Onder Sy Bekoring

Posted on March 04, 2016 by Cape Rebel

Click Here to Play Podcast
Uit No Outspan 
deur Deneys Reitz

Gedurende die eerste paar maande van 1926 het ek die parlement in Kaapstad bygewoon waar ons Nasionalis-teenstanders ons beskuldig het as imperialiste en verraaiers van die Ware Saak, en ons weer het hulle aangekla van rassisme en die uitbuiting van die Afrikaanse sentiment om stemme te werf.

Dié soort van ding was al sedert 1912 aan die orde van die dag, en sal sonder twyfel vir nog ’n generasie of twee aanhou totdat ons die sinneloosheid daarvan insien.

Ten spyte van ons rusiemakery, was ek baie goed bevriend met sommige van ons vyande, van wie die vernaamste my opvolger, die nuwe minister van lande, mnr. Piet Grobler was. Hy was ’n familielid van die ontslape Paul Kruger en ’n heer van die ou skool van wie almal gehou het ongeag die partyverdeeldheid.

Ek het geen kans laat verbygaan om sy regering en sy party aan te val nie, maar ten spyte daarvan het hy my een oggend versoek om ondersoek in te stel aangaande die kwessie van die “bontebok”, ’n seldsame wildsbok wat amper uitgesterf het.

Mnr. Grobler het in die beskerming van die wild en natuurlewe in Suid-Afrika belanggestel, en as gevolg van my vorige ywer in die Sabie-omgewing, het hy die wens uitgespreek dat ek dié saak moes ondersoek. Ek het met genoeë die taak aanvaar. Ek is van ’n motorkar en ’n paar amptenare voorsien, en terwyl die parlement aan hulle pratery oorgelaat is, het ons die pad gevat.

Die bontebok (Damaliscus Pygargus) is ’n groot bok, wit van gesig en wit om die maag met sjokolade-kleurige rug en lieste, en hulle spog met liervormige horings. Vroeër jare het hulle in hulle ontelbare duisende in die kusstreke van die Kaapprovinsie rondgeswerf, maar hulle getalle het nousedae so afgeneem dat hulle amper verdwyn het.

Ondanks die roekelose slagting van ons wild wat nou reeds vir twee eeue plaasgevind het, is dit verrassend dat dit tot dusver slegs die kwagga (’n soort sebra) is wat uitgesterf het. Geen geld of trane sal hom weer lewendig terugbring nie, en nou het ons bedreig geword met die verlies van ’n tipe wat selfs interessanter is.

Dit is in ’n groot mate te wyte aan onoordeelkundige jag, maar ook as gevolg van die feit dat die bontebok sy weiding moes deel met plaasdiere; en in die jongste tye het skaapboere in groter getalle hulle voorgeslagte se weivelde binnegedring.

Saam met my twee metgeselle het ek ’n opname van die situasie gemaak. Ons het die lang strook grond wat tussen Kaap Agulhas en Algoabaai lê, ondersoek, want daar is gesê dat slegs in hierdie omgewing nog ’n paar van hulle oorleef het. Dit was harde werk om so oor die heuwels en valleie van die suide te beweeg, maar na ’n deeglike soektog het ons gevind dat daar altesaam minder as sewentig bontebokke in Suid-Afrika – en dus in die hele wêreld – oorgebly het, so skraal het hulle ruimte van veiligheid geword. Hulle het uit klein groepies bestaan, meestal in die omgewing van Kaap Agulhas (die mees suidelike punt van Afrika), en dit was duidelik dat, as daar nie dadelik opgetree sou word nie, hulle dieselfde paadjie as die uitgestorwe kwagga sou loop.

Uiteindelik het ek ’n geskikte stuk grond in Bredasdorp se distrik gevind. Met behulp van boere uit dié omgewing het ons dit met ’n agt voet hoë draadheining toegespan, en met heelwat moeite het ons sestien bontebokke deur ’n V-vormige toegangsopening in die reservaat ingejaag. Vandag is die res van die bontebokke weg, maar uit daardie sestien diere het ’n trop van meer as tweehonderd aangeteel, en die voortbestaan van Damaliscus Pygargus is verseker.

Met my terugkeer parlement toe, was ek bly om te hoor dat mnr. Grobler ’n wetsontwerp ingedien het om die Sabie te verander in ’n statutêre wildreservaat wat die Nasionale Krugerwildtuin genoem sou word. Kragtens die wet is daar ’n raad van kuratore aangewys en ek is as een van hulle aangestel.

Dit was ’n vriendelike en gawe gebaar, en hoewel dit geensins my renons in die Nasionale regering laat afneem het nie, was ek opreg verheug, want dit het ’n hele nuwe vêrgesig vir my geopen.

Van nou af aan sou dit vir my moontlik wees om gereeld, elke af en toe, die laeveld te besoek, en ek het al hoe meer onder sy bekoring gekom.


Next

Previous