My broers is nie ver weg nie

Posted on March 30, 2020 by Cape Rebel

Klik op die beeld om na die podgooi te luister

Uit Met die Boere in die veld
deur Sarah Raal

 

Met geen bepaalde bestemming in gedagte nie, trek ons nou maar sommer in ’n rigting, om net van die plaas en die treinspoor af, weg te kom. Dit gaan maar stadig, en ook met baie moeite. Die osse wat sommer enige manier ingespan is, wil nie gelyk trek nie. Ons volg maar die rigting na Toomfontein. Agter die berg langs, oor die vlakte, kom ou Sam met die trop skape aan. Op Toomfontein wag ons toe, totdat Sam dié middag met die vee aankom. Daarvandaan laat ek hom na Vlakfontein toe trek – daar sou hy my kry, en dan kon ons weer verdere reëlings tref.

Op Vlakfontein het ek toe weer omtrent drie weke lank, stil en rustig gebly. Dit was nog egter ver van my broers af, en daarby het dit ook maar moeilik gegaan met die klomp vee, wat moes opgepas word.

Tot my grootste vreugde, kry my broers verlof om by kommandant Nieuwoudt se laer aan te sluit. Nou is hulle baie nader aan my, en hulle kon my dus ook beskerm, terwyl ek ook meer vir hulle kon doen, wat betref klere en ander benodighede. Om nog veiliger en nader aan hulle te wees, trek ek van Vlakfontein af, Boomplaas toe, ’n ander plaas ongeveer agt myl daarvandaan, en omtrent ses myl vanwaar my broers gestasioneer was.

Ek het toe ses weke lank op Boomplaas gebly, met die hoop dat die oorlog gou sou eindig, want die boerdery met die skape het baie moeilik begin word. Dit was ’n groot klomp goed, en die wilde-honde en jakkalse het ook nie weggebly nie. Ek het ook glad nie tuis en op my gemak gevoel nie. Ek het ’n eienaardige vrees gehad vir die groot berge met die diep, donker klowe vol bobbejane. Die grafte van offisiere wat daar was, en die spook-stories wat vertel is, het die plek nog minder aantreklik gemaak. Dit is die plaas waar die slag van 1848 plaasgevind het.

Ou Tryn hulle het my getrou bygestaan, en het ook nog steeds by my in die huis geslaap. Dan het ek ook nog my getroue ou hond gehad, en ’n rewolwer wat my broers my gegee het, sodat ek darem taamlik gewapen was.

’n Eienaardige ondervinding het my te beurt geval, onderwyl ek nog daar gebly het. Ons het, soos gewoonlik, die hele huis toegemaak, en gaan lê. Omtrent elfuur, hoor ons iets. Nero, my hond, het dit ook gehoor en draf knor-knor van die een venster na die ander. Ek paai hom net dat hy nie moet blaf nie. Ou Tryn het ook geskrik, en is hier vlak voor my bed, en wil net by my weet wat aangaan. Meteens gee Nero ’n harde blaf, en spring teen die deur op; en toe ek weer sien, sit ou Tryn langs my in die bed. Hoe ek ook al probeer om haar vrees weg te praat, sy hoor niks, en van uitklim uit my bed is daar geen sprake nie. Sy sê ek moet eers ’n skoot skiet, om sekerheid te kry, anders klim sy nie uit nie. Ek kon niks anders doen nie, en skiet toe maar ’n skoot deur die deur, en sit toe weer stil en luister. Toe dit weer alles stil is en daar niks te voorskyn kom nie, gaan ou Tryn haar beddegoed haal en kom lê vlak voor my bed. So het ons die nag deurgebring, sonder om te slaap.

Vroeg die volgende môre, is ons uit om te kyk wat aangegaan het. Tot ons verbasing, vind ons die kombuisdeur wyd oop, met die hele slot uitgesaag. Verder vind ons ook dat ’n klomp van ons goed uit die spens gesteel is. Dus was dit maar net ’n gewone dief wat ons so die skrik op die lyf kom ja het.

Dit was toe die sesde week dat ek hier op Boomplaas was, en die gebeurtenis van die vorige nag maak my nog skrikkeriger vir die plek. My broers sien ek dikwels. Hulle moet hier verby, as hulle die spoor gaan opblaas, of uitgaan op verkenning. Dan kom hulle gewoonlik by my aan.

Die oggend ná die stelery, kom van hulle my sê dat hulle die volgende aand by my kom eet. Die volgende oggend is ek vroeg uit, om alles vir hul koms reg te kry, en ook vir hulle ’n lekker ete voor te berei.

Teen die middag is alles omtrent klaar, en gaan ek in my kamer voor die venster sit, en werk. Ek raak so verdiep in die naaldwerk dat ek nooit opmerk dat daar ’n klomp perderuiters aankom nie; en eers toe hulle op die werf is, merk ek op dat dit wemel van die Kakies. Ek skrik so dat ek sommer opspring om uit te gaan; maar voor ek nog buite kom, storm hulle die huis in, en snuffel al die vertrekke deur. Naderhand gee hulle pad, maar nie voordat hulle my beroof het, sodat ek dié aand nie eens ’n stukkie brood gehad het om te eet nie.

Ek bekommer my egter toe maar min oor wat toe aan die gebeure is. My enigste kwelling is wat vanaand sal gebeur, as my broers kom. Hulle weet niks van die vyand se bewegings nie, en sal dus houtgerus en onbewus van die gevaar, hier aangery kom. Nee, ek moet ’n plan maak. Ek moet hulle waarsku. Maar hoe?

Die offisiere kom in en sit in die sitkamer, en laat my roep. Gou waarsku ek ou Tryn om niks te sê nie, sy weet niks van die Boere af nie, en sy kannie verstaan as hulle met haar praat nie. Ek was nog besig met ou Tryn, toe is daar al weer een, om my te sê dat die kommandant my wil sien.

Toe ek by die sitkamer instap, sit dit vol Engelse, en hulle lag, gesels en rook. Ek doen alles in my vermoë om myself te beheer. My senuwees wil met my op loop gaan; ek is bang, skaam en kwaad, alles deurmekaar. Toe begin die ou met sy kruisverhoor.

“Wat kan jy ons van die Boere vertel? Waar is hulle? Sien jy hulle dikwels?” en so aan, gaan die ou voort. Hy praat egter in ’n sagte en vriendelike toon, en dit lyk nie of hy my te hard gaan behandel nie.

Ek sê toe aan hom: “Kyk, dis tee-tyd; ek gaan eers gou vir julle tee maak, dan kom sit ek en vertel julle alles.”

My bedoeling is egter om tyd te wen, om my planne agtermekaar te kry. Toe ek uitstap, gaan een van hulle voor die klavier sit, en begin so treurig Home, Sweet Home speel. ’n Koue rilling gaan langs my ruggraat af, by die aanhoor van die bekende ou melodie. Hy dink natuurlik aan sy huis, maar wat van myne? Ek wil dit liewer nie hoor nie, en druk die deur toe. Ná ’n rukkie is die tee klaar, en ou Tryn neem dit in, en ek gaan ook in, en gaan langs die klavier staan terwyl hy nog speel. Ek het my storie nou taamlik agtermekaar. Hy hou toe op met speel, en vra my weer wat ek hulle kan vertel. Ek sê dat ek van die Boere omtrent niks weet nie. Ek sien hulle nooit. Maar hier is ’n patrollie burgers …

“Waar? Waar?” val hulle my sommer in die rede.

Ek weet nie waar nie. Hulle bly nooit op een plek nie. Ek gaan toe voort en vertel hulle dat ’n broertjie van my by die burgerpatrollie is. Hy wil nie meer veg nie, want hy sê hulle sal die vyand tog nooit wen nie, en alles is al so skaars, en dat ek hom moet laat weet sodra ’n Engelse laer hier opdaag, want hy wil maar liewer kom oorgee, en ook kamp-toe gaan.

“Maar,” vra hy, en hier vra hy my amper vas, “hoe weet jy waar hy is: hulle is dan nooit op een plek nie?”

“O, dis maklik!” antwoord ek. “Ek skryf baie vir hom, dan word die brief onder ’n klip op ’n sekere plek gesit, en hy ken die plek. Dan kom kry hy dit daar, en pos weer vir my ook een.”

Ek wil natuurlik baie graag hê hy moet onder beskerming gaan, en bied dus my perd en saal aan. Dan kan die kleinjong die brief wegbring, voeg ek nog verder by.

Hy kyk na die ander, en dit lyk my hulle is baie huiwerig en teensinnig. Ek loop nou nader na hom toe, neem hom aan die arm, en met ’n smekende huilstem wat ek so pateties moontlik maak, soebat ek hom om tog asseblief my ou broertjie te red. Hy bespreek dit toe weer met die ander, en sê toe aan my: “Goed, skryf maar vir hom in Engels, dan gee jy dit hier dat ek sien.”

Ek neem die skryfpapier, en kom staan by hom langs die klavier en skryf. Uit pure angs dat my planne nog miskien sal misluk, bewe ek so dat ek skaars kan skryf. Hulle raak nou weer aan die gesels, en dit gee my weer moed en maak my minder onseker.

Ek skryf op die eerste vel papier die volgende briefie: “Dear Brother, I promised to let you know. An English force has just arrived. Try to come over at once. Sarah.”

Onopgemerk, lig ek die eerste vel papier op sonder om dit af te skeur, en skryf op die tweede een: “There’s a large English force here. They’re looking for you. Be careful. Don’t come tonight. I’ve been captured.”

Ek hou nou die skryfblok na hom toe, sodat hy kan lees. My hart bons soos ’n voorhammer in my keel. Wat word van my as hy daardie eerste vel papier oplig en die tweede sien? Op daardie oomblik, kon ek nie een woord sê nie. Hy lees egter klaar, en sê: “Dit is goed, stuur dit maar.”

Ewe versigtig, skeur ek die twee velle saam uit, sit dit maar voor hulle in ’n koevert en lak dit toe. Toe begin ek weer normaal asemhaal.

As die kleinjong net eers weg is, dan is alles reg. Hy weet waar om hulle te kry. Ou Tryn het hom voorheen goed touwys gemaak. Hy weet ook van die klip-storie, en sal niks verraai as iemand hom vra nie.

Die offisiere gaan saam uit om die kleinjong te sien vertrek, en gee ook bevel aan die wagte om hom deur te laat. Weinig wis hulle, dat hy nou reguit na die Boerepatrollie toe gaan.

Ek leef en beweeg weer sommer vry en gemaklik. Ek weet dat my brief gou en sonder letsel sy bestemming sal bereik. Die kleinjong ken die veld, en my broers is nie vêr daarvandaan af nie.

 


Next

Previous