelui. Botha het ’n stafoffisier beveel om die telefoon te beantwoord. Dit was ’n oproep vanaf die plaas van E.A. Schrimper, en die oproeper het bewerig in ’n fluisterstem gesê dat De Wet daar naby uitgekamp het, en dat hy die gesin gevange gehou het. Hulle is in ’n kamer waar hulle heel toevallig die huistelefoon gehou het, toegesluit. De Wet het nagelaat om die telefoondraad te knip.

Die oproeper het gesê dat De Wet van plan was om daar te oornag, en om dan die volgende dag te vertrek. Die naam van die plek was Mushroom Valley.

Botha het dadelik ’n nagmars beveel. Dit was altyd sy uitverkore manier van aanval. Een van Botha se lyfwagte, Moore Ritchie, het sy ervaring van “die aakligheid daarvan om te veg terwyl jy slaap” skitterend beskryf. Hoewel dit November was, was die nag bitterkoud. Niemand is toegelaat om te rook of te praat nie. Die helder sterre het “fantasies in die lug gedans”; die terrein was ongelyk, sodat die perde gestruikel het. Piet van der Bijl het daarna die spanning helder onthou – die gefluister, die gehoes van die perde, die geknars van ’n geweerkolf wat teen die saal skuur, die eentonige klipperige terrein – en die spanning – is hulle jagters of word hulle gejag en is hulle besig om in ’n lokval in te ry? Jy wou aan die spookagtige figuur langs jou fluister om uit te vind of hy vriend of die vyand was. Hulle het na middernag gestop en van die perde afgeklim. Die wind was snerpend koud en die brandwagte was koelbloedig blootgestel.

Om 2:30 dié oggend het hulle weer aanbeweeg tot hulle teen sonop in die perfekte posisie was. Botha het gedoen wat die Britte nooit kon regkry nie – hy het De Wet verras en betrap, en hy het ’n goed beplande strik gestel.

~

Ná Mushroom Valley het iemand aan Botha gesê: “Generaal, wanneer jy die rebelleleiers vang, moet jy streng teen hulle optree.” Waarop die generaal swaarmoedig maar vol wysheid geantwoord het: “Dis maklik vir jou om te praat. Ek kyk vyftig jaar die toekoms in. Dis nie my wens om ’n magdom bitterheid na te laat, en so my mense vir altyd te verdeel nie.” Miskien was Botha die ware siener en nie Siener van Rensburg nie.

Mushroom Valley was een van die grootste skermutselinge van die Rebellie van 1914. Dit was ook ’n waterskeiding. Voor dié gebeurtenis het De Wet se ondersteuning gegroei, maar daarná het sy aanhang begin afneem. Soos die Official History gesê het: “Die hoenderkopveldslag het die rebellie se lot so te sê beslis”.

Op daardie dag het agt en twintig man tesame aan beide kante omgekom, tagtig is gewond, en omtrent seshonderd rebelle is aangekeer. Dit was ’n donker dag vir Botha. Ritchie Moore wat langs hom gery het, het die gedrag van hierdie “stil Suid-Afrikaanse patriot” gadegeslaan. “Daar was verdriet en ’n diepgaande patos daaromtrent”.

Botha het aan Van der Bijl gesê: “Dit is die slegste dag van my hele lewe. Ek ken al hierdie mense, of hulle pa’s, op wie ons nou besig is om te skiet. Hulle het in die laaste oorlog langs my geveg. Nou moet ek teen hulle veg – my eie mense, my vriende. Maar wat anders kan ek doen?”

Toe Botha verby die liggaam van ’n ou kameraad gery het, het hy met trane in sy oë aan Harry Trew gesê: “Julle Engelse sal nooit verstaan hoe moeilik dit vir my is nie.”


Next

Previous