Berg-skuilplek van die smokkelaars

Posted on July 05, 2018 by Cape Rebel

Uit ‘Rolled Gold’
In Jurie Steyn’s Post Office 

deur Herman Charles Bosman

 

Sedert sy troue met Pauline Gerber was dit die eerste keer dat jong Vermaak ons in Jurie Steyn se poskantoor kom besoek het. Ons kon op verskeie maniere die verskil sien wat dit alreeds aan die skoolmeester gemaak het, deur met ’n ryk Bosveldboer soos ou Gerber se dogter getroud te wees.

Jong Vermaak het byvoorbeeld nou duur sigarette uit ’n sigaretdosie, gemaak van ’n geel metaal, gerook. Hy het dit aan ons rondgestuur sodat ons onsself kon help aan ’n sigaret, en terselfdertyd die groot geronde lyne van sy gegraveerde voorletters op die dekseltjie kon sien.

Ons het geweet dat die skoolmeester se voorletters glad nie, op enige manier, so belangrik was voordat hy met Pauline getrou het nie.

“As ek ’n sigaretdosie soos dit gehad het,” het Gysbert van Tonder aan jong Vermaak gesê toe hy dit aan hom teruggegee het, “sou ek nie die letters van my voornaam en my van so groot en vet laat uitsny het nie. En so diep. Ek meen te sê, dink net hoeveel goud op daardie manier uitgegrou is. Dis ’n wonder dat die Zeerustse horlosiemaker wat die werk verrig het, nie sy eie naam ook daarop geskryf het nie, en sy adres, sodat hy ’n hele klomp meer goud vir homself kon aftop.

Jong Vermaak het met ’n effense glimlag na Gysbert van Tonder gestaar.

As die juwelier se graveerder vlakker gestel was, sou daar geen merk op die klap van die sigaretdosie gewees het nie.

“Dit was nie ’n Zeerustse horlosiemaker nie,” het jong Vermaak aangekondig. “My monogram is deur ’n Johannesburgse firma gegraveer.”

“Ek weet nie of ek skoolhou vir ’n rukkie moet laat vaar nie,” het hy gesê. “Ek sou graag my gees wil verfyn, sodat ek beter kan inpas – in die wêreld van intellek en kultuur. Ek wil my gees verbreed, en my siening. Ek het ’n boek gelees wat die belemmerende invloed wat die gees kniehalter, soos ’n vinculum, beskryf. ’n Vinculum is die Latynse woord vir ’n ketting.”

Gysbert van Tonder het gesê dat, as dit al was wat die skoolmeester nou by Welgevonden gekwel het, hy verseker op die regte plek was om in staat te wees om sy kennis van die wêreld te verbreed. Oom Koos Gerber, jong Vermaak se skoonpa, het Gysbert van Tonder gesê, was maklik die mees onbekrompe man in hierdie deel van die Marico.

“Ek sê, vat maar net die manier waarop oom Koos Gerber sy geld gemaak het,” het Gysbert van Tonder voortgegaan. “Wel, as dit nie onbekrompe was nie, dan weet ek nie wat is nie. Ek bedoel, die Betsjoeanas – so ver as Malopolole – weet hoe onbekrompe oom Koos Gerber is – tot vandag toe – oor watter brandmerke daar op die beeste is, wat hy terug Transvaal toe bring. Dis hoekom die Betsjoeanas hom die naam RaSakèng gegee het. Dit beteken: “Hy-wat-te-na-aan-die-beeskraal-loop”. En as oom Koos jou ’n paar soortgelyke dinge kan leer, dan kan jy miskien net so onbekrompe word. Maar ek dink jou skoonpa jou sal vertel dat die polisie deesdae met meer aandag luister as ’n Betsjoeana oor verlore beeste kla, as wat hulle vroeër dae gedoen het.

“So, miskien moet jy nie dadelik begin om te onbekrompe te word nie. Anders sal jy jou gewrigte saam vasgemaak vind met ’n … wat was daardie vreemde woord wat jy gebruik het?”

Vinculum,” het At Naudé, wat tale vinnig aanleer, tussenin geslinger.

Ná ’n rukkie van stilte het die skoolmeester, ná hy sy keel doelbewus skoongemaak het, voortgegaan met die sake, wat ons kon aanvoel, waaroor hy werklik gekom het om ons oor in te lig.

“Ek het vir ’n paar Groot Operas in Johannesburg bespreek,” het hy gesê. “Ek voel dat dit ’n nuwe wêreld van kultuur vir my sal oopmaak. Ek dink ek sal visie kry.”

Ons kon sien, op die manier wat hy sy mond oopgemaak het, dat Gysbert van Tonder van plan was om te vra of dit ’n nuwe woord vir “tyd” was.

“Dit is iets van die ware glorie van die Europese kultuur wat hier na Suid-Afrika toe kom,” het jong Vermaak gou voortgegaan, voordat Gysbert van Tonder enige verdere verdoeselde verwysings na die strawwe vir veediefstal kon maak.

“En ek dink dat ek ’n beter skoolonderwyser sal wees, en meer kredietwaardig vir die Onderwysdepartement, omrede ek gegaan het. Jy moet ’n swaelstert-aandpak dra.”

Dit is hoe jy vandag na die Groot Opera in Johannesburg moet gaan, het die skoolmeester bygevoeg. En dit was wat Chris Welman, wat op ’n slag op die myne gewerk het, sy kans gegee het om sarkasties te wees.

“Ek veronderstel jy moet ook die regte soort van kosblik dra,” het Chris Welman gesê, gedagtig aan die tye toe dit die gebruik was om homself vir die nagskof by skag nommer drie aan te meld (en hoe het sy kollegas nie gelag vir enige ondergrondse man wat nie de règle was nie, maar wat sy toebroodjies in ’n los stuk koerantpapier toegedraai gehad het). “En in die opera, veronderstel ek, moet jy ook die regte soort fietsknippies saam met die aandpak se broek dra.”

Nogtans het dit nie saakgemaak hoe ons die teenoorgestelde probeer voorgee het nie, die feit was dat ons groot respek gehad het vir wat jong Vermaak te sê gehad het oor die kultuur van Europa.

Dit was in erkenning hiervan dat Jurie Steyn, asof hy sy hoed gelig het vir die tradisies van ou stede, huiwerig vir die skoolmeester gevra het wat Opera presies was.

So het jong Vermaak uiteindelik die kans gekry om sy sê te sê.

“’n Opera,” het hy gesê, “is ’n toneelstuk, net soos Vertrapte harte of Die dominee se verlossing of Liefde op die ashoop. Dis soos enige opvoering wat hulle in die saal langs die koringmeule in Bekkersdal hou, behalwe dat dit alles liedere en musiek is.

“Wanneer die sipier die ter dood veroordeelde man vertel dat die vallende bakstene die laksman se voetstappe op die trappe is, dan sing die sipier dit. En wanneer ’n mus oor die veroordeelde man man se kop getrek word voordat hy opgehang word – soos in die toneelstuk Frikkie se laaste ongeluk – dan kom die veroordeelde na die voorkant van die verhoog en sing sy laaste woorde.

“Maar waarna dit klink, komende deur ’n swart mus, en so aan, sou ek nie weet nie. Ek leer maar net van Opera deur boeke daaroor te lees. Dis hoekom ek wil sien hoe dit eintlik op die verhoog gedoen word.”

Gysbert van Tonder het skielik heel behaaglik en tevrede met homself daaroor gevoel. Dit het gelyk asof hy nie te ver verkeerd was nie, deur die skoolmeester te waarsku oor die gevare wat daarin lê om te onbekrompe te wees.

“Jy kry nie net daardie vinculum-goed aan jou voete deur jou idees te wyd te laat loop nie,” het Gysbert van Tonder die jong Vermaak plegtig verseker. “Daar is ook daardie mus oor jou kop. Dis hoe een ding net soort van na ’n ander lei.”

Die skoolmeester het toe vlam gevat. Hy het gesê dat hy nie na Jurie Steyn se poskantoor toe gekom het om beledig te word nie. En hier staan Gysbert van Tonder en praat van hom asof hy reeds ’n beessmokkelaar en beesdief is – en nog erger. Baie erger, het die skoolmeester bygevoeg – sonder twyfel, dinkende aan daardie mus.

Daarna het At Naudé jong Vermaak aangeraai om Gysbert van Tonder te ignoreer. Hy’s ’n mooi een om te praat, was die manier hoe At Naudé dit uitgedruk het. In elk geval, het At Naudé gesê, ons is almal gretig om meer te wete te kom oor Opera, en as mense in die Opera hulself in vinculums sou bevind, sou dit ook maar goed so wees. Hy was seker dit sou vir edelmoediger dinge as vir beessmokkelary en veediefstal wees.

Maar vreemd genoeg, het die skoolmeester gesê, van wat hy in sy boek gelees het, was daar een Opera wat min of meer net so was.

Die bees-gedeelte, het hy gesê, het in die toneel wat “Buitekant van die stiervegtersarena” genoem is, voorgekom. En hy het gesê, toe die opera die eerste keer in Parys of Munchen of Rome of Swede of êrens opgevoer was – hy het nou vergeet presies waar, maar dit was in een of ander vreemde plek … moontlik Moskou – het met die ooptrek van die gordyn in die “Buitekant van die stiervegtersarena”-toneel, die hele gehoor, toe hulle ’n gebulk gehoor het, dit toegejuig, want hulle het verwag dat ’n bul in lewende lywe op die verhoog reg tot by die voetligte sou kom pronk.

Maar die gehoor was baie teleurgesteld toe hulle uitgevind het dat dit net die Basso-Profundo agter op die verhoog was wat van sy note geoefen het – arpeggios het die skoolmeester hulle genoem.

“En dis snaaks,” het jong Vermaak voortgegaan, “dat daar in werklikheid ook ’n toneel in die opera is wat “Berg-skuilplek van die smokkelaars” genoem is. Maar daar is ’n pragtige meisie in daardie berg-skuilplek, en sy is net behep met die plesier en die passie van die vlietende oomblik.”

“Wel, dit was iets soos …” het Chris Welman begin sê. ’n Hele paar van ons het toe baie regop op ons riempiestoele gesit om meer te hoor. Dit was iets heel nuuts vir ons. Dit het gelyk asof daardie Europeërs uiteindelik darem iets reggery het.

“Sy maak hulle van haar sjarme bewus,” het Vermaak aangegaan.

Ja, net so, het ons gedink.

Dit was verseker iets wat nog nooit na ’n Bosveld-plaasboer se kant toe gekom het nie, wanneer hy op ’n bewolkte nag besig was om ’n doringdraad te knip – om ’n trop beeste in Transvaal in te laat.

Ons het getwyfel of enigiets soortgelyks ooit plaasgevind het, selfs met oom Koos Gerber, hoewel almal geweet het hoe gelukkig hy in sulke sake was. Dit wil sê, sake wat met die smokkel van beeste te doene gehad het.

“Hierdie Opera is vol kleur, ritme en tempo,” het die skoolmeester verder gesê.

En ons het gedink, ja, dit kon ons glo. Ons kon toe ook verstaan hoekom jong Vermaak sitplekke bespreek het, selfs al was dit alles net musiek en ’n gesingery.

“Toe kom ’n saggeaarde knegmeisie daar aan met ’n boodskap vir die offisier, wat nou ’n smokkelaar is,” het die skoolmeester voortgegaan.

Wel, ons het nie juis omgegee wat hy was nie – of hy ’n offisier of enige iets anders was nie – voordat hy ’n smokkelaar geword het. Ons was ook nie juis veel geïnteresseerd daarin om verder van die plattelandse meisie te hoor nie. Liewer van daardie ander een van wie die skoolmeester ons nie genoeg kon vertel het nie.

“Dit is ’n baie hartroerende lied wat die smokkelaar, wat op ’n slag ’n offisier was, sing,” het jong Vermaak voortgegaan. “Ek sien daarna uit om dit te hoor. Hy sing dit by ’n gat in die muur. Dis as gevolg van die boodskap wat die eenvoudige plattelandse meisie hom gebring het.”

Daarna het die skoolmeester nog heelwat meer oor die Opera gepraat. Maar op die een of ander manier, het dit nie heeltemal dieselfde geklink as toe hy aanvanklik daarmee begin het nie.

Selfs toe hy gepraat het oor die lieflike Ryn-maagdelike meisie met die lelie in haar hare, was dit nie so fassinerend soos daardie ander een nie.

Nietemin, terwyl die skoolmeester voortgegaan het met sy gepraatery, het ons houding teenoor hom op ’n sonderlike manier begin verander; gevolglik het ons meer menslik oor hom begin voel, en dit het gelyk of daar wel iets was in wat hy die Europese kultuur genoem het.

Die gevolg was dat hy daarna ons gemoedere met heel eenvoudige woorde gekalmeer het.

“Ek gaan met my eie geld na die Opera in Johannesburg toe,” het die skoolmeester gesê, “wat ek voor opgespaar het. Ek weet ek het aan die begin vir julle soort van probeer lieg.

“Maar ek wil nie hê julle moet dink dat ek verander het net omdat ek nou ’n ryk skoonpa het nie. Ek sal nie sy geld vat nie, selfs …”

“Selfs as hy ’n bietjie daarvan vir jou aanbied,” het Gysbert van Tonder sarkasties gesê.

Jong Vermaak het geglimlag.

“Ja,” het hy gesê, “selfs al bied hy my daarvan aan – wat hy nie gedoen het nie. En hierdie sigaretdosie van my is maar net oorgeblaasde goud. En nog meer, dit is deur ’n horlosiemaker van Zeerust gegraveer. Watter Johannesburgse graveerder kan vandag sulke krulle en versiersels maak? Ek bedoel … kyk hier.”


Next

Previous