’n Verposing in Heidelberg

Posted on July 21, 2015 by Cape Rebel

Uit A Time of Gifts 
deur Patrick Leigh Fermor

Aan die anderkant van die brug het ek my rug op die Ryn gedraai en na ek ’n paar myl langs die Necktar, sy sytak, geloop het, het die sterk ligte van Heidelberg begin flikker. Dit was reeds donker toe ek die hoofstraat opgeloop het, en kort voor lank het die sagverligte vensterruite van gekleurde glas onder die uithangbord van ’n Rooi Os, my na binne gelok. Met verkluimde wange en sneeugekoekte hare het ek met sware voeteval die verruklike toevlugsoord van eikebalke en houtsnywerk en alkowe en wisselende vloerhoogtes binnegeloop. Hier was daar ’n woud van voorwerpe – bekers en bottels en glase en horings van wildsbokke – die onskuldige versameling van jare, glad nie teaterbenodigdhede van gedwonge opvroliking nie – en die hele plek het gegloei met ’n universele patina. Dit was meer soos ’n kamer in ’n kasteel, en behalwe vir die slapende kat voor die stoof, was dit heeltemal leeg. 

Dit was die oomblik waarna ek elke dag verlang het. Gerieflik tuisgemaak by ’n swaar herbergtafel, al ontdooiende en tintelende, met wyn, brood, en kaas gemaklik naby en my notas, boeke en dagboek alles voor my gerangskik; besig om die dag se doen en late neer te pen, soekende vir woorde in die woordeboek, sketse maak, ’n gesukkel met strofes, of bloot net wegsak in ’n wesenlose en bevredigende vervoering van die gees terwyl die sneeu van my stewels afsmelt.

’n Bejaarde vrou het met die trappe afgestap gekom en naby die stoof gevestig geraak met haar naaldwerk. Toe sy my loopstok en rugsak en die plassie smeltende sneeu opmerk, het sy met ’n glimlag gesê: “Wer reitet so spat durch Nacht und Wind?” My Duits wat nou vyftien dae oud was, het dit só verstaan: “Wie ry so laat deur nag en wind?” Maar die “reitet” was vir my ’n raaisel. (Hoe was dit moontlik vir my om te weet dat dit die eerste versreël van Goethe se beroemde Erlkönig was, en wat selfs beroemder gemaak is deur Schubert se musiek?) Wat, ’n vreemdeling? Ek het geweet wat om op dié wenk te sê, en kon hervat met: … “Englischer Student … zu Fass nach Konstantinopel.” Ek kon myself ’n pluimpie gee. “Konstantinopel?” het sy gesê. “Oh Weh!” O wee! So ver! En dit in die middel van die winter. Hierna het sy verneem waar ek die volgende dag, oujaarsdag, sou wees. Êrens op die pad het ek gesê. “Jy kan nie êrens in die sneeu op Silvesterabend gaan rondploeter nie!” het sy geantwoord. “En sê my, waar slaap jy vanaand?” Daaraan het ek nog nie gedink nie. Haar man het ’n rukkie tevore binnegekom en die gesprek toevallig gehoor. “Bly by ons,” het hy gesê. “Jy moet ons gas wees.”

Hulle was die eienaar en sy vrou en hulle name was Herr en Frau Spengel. Bo in my kamer volgens my gasvrou se opdrag, het ek my vuil wasgoed opgediep – dit was die eerste keer sedert my vertrek uit Londen – en dit aan die bediende oorhandig: en gewonder hoe ’n Duitser oor die weg gaan kom as hy, soos ek, op ’n sneeuerige Desembernag by The Mitre in Oxford opdaag.

~

Hierdie palatynse son was die sterwende pit van 1933; die laaste oorblyfsel van daardie eienaarlose agterste gedeelte van die seisoene wat strek vanaf die wintersonstilstand tot by nuwejaar. “Tis the year’s midnight … the whole world’s sap is sunk.”

Daardie aand by die herberg het ek opgemerk dat ’n jong kêrel met woeste hare wat by die tafel langs my gesit het, my met ’n kille blik aangegluur het. Was dit nie vir die bleekblou oë wat plat teen sy kop gesit het soos ’n haas s’n nie, kon hy ’n albino gewees het. Hy het skielik al struikelend opgestaan, na my toe gekom, en met ’n sardoniese glimlag gesê: “So? Ein Engländer? Wunderbar!” Toe het sy gesig in ’n masker van haat verander. Hoekom het ons die Duitse kolonies gesteel? Waarom kon Duitsland nie ’n vloot en ’n ordentlike weermag hê nie? Het ek gedink Duitsland gaan bevele neem van ’n land wat deur Jode regeer word? ’n Katalogus van beskuldigings het gevolg, nie te luidrugtig nie, maar tog duidelik en fel geartikuleerd. Sy gesig wat amper teenaan myne was, het my laat gril met uitgerekte vlae van schnapps-asem. “Adolf Hitler sal dit alles verander,” was sy laaste woorde. “Dalk het jy dié naam al gehoor?”

Fritz het met ’n verveelde gekreun sy oë toegemaak en gebrom: “Um Gottes willen!” Toe het hy hom aan sy elmboog gevat met die woorde: “Komm Franzi!”; en nogal heel verrassend het my beskuldiger toegelaat om na die deur begelei te word. Fritz het weer kom sit en gesê: “Ek is so jammer. Jy kan sien hoe dit is.” Gelukkig het die ander tafels niks agtergekom nie en gou was die haatlike oomblik vervang deur ’n gefeesvierdery en praat en wyn en later, deur te sing om so St. Silvester se waak in te lui. En teen die tyd wat die eerste klokke van 1934 buite gelui het, het alles verenig in ’n stralende beneweldheid van musiek en heildronke en hartlike begroetings.

Frau Spengel het daarop aangedring dat dit belaglik was om op nuwejaarsdag die pad te vat; dus het ek ’n verdere vier en twintig uur bestee deur in die dorp rond te wandel en die kasteel te besoek. Ek kon ook lees en skryf, en gesels met dié goedhartige, gawe en beskaafde familie. (My verblyf by die Rooi Os sou later blyk te gewees het een van die verskeie hoogtepunte van my herinneringe wat nie geswig het teen die vernietigende gestemdheid van die oorlog nie. Ek het baie daaraan teruggedink.)

~

Na ek dié woorde geskryf het en gewonder het of ek die naam Spengel reg gespel het – en ook om uit te vind wat van die familie geword het – het ek skielik impulsief ’n brief aan die Rooi Os gestuur, geadresseer aan “die eienaar”. ’n Pragtige brief van Fritz se seun – gebore in 1939 – het my vertel dat nie alleen was beide die gasheer en gasvrou oorlede nie, maar Fritz het in Noorweë gesterf (waar die eerste bataljon van my eie regiment daardie tyd in swaar gevegte betrokke was) en is in 1940 in Trondheim begrawe, ses jaar na ons ontmoeting. Die huidige Herr Spengel is die sesde generasie van dieselfde familie wat hierdie genoeglike herberg besit en bestuur.


Next

Previous