Kampvuurkarmenaadjies

Posted on May 21, 2014 by Cape Rebel

 

Uit Polfyntjies vir die Proe 
deur Dr. C. Louis Leipoldt

 

Mak vleis, of dit nou skaap- of varkvleis mag wees, is wat die kamplewe betref altyd op sy beste in die gedaante van karmenaadjies. Om hulle behoorlik gaar te maak, het jy ’n warm vuur nodig, van hardekool in Transvaal of van doringboomhout, en hier in die suidelike geweste van enige hout wat mooi kole maak. Ons het in die Kaapprovinsie die voorreg dat ons oor die kole ’n laag renosterbos kan plaas, wat aan die karmenaadjie ’n eienaardige geurige smaak verleen, maar dit is ’n raffinement wat by die meeste kampeerplekke ontbreek, en as plaasvervanger daarvoor kan ons die vleis invrywe met kruie, na verkies word.

Maar kies jou karmenaadjies goed en sorg dat hulle sag en teer is. Klop hulle eers met ’n skoon stukkie klip of met ’n stuk hout – nie te hard nie, want jy moet nie die weefsels stukkend slaan nie; jy moet hulle net ’n bietjie kneus om die styfheid daarvan weg te kry. Sout hulle in; ’n grypie fyn gemmer in die sout kom van pas, en sommige mense hou baie van koljander of anyssaad. Droog hulle goed af; ’n nat karmenaadjie braai nooit soos hy moet nie.

Sit hulle dan op die rooster; as jy nie een saamgebring het nie, kan jy desnoods van Oom se doringdraadheining een maak, maar in die algemeen is dit verkiesliker om jou eie saam te bring. Smeer eers ’n bietjie vet op die rooster en sorg dat dit goed warm is voordat jy die vleis daarop lê. Drie, vier kan tegelykertyd die vuurproef deurstaan, maar pas hulle goed op en sorg dat jy hulle omdraai sodra hulle aan die een kant mooi bruin is. As hulle gaar is, bedien dadelik met of sonder ’n klont botter. As daar sulke oorbeskaafde goed is soos messe en vurke, dan is die klont botter ’n aanbeveling, maar ’n karmenaadjie moet jy eintlik eet soos koning Lodewyk die Veertiende altyd syne geëet het – met jou vingers. Sy Majesteit het dit egter aan tafel gedoen, nie as hy gekampeer het nie. Sy liefling, tannie De Maintenon, het dit so onhebbelik gevind dat hy altyd sy baadjie – nogal met die Goue Vlies daarop – bevuil het met die druppende vet dat sy aan die kok bevel gegee het dat die koning se karmenaadjies altyd opgedis moet word met ’n stuk papierkant om die been. Daardeur kry ons Cotelets à la Maintenon, wat niks anders is as skaapkarmenaadjies met ’n verfrommelde stukkie papier om die stukkie been nie. Om die waarheid te sê, soos ons hulle gewoonlik nou in die hotels kry, is daar nie veel onderskeid tussen die papier en die vleis wat smaak en sappigheid betref nie.

Sorg dus dat jou kampvuurkarmenaadjies nie onder so ’n verwyt sal ly nie. Hulle moet geurig, sag en smaaklik wees. En dis nie ’n maklike saak om dit alles reg te kry met ’n rooster nie. Daarom verkies sommige mense om hulle in ’n pan te braai. Ek het daar niks op teë nie; ’n in die pan gebraaide kampkarmenaadjie kan iets heerliks wees, maar dit kan ook uiteindelik net die teenoorgestelde wees. Alles hang af van die manier waarop dit gebraai word. ’n Behoorlike karmenaadjie moet al sy sappigheid behou, dus moet die vuur gloeind-warm wees, om die oppervlakte van die vleis goed te skroei, en daarna moet dit net ’n rukkie deurbraai. Die resultaat is ’n stukkie mollig-sappige vleis wat amper wegsmelt in jou mond.

Wat om daarmee saam te eet? Wat my betref, ek kan my niks beters voorstel nie as ’n stuk wit plaasbrood, goed met plaasbotter gepleister, met sy binnekant net so sag soos die vleis behoort te wees, en met ’n mooi goud-bruin kors waarop jou tande, of hulle nou kunstande of natuurlikes is, met welgevalle kan byt. Groente en ander toevoegsels – nou ja, ek weet dat die kampgasvryheid gewoonlik dit alles byderhand het, maar ek dink dit is oorbodig. ’n Goeie sny brood en ’n karmenaadjie – hulle pas by mekaar net soos man en vrou by mekaar pas, en om hulle van mekaar te skei, is ’n aanstoot en ’n sonde.

29 Maart 1946

Posted in Afrikaans


Next

Previous