Aangeklam en Verruklik

Posted on November 19, 2015 by Cape Rebel

Uit Eastern Approaches 
deur Fitzroy Maclean



Die beboste heuwels van Korčula het swart uitgestaan teen die bleekwit lug. Terwyl ons om die punt gevaar en die hawe binnegeseil het, het die eerste strale van die son op die ou huise van die hawestad begin val. Al soekende na ’n waterpaadjie deur die bonte mengelmoes van vissersbote, het ons later vasgeanker by trappies wat van bo af geloop het tot by die onderent van ’n ou antieke ronde toring, geblasoeneer met die Leeu van Sint Markus, die simbool van die vorige Venesiaanse oorheersing.

Ons was daar.

Hoewel my horlosie (Kaïrotyd? Greenwichtyd? Sentrale Europese Tyd? Dubbele Britse Somertyd?) gewys het dit was slegs vyfuur in die oggend, het ’n klein groepie mense gou begin saamdrom om ons dop te hou. Met genoeë het ek opgemerk dat ’n besondere mooi meisie ook deel van die groep was. Na die uitgeputte, verflenterde dorpenaars van die vasteland, het die eilanders vooruitstrewend en goed, amper deftig aangetrek, gelyk. Ook die huise, met hulle wit, geel, of pienk mure en groen hortjies, was onbeskadig en het daar pragtig en aantreklik in die vroeë sonlig uitgesien. Die see was blou en kristalhelder. Die hele plek het ’n vakansie-atmosfeer gehad en het ons heel welgeval na die veeleisende inspanning  en die selfversaking van die Partisan-lewe. Ons het doodmoeg en half aan die slaap uit die boot getuimel, die trappe uitgeklim, en gevra waar die Partisan se hoofkwartier was.

Almal het geweet waarheen om te gaan en het saam met ons gekom om ons te wys waar dit was. Hulle was vrolik aan die gesels met ons soos ons aangestap het, want die Dalmasiërs het iets van die opgewekte, lekkerpraat-eienskappe van die Italianers gehad, hoewel hulle hul nie kon verdra nie. Soos gewoonlik was ons bestook met tallose vrae. Wat was aan die gebeure op die vasteland? Was die Duitsers van plan om die eilande te beset? Hoe sou hulle hulself verdedig as dit sou plaasvind? Het ons Tito ontmoet? Wat het ons van hom gedink? Was ons Engelse of Amerikaners? Was ons al in Kalifornië, waar hulle tante gewoon het? (Die Dalmasiërs was grootskaalse settelaars.) Of in Australië waar hulle neefs en niggies gehad het? Sou ons ’n brief na hulle pa se broer in Nieu-Seeland kon saamneem? Het ons besef watse duiwelbesetenes die Italianers was, en hoe die eiland gely het onder die besetting? Was ons getroud? Het ons van dans gehou?

Terwyl ons sommige vrae beantwoord en ander vermy het, het ons aangestap, gevolg deur ’n opgewonde skare, al pratende met hulle hande en arms. Soos ons voortgestap het deur die kronkelende strate van die dorp, na die ou Venesiese paleis waar hulle nuwe regeerders gehuisves is, het die groep nog meer mense bygekry. Bokant die ingang het die Leeu van Sint Markus sonder ’n kop gepryk, afgekap deur een of ander oorywerige Partisan, wat skynbaar gretig was om die einde van Mussolini se heerskappy te vier deur die simbool van ’n vroeëre periode van Italiaanse oorheersing te vernietig. Ons het binnetoe gestap, deur ’n luisterryke suilegang en met puik Renaissance-trappe opgestap tot waar daar aan die bopunt ’n deur was. Ons het geklop, iemand het geantwoord, en ons het ingeloop – en daar het ons van aangesig tot aangesig ons voor ’n Francistiese monnik gestaan. Hy het opgestaan en ons met ’n gebalde vuis gesalueer. Hy was, het hy gesê, die voorsitter van die Odbor, die plaaslike Sowjet. Ons op ons beurt, het verduidelik wie ons was en waarom ons daar was. Hy het geantwoord dat hy baie bly was om ons daar te sien en dat al die hulpbronne op die eiland tot ons beskikking gestel sou word. Intussen, terwyl ons gewag het dat ’n huis vir ons voorberei en reggemaak kon word, sou ons miskien daarvan hou om iets te drink?

Ons het gesê dat ons glad nie sou omgee om dit te doen nie. Hy het ’n klokkie gelui en ’n bottel is ingebring, gevolg deur ’n krulkop jongkêrel van so om en by twintig. Hy is aan ons voorgestel as die bevelvoerder van die garnisoen, en saam met hom was ’n lang, elegante, soort van Edwardiaanse-karakter met ’n hangsnor, wat later geblyk het sy politieke kommissaris te gewees het, asook ’n  lewendige klein mannetjie in ’n wit syhemp en ’n donkerbril, wat voorheen die kaptein van ’n handelsboot was.

Glase is uit ’n muurkas gehaal en volgemaak. Die wyn was ’n sonnige Dalmatiese uitsoekwynjaar – afkomstig vanuit die eilande – wat voortreflik en pittig-bondig grk genoem is. Dit was heerlik, smaaklik, en gaaf om van aangeklam te raak – en gou daarna was ons vrolik en opgewek aan die gesels.


Next

Previous