Fassinerende storie van die ‘swemmers’

DIE BURGER, 30 MEI 2015 


Die groot Boere-ontsnapping

Willie Steyn, CEDERBERG, R250
deur Andre Gouws

Die “vyf swemmers” (pres. Paul Kruger se benaming) was Boere-krygsgevangenes wat in die Anglo-Boereoorlog van ’n Britse tronkskip in die hawe van Colombo, Ceylon, ontsnap en ’n epiese wêreldreis aangepak het terug na Suid-Afrika. Dié boek is ’n eerstepersoonsvertelling deur Willie Steyn, een van die ontsnaptes.

Die verhaal klink amper te vergesog om waar te wees, maar dit is nie fiksie nie. Tonele skuif van die slagvelde van Suid-Afrika na Ceylon, die Midde-Ooste, Rusland, Duitsland, Nederland en die Namibwoestyn. Die verhaal is vertaal uit die oorspronklike Nederlands. Dié teks is ingesluit by dié publikasie.

Steyn begin met ’n gestroopte vertelling van die begin van die oorlog en die eerste veldslae waaraan hy deelgeneem het, tot die dag waarop hy en sy makkers gevange geneem is (reeds op die derde bladsy), in Junie 1900, en hoe hulle na Ceylon gebring is.

Die verhaal is meesleurend. Hul ontsnapping was grotendeels suksesvol danksy die hulp van ’n Russiese skip wat hulle in Colombo opgepik en Rusland toe gebring het.

Die Russe het baie moeite gedoen om die ontsnaptes in die hawe van Aden weg te steek waar die Britte hulle gesoek het. Die Russiese bemanning het hulle ook gehelp om Rusland, wat blykbaar ook honderd jaar gelede ’n
moeilike land was om binne te gaan, sonder paspoorte in te glip.

Oral waar die “vyf swemmers” in Rusland en Europa gegaan het, is hulle op die hande gedra. Hulle was ook gereeld in die geselskap van “jong dames”.

Steyn beskryf al die groot wêreldstede waar hulle aangedoen het – St. Petersburg, Berlyn, Amsterdam …

Hy skryf die enigste mense wat hulle in Europa stug behandel het, was amptenare in Kruger se gevolg in Nederland; mede-Afrikaners. Hy is ook nie vreeslik opgetrek met die jong Afrikaner-“drosters” in die “Boere Tehuis” in Amsterdam nie. Hulle is “in die fleur van hul lewe” en “sit en teer soos parasiete op die edelmoedigheid van ons vriende, die Hollanders”.

Net wanneer ’n mens dink daar is nie meer ruimte vir nog avonture nie, pak die “vyf swemmers” op hul terugtog na Suid-Afrika ’n maand lange reis te voet deur die Namibwoestyn en die barre Noord-Kaap aan.

Die groot Boere-ontsnapping is ’n reisverhaal van meer as honderd jaar gelede oor eksotiese plekke in Afrika, Asië en Europa – ’n heerlike (waarskynlik vir die meeste modern lesers heel onbekende) geskiedenisverhaal en dit lewer interessante maatskaplike kommentaar oor die mense en die tyd van die Anglo-Boereoorlog.

– Andre Gouws is redakteur van Grafika24 en ’n filatelis wat spesialiseer in die krygsgevangenekampe van die Boereoorlog.